Slagting van die grotes by Swapo
Slagting van die grotes by Swapo

Slagting van die grotes by Swapo

Heelwat bekende leiers en veterane van Swapo sal ná die afgelope kongres nie meer op die sentrale komitee van die party dien nie.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn



Swapo het vanjaar vir die eerste keer van 'n sebralys gebruik gemaak om die 84 lede van die sentrale komitee te verkies.

Dit was een van die faktore wat daartoe bygedra het dat partyveterane en groot name in die slag gebly het.

Wat ook duidelik is, is dat diegene wat hulle teen pres. Hage Geingob se Harambee-span opgestel en die stryd aangesê het, deur kongres­gangers gestraf is.

Die Harambee-span het in die vroeë oggendure gister skoonskip gemaak en die topvier leierskapposisies van Swapo ingepalm.

Geingob het gemaklik sand in die oë van sy teenstanders, mnre. Jerry Ekandjo en Nahas Angula, geskop toe hulle onderskeidelik 574, 153 en 39 stemme behaal het.

Me. Netumbo Nandi-Ndaitwah is geoormerk om waarskynlik Namibië se eerste vroulike president te word nadat Geingob se tweede termyn ­verstryk. Sy is as visepresident van die party verkies en is in lyn om Geingob as party- en nasionale president op te volg. Me. Pendukeni Iivula-­Ithana moes met 194 stemme en mnr. Helmut Angula met 20 stemme tevrede wees.

Me. Sophia Shaningwa het met 523 stemme teenoor die 243 van mnr. Armas Amukwiyu die pyp gerook om Swapo se sekretaris-generaal te word.

In die wedloop om die posisie van adjunk-sekretaris-generaal het mnr. Marco Hausiku 545 stemme op hom verenig teenoor die 118 van me. Petrina Haingura en die 102 van me. Martha Namundjebo-Tilahun.

Die topvier posisies in die sentrale komitee is gevul. Die sekretarisse van die jeugliga, vroueraad, die raad van oudstes en die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW) het ook elk verteenwoordiging. Hierbenewens dien die 14 streekskoördineerders van die party ook op die sentrale komitee. Die oorblywende 62 setels word gevul deur die 31 vroue en 31 mans wat bo-aan die partylyste by die kongres geëindig het. Geingob stel ook nog ses van sy eie kandidate in die komitee aan.

Van die sogenaamde Swapo-span se leierskapkandidate, mnre. Nahas Angula, Jerry Ekandjo, Helmut Angula, me. Pendukeni Iivula-­Ithana en me. Petrina Haingura, is nie een in die sentrale komitee verkies nie. Mnr. Armas Amukwiya het die sentrale komitee gehaal omdat hy as streekskoördineerder van Oshikoto outomaties 'n lid is.

Ander groot name wat in die slag gebly het, is mnre. Erkki Nghimtina, Henok ya Kasita, Isak Katali, Chief Samuel Ankama, Kazenambo Kazenambo, Joel Kaapanda, Desmond Amunyela, Moses Amweelo, Petrus Iilonga, Paulus Kapia, Willem Konjore, Wilfried Emvula, Immanuel­ Ngatjizeko, dr. David Namwandi en me. Rosalia Nghidinwa.

Nadat die uitslae omstreeks 04:30 gister bekend gemaak is, het pres. Geingob 'n hartroerende pleidooi vir partyeenheid gelewer en sy hand van vriendskap, kameraadskap en versoening na sy opponente uitgesteek.

In sy oorwinningsrede het Geingob gesê nou is daar geen spanne nie, net een Swapo-party.

“My pleidooi is dat ons persoonlike vyandigheid laat vaar omdat ons nie langer kan bekostig om die swaar bagasie van gebelgdheid van een kongres na die volgende te sleep nie. Laat hierdie die laaste kongres wees waar beledigings idees oorskadu. Laat dit die laaste kongres wees waar ons dit moeilik vind om mekaar in die oë te kyk en eenvoudig 'goeie middag, kameraad' te sê.

“Die eerste stap na 'n beter kongres môre, begin met vergiffenis vandag,” het Geingob gesê.

Hy sê die uitslag van die kongres is 'n duidelike aanduiding die party verstaan die behoefte om met die tye aan te pas, sonder om die wese van die party te vergeet.

Geingob het ook die versekering gegee dat hy gereed is om 'n president vir alle Swapo-lede te wees, asook 'n president van eenheid, inklusiwiteit en gedeelde voorspoed.

“Ná die kongres is dit ons plig om agter Swapo se ideale en beginsels te verenig. Vandag gaan nie oor wedersydse verwyte en vergelding nie. Dit gaan nie oor 'hierdie span het gewen en daardie een het verloor nie'. Vandag het Swapo gewen,” het Geingob gesê.

Hy het ook al die kandidate wat om die topvier leierskapposisies van die party en om posisies in die sentrale komitee meegeding het, vir hul deelname bedank. “Terwyl ons om dieselfde posisies meegeding het, het julle nooit opgehou om my kamerade te wees nie,” het hy bygevoeg.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!