Skroef toenemend losser

Gesondheid: Geen voorraad beskikbaar

06 September 2018 | Ministeries
Henriette Lamprecht



Daar is geen skroewe, plate en penne vir ortopediese operasies nie.

Ortopediese toerusting is stukkend en daar is net een ortopediese boor, wat, ás dit werk, glo nie behoorlik gesteriliseer word nie en 'n teaterlys vol pasiënte aan die risiko van sepsis blootstel.

Verskaffers van ortopediese toerusting lewer reeds van Junie af geen toerusting nie omdat rekeninge sedert die begin van die jaar nie betaal is nie.

Traumapasiënte lê vir weke en wag vir nood- ortopediese operasies en ontwikkel druksere en infeksies.

'n Teaterkompleks is ten duurste opgeknap, maar baie van die deure en teaterligte is buite werking, en dokters moet maar self alles van kateters tot verbande en dempers vir operasies aanry.

Volgens 'n verskaffer in die mediese bedryf moet veral pasiënte met 'n fraktuur so gou as moontlik geopereer word.

“Dit is bitter hartseer om te sien hoe hierdie mense nou maar net lê en wag, baie van hulle in erge pyn. Van hulle ontwikkel ook later sepsis en druksere,” het dié bron gesê.

Diensverskaffers is in Januarie betaal en toe nooit weer nie, met “geen teken” van enige betaling in die toekoms nie.

“Ek het ses maande lank toerusting verskaf sonder om betaal te word. Ek kan dit eenvoudig nie meer doen nie.”

Volgens hierdie verskaffer werk die ortopediese boor wat gebruik word ook nie meer nie, omdat dit nooit onderhou is nie.

'n Pasiënt, wat daagliks met erge en verlammende rugpyn worstel, staar die moontlikheid van verlamming in die gesig, omdat daar geen skroewe vir haar operasie is nie.

“Windhoek Sentrale Hospitaal het 'n eersteklas teater met vaardige chirurge, maar geen toerusting om my te opereer en my ruggraat te herstel nie,” het sy gesê.

Sy is haar gesin se enigste broodwinner en haar salaris dek slegs die gesin se huur en haar dogter se skoolgeld.

“Ons het nie 'n kar nie, ook nie enige polisse of spaargeld nie. Ek moet elke keer geld leen om van die kus tot in Windhoek te kom vir die spinale kliniek op 'n Woensdag. Ek leef en werk in konstante pyn en die idee om permanent gestremd te raak, het my hele lewe oorgeneem. Ek moet werk om my gesin te onderhou, ons het niemand wat finansieel na ons kan kyk nie. Ek is ook doodseker daar is honderde soortgelyke gevalle,” het sy gesê.

Nóg 'n pasiënt, wat geval het en 'n ernstige skouerbreuk opgedoen het, moes na verskeie kere se reis van die kus na Windhoek hoor hy moet maar eerder by 'n private dokter gaan hulp soek.

“Die pyn is ondraaglik. Met my eerste ondersoek het ek 'n hand vol Panado's en gout-medisyne gekry. Die diagnose was dat ek onmiddellik geopereer moet word om die breuk te herstel. Nadat ek verskeie kere Windhoek toe is met die hoop op die operasie, was die antwoord daar is geen penne beskikbaar om dit te herstel nie,” het hy gesê.

Ook in dié geval is daar geen finansiële hulp om die operasie privaat te laat doen nie.

“Ek werk vir myself en in my huidige toestand kan ek nie werk nie. Dit beteken ek kry nou geen inkomste nie en het nie geld om huur te betaal of myself te onderhou nie.”

Teen druktyd het die permanente sekretaris van gesondheid en maat­skaplike dienste, mnr. Ben Nangombe, steeds nie op vrae in dié verband gereageer, wat meer as 'n week gelede aan hom gestuur is nie.

Soortgelyk

 

Lugvaart onder vergrootglas

10 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer - Die internasionale lugvaartwêreld se oë is op Namibië om te sien of hy tydens die universele veiligheidsouditprogram (Usap) van die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie...

Einde van die pad vir 500ppm diesel

10 ure gelede | Energie

Augetto Graig - Die uitfasering van 500ppm diesel begin op 23 November.Die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, sal op dié dag ...

Piepklein en waardevol

10 ure gelede | Omgewing

Tanja Bause Beeskloutjies is unieke plante wat net in die woestyn- en semi-woestyngebiede van westelike en suidelike Namibië en noordelike Suid-Afrika voorkom. By die Alte...

Pragkerk vol bierbottels

10 ure gelede | Infrastruktuur

Tanja Bause Op 'n koppie op die plaas Helme­ringhausen staan 'n kerkie wat met bierbottels gebou is. Die droom van dié kerk het sowat twee...

Weer vir 19 November 2018

10 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie warm tot bloedig warm met enkele donderbuie op plekke.KUS: Gedeeltelik bewolk en koel met miskolle aanvanklik.GETYE BY WALVISBAAI: L...

53 renosters al vanjaar gestroop

10 ure gelede | Omgewing

Francoise Steynberg -'n Onthoringde renoster is in die Suide gestroop en nog een is gekwes.Nadat dié renosterkarkas verlede naweek in die Hardapstreek gevind is, bring...

Grootfontein ontken wanbesteding

10 ure gelede | Regering

Augetto Graig - Grootfontein se geldsake was onlangs onder die vergrootglas toe Namibië se ouditeur-generaal, mnr. Junias Kandjeke, sy kantoor se verslag oor dié dorp...

Noordweste se aardbewings 'n raaisel

10 ure gelede | Plaaslik

Elvira HattinghSedert Maart vanjaar het vyf beduidende aardbewings in die Anker-gebied in die noordweste­ van die land voorgekom - almal het tussen 4,1 en...

Stille getuies van ’n vergange era

10 ure gelede | Toerisme

Tanja Bause – Op die plase Sandvirhaar en Simplon in die suide van die land staan twee kalkoonde wat meer as ’n eeu oud is....