Skroef toenemend losser

Gesondheid: Geen voorraad beskikbaar

06 September 2018 | Ministeries
Henriette Lamprecht



Daar is geen skroewe, plate en penne vir ortopediese operasies nie.

Ortopediese toerusting is stukkend en daar is net een ortopediese boor, wat, ás dit werk, glo nie behoorlik gesteriliseer word nie en 'n teaterlys vol pasiënte aan die risiko van sepsis blootstel.

Verskaffers van ortopediese toerusting lewer reeds van Junie af geen toerusting nie omdat rekeninge sedert die begin van die jaar nie betaal is nie.

Traumapasiënte lê vir weke en wag vir nood- ortopediese operasies en ontwikkel druksere en infeksies.

'n Teaterkompleks is ten duurste opgeknap, maar baie van die deure en teaterligte is buite werking, en dokters moet maar self alles van kateters tot verbande en dempers vir operasies aanry.

Volgens 'n verskaffer in die mediese bedryf moet veral pasiënte met 'n fraktuur so gou as moontlik geopereer word.

“Dit is bitter hartseer om te sien hoe hierdie mense nou maar net lê en wag, baie van hulle in erge pyn. Van hulle ontwikkel ook later sepsis en druksere,” het dié bron gesê.

Diensverskaffers is in Januarie betaal en toe nooit weer nie, met “geen teken” van enige betaling in die toekoms nie.

“Ek het ses maande lank toerusting verskaf sonder om betaal te word. Ek kan dit eenvoudig nie meer doen nie.”

Volgens hierdie verskaffer werk die ortopediese boor wat gebruik word ook nie meer nie, omdat dit nooit onderhou is nie.

'n Pasiënt, wat daagliks met erge en verlammende rugpyn worstel, staar die moontlikheid van verlamming in die gesig, omdat daar geen skroewe vir haar operasie is nie.

“Windhoek Sentrale Hospitaal het 'n eersteklas teater met vaardige chirurge, maar geen toerusting om my te opereer en my ruggraat te herstel nie,” het sy gesê.

Sy is haar gesin se enigste broodwinner en haar salaris dek slegs die gesin se huur en haar dogter se skoolgeld.

“Ons het nie 'n kar nie, ook nie enige polisse of spaargeld nie. Ek moet elke keer geld leen om van die kus tot in Windhoek te kom vir die spinale kliniek op 'n Woensdag. Ek leef en werk in konstante pyn en die idee om permanent gestremd te raak, het my hele lewe oorgeneem. Ek moet werk om my gesin te onderhou, ons het niemand wat finansieel na ons kan kyk nie. Ek is ook doodseker daar is honderde soortgelyke gevalle,” het sy gesê.

Nóg 'n pasiënt, wat geval het en 'n ernstige skouerbreuk opgedoen het, moes na verskeie kere se reis van die kus na Windhoek hoor hy moet maar eerder by 'n private dokter gaan hulp soek.

“Die pyn is ondraaglik. Met my eerste ondersoek het ek 'n hand vol Panado's en gout-medisyne gekry. Die diagnose was dat ek onmiddellik geopereer moet word om die breuk te herstel. Nadat ek verskeie kere Windhoek toe is met die hoop op die operasie, was die antwoord daar is geen penne beskikbaar om dit te herstel nie,” het hy gesê.

Ook in dié geval is daar geen finansiële hulp om die operasie privaat te laat doen nie.

“Ek werk vir myself en in my huidige toestand kan ek nie werk nie. Dit beteken ek kry nou geen inkomste nie en het nie geld om huur te betaal of myself te onderhou nie.”

Teen druktyd het die permanente sekretaris van gesondheid en maat­skaplike dienste, mnr. Ben Nangombe, steeds nie op vrae in dié verband gereageer, wat meer as 'n week gelede aan hom gestuur is nie.

Soortgelyk

 

Kobra saai paniek by konstruksieterrein

5 ure gelede | Omgewing

‘n Agressiewe en beseerde Anchieta-kobra, ook bekend as die Angolese kobra, het vroeër vandag vir paniek gesorg by ‘n konstruksieterrein op Otjiwarongo waar werkers besig...

Kraam buite kliniek - verpleegsters geskors

21 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht – Twee verpleegsters wat ‘n hoogswanger vrou by die Okuryangava-kliniek glo weggewys het, is in opdrag van die minister van gesondheid en maatskaplike...

Lewenslank vir Suide-verkragters

21 ure gelede | Howe

Elvira Hattingh en Ronelle Rademeyer - Twee mans wat vroue op Mariental en Tses verkrag en vermoor het, is gister in twee afsonderlike sake vonnisse...

Schlettwein sê oor TIPEEG, FOCAC

21 ure gelede | Regering

Denver Kisting – In die eerste plek is Namibië se ekonomie besig om aan te pas by ’n nuwe pad van groei nadat dit een...

Weer vir 19 September

21 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die Suide met enkele buie in die verre Suide. Elders sal baie tot bloedig warm in die Noorde wees.KUS:...

TransNamib op soek na nuwe direksie

21 ure gelede | Vervoer

Catherine Sasman Die ministerie van werke en vervoer het in 'n openbare kennisgewing aangekondig dat nuwe direksielede vir TransNamib gesoek word. Die huidige direksie se...

Esau: Visvangkwotas kan nie verkoop word

21 ure gelede | Ministeries

Leandrea Louw Die minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Bernard Esau, het gewaarsku visvangkwotas kan nie verkoop word “om vinnig geld te maak nie”....

Help soek na vermistes

21 ure gelede | Misdaad

Tanja BauseDie Namibiese polisie vra die publiek se hulp in die opsporing van twee vermiste mense. Die 14-jarige Niita Fillemon word sedert 19:00 verlede Woensdag...

Grond: Wit boere wíl praat

21 ure gelede | Ministeries

Elvira HattinghDie president van die Namibië Landbou-unie (NLU), mnr. Ryno van der Merwe, sê dit is onwaar dat wit kommersiële boere nie in gesprek tree...