Sáámstaan met onderhandelinge, maan Calle

‘Groepe moenie reg in eie hande neem’

15 October 2021 | Ministeries
Elvira Hattingh

“Onderhandelinge wat deur die regering gelei word, is ons enigste kans op sukses. Ek weet dit is ‘n bitter pil om te sluk, maar dit is hoe demokrasie moet werk.”

Die minister van landbou, water en grondhervorming, mnr. Calle Schlettwein, het onlangs tydens sy bydrae tot die volksmoorddebat ‘n beroep op Namibiërs gedoen om as ‘n eenheid hul ondersteuning aan die regering te bied in onderhandelinge met Duitsland en nie reg in eie hande te neem nie.

“Die belangrikheid van mense se emosies kan nie ontken word nie en ek kan verstaan hoekom afstammelinge van die geraakte groepe intussen sake in hul eie hande wil neem om met die Duitse regering te onderhandel.

“Tradisionele leiers moet egter die proses ondersteun en duidelik wees as hulle advies gee, maar hoofonderhandelinge is die verantwoordelikheid van die regering.

“Met ‘n meerderheidstem van 83% en toe 65% tydens die afgelope verkiesing, verteenwoordig die president en sy regering wel die Namibiese nasie . . .”

“Ons moet as ‘n eenheid saamstaan, slegs dan sal ons ‘n kans op sukses hê om die Duitse regering te kry om sake reg te stel, wat ‘n verskoning asook toepaslike vergoedings insluit. Ons sal nie slaag as ons só verdeeld bly nie,” het hy gewaarsku.

KRITIEK

Schlettwein sê lede van opposisiepartye het die regering egter gekritiseer op die uiteinde van volksmoord-onderhandelinge met die Duitse regering, asook hul benadering tot die proses.

“Die grootste kritiek is dat die regering in drie opsigte misluk het – dit het die kwantumbedrag aanvaar wat nie genoeg is om skade te herstel nie en tweedens, dat die regering toegelaat het dat vergoedingspraatjies ontaard in oorweging vir ontwikkeling – eerder as uitbetalings vir die skade wat aan spesifiek die Ovaherero- en Nama-groepe aangerig is.

“Die regering het ook nie Nama- en Herero-verteenwoordigers toegelaat om die voorste onderhandelaars te wees nie.

“Op die eerste punt – die bedrag van 1,1 miljard euro, wat oor ‘n periode van 30 jaar afbetaal sal word, stem ons saam. Dit is nie eers naastenby wat ons aanvanklik voorgestel het nie en ons glo ook daar moet van voor af daaroor onderhandel word.

“Op punt twee en drie stem ons nie saam nie, want om standpunt in te neem teen die ontwikkelingsbehoeftes van ‘n nasie ondermyn die beginsels van ‘n staat met eenheid asook dié van 'n liberale demokrasie, wat op gelykheid baseer is.

“Ek is oortuig dat in ‘n diverse samelewing waar die meeste Namibiërs oor die afgelope 150 jaar teen onderdrukking en vir gelykheid en vryheid geveg het, kan ‘n demokraties verkose regering net binne die raamwerk van die Grondwet optree. Boonop is dit ‘n regering vir almal,” het hy bygevoeg.

“Ons kan slegs ‘n nasie word as ons erken Namibië behoort aan almal van ons en ons moet sáám teen ongelykheid veg. Dit is noodsaaklik om seker te maak niemand word agtergelaat nie. Benaderings wat verdeel en oorheers, vuur net konflik en verdeeldheid aan,” het hy gesê.

“Ek staan dus ferm by die regering, waarvan ek deel vorm, in sy beginsels om gelykheid te bevorder en ter wille van álle Namibiërs te onderhandel – natuurlik met die fokus op die mees geraakte groepe.

“Ontwikkelingsgebaseerde terugbetalings sal voordele asook ekonomiese geleenthede vir álle Namibiërs inhou, terwyl dit gefokus kan plaasvind in die streke waar die mees geraakte groepe woon.

“Dit bied dan inderdaad 'n sterk en regverdige voordeel vir die Herero- en Nama-gemeenskappe. Dit is die regte benadering en ons behoort nie hiervan af te wyk nie.”

Schlettwein het gesê hy het vroeg in sy lewe reeds besef dat ‘n stelsel met rasseverdeeldheid en –onderdrukking uiters onregverdig is en daarom besluit om by Swapo aan te sluit in hul stryd om vryheid.

Hy sê hul onvoorwaardelike aanvaarding van hom, as ‘n afstammeling van Duitse kolonialiste, het hom nuwe hoop en moed gegee om vir ‘n vry land met gelyke regte vir ’n ieder en ’n elk te veg.

Hy sê die volksmoord wat Namibiërs tydens die Duitse koloniale heerskappy ervaar het, vorm ‘n deurslaggewende en pynvolle deel van die land se geskiedenis en is daarom ‘n beduidende faktor wat getakel en afgesluit moet word.

Hy sê dit was beslis ‘n stap in die regte rigting toe die parlement besluit het die Duitse regering moet genader word sodat afsluiting hieroor gekry kan word. - [email protected]

Soortgelyk

 

Vroeë Kersgeskenk vir die Kankervereniging

6 ure gelede | Kuns en vermaak

Die Kollege van die Kunste (Cota) bied eerskomende Sondag (5 Desember) die Christmas Memories-konsert ten bate van die Kankervereniging van Namibië (CAN) aan. Jürgen Kriess,...

Vrou toets positief vir Omicron in Tseggiese Republiek ná...

7 ure gelede | Gesondheid

'n Finale ontleding by 'n hospitaal in die stad Liberec in die Tseggiese Republiek het getoon 'n 60-jarige vrou wat teruggekeer het van 'n reis...

Shifeta: Regering in gesprek oor reisverbod

7 ure gelede | Toerisme

Die Namibiese regering gaan voort om deur middel van diplomatieke kanale met die relevante owerhede in Brittanje, Verenigde Arabiese Emirate, die Europese Unie en sy...

Nasionale Raad hervat sy sitting

7 ure gelede | Regering

Die Nasionale Raad het vanoggend (Maandag) sy sitting hervat, onder meer om die nuwe Wysigingswetsontwerp op Bewilliging te bespreek.Dit is vroeër deur die Nasionale Vergadering...

Geen sterftes, sewe nuwe gevalle

10 ure gelede | Gesondheid

Die Covid-sterftes bly op 3 573, terwyl sewe nuwe gevalle gister aangeteken is. Dit is 'n positiewe koers van 0,6% en sluit 'n student in....

Wêreld se optrede ‘oneerbiedig, agterbaks, diskriminerend’

21 ure gelede | Gesondheid

Die uitvoerende voorsitter van Ohlthaver & List, Sven Thieme, sê Brittanje, die Europese Unie, Amerika en ander lande se reisverbod op vlugte uit Suider-Afrika is...

G7-lande se gesondheidsministers vergader vandag

21 ure gelede | Internasionaal

Gesondheidsministers van die wêreld se rykste sewe demokrasieë sal Maandag vergader om die nuwe variant van die coronavirus, Omicron, te bespreek.Reuters berig die dringende G7-vergadering,...

Veldbrand ‘buite beheer’

21 ure gelede | Ongelukke

Nadat Republikein vanmiddag ondersoek by die veldbrande in die omgewing van Midgard gaan instel het, het mnr. Cornè Kruger intussen laat weet die vuur was...

Twee bome in die woestyn

21 ure gelede | Gemeenskap

Tanja Bause Langs die pad tussen Uis en Hentiesbaai staan twee apiesdoringbome by ’n piekniekplek. Familie en vriende het dié bome op 30 Augustus 2010...