Skole, koshuise in 'toestand van verval'
Skole, koshuise in 'toestand van verval'

Skole, koshuise in 'toestand van verval'

'n Bykomende N$750 miljoen is vir die Versnelde Program vir Infrastruktuur by Skole geoormerk.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Sowat 85% van openbare onderwysgeriewe in Namibië is in 'n toestand van verval, terwyl die ontwikkeling en rehabilitasie daarvan teen 'n slakkepas beweeg.

Die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Katrina Hanse-­Himarwa, het tydens die bespreking van haar begrotingspos gesê die opgradering en opknap van onderriggeriewe bly egter 'n prioriteit met 'n bykomende N$750 miljoen tot die ­ministeriële begroting wat vir die ­Versnelde Program vir Infrastruktuur by Skole geoormerk is.

Volgens me. Katrina Hanse-­Himarwa is N$60 miljoen uit die ministeriële begroting van N$13,8 miljard vir die konstruksie van ­bykomende klaskamers opsy gesit.

N$59 miljoen is vir handboeke vir graad 10 en 11; N$76 960 vir die opleiding van skoolhoofde vir ­hoërskole; N$976 800 vir die evaluering van dié handboeke; N$13,6 miljoen vir weten­skaphulpmiddels; N$10,3 miljoen vir slypskole vir die nuwe NSSCO- ­nasionale eksamens en N$1,6 miljoen vir die ontwikkeling van die Namibië Senior Sekondêre Gevorderde Plaasvervanger (NSSCAS).

Hanse-Himarwa het gemaan die gebrek aan die skep en vul van ­kritieke onderwysposte in die afwesigheid van 'n toegekende begroting het 'n ­ernstige negatiewe impak op onderwysers se werkslading.

Nog 'n uitdaging is die onderwys­beroep se swak beeld in preprimêre en junior primêre fases.

Daarmee saam is toegang tot preprimêre onderrig nie op die gewenste vlak nie, met minder as 50% van graad 1-leerlinge wat dié onderrig ontvang.

Onvoldoende begroting en te min gekwalifiseerde onderwysers vir dié fase bly ook 'n kopseer.

Te min hande in die streke vir die skoolvoedingsprogram veroorsaak swak logistieke bestuur, terwyl die gemeenskap nie baie betrokke by die program is nie.



Spesiale skole en klasse

Toegang tot spesiale skole en ­spesiale klasse is beperk met net 10 skole in die land wat geklassifiseer word as skole vir leerlinge met onder meer leergebreke.

Ook bly leerlinge se prestasie in Engels swak en is die nasionale ­gemiddeld van kandidate wat 'n D en hoër behaal, net 29,8%.

Volgens Hanse-Himarwa is daar 'n behoefte om bykomende onderwysers aan te stel as gevolg van 'n toename in die aantal ingeskryfde leerlinge, sowel as veranderinge in die leerplan.

Volgens die nuwe leerplan is graad 4 nou deel van die senior primêre fase (graad 4 tot 7).

Die junior sekondêre fase bestaan nou net uit graad 8 en 9.

Tegniese en beroepsgerigte vakke is ook in die primêre en sekondêre fase ingesluit, terwyl die kursus vir Basiese Pre-Beroepsgerigte Vaardighede ontwikkel is vir leerlinge met spesiale leerbehoeftes.

Dit sluit leer- sowel as 'n reeks fisieke gestremdhede in.

Van 2019 af val die graad 10- ­eksterne eksamens weg omdat die Junior ­Sekondêre Sertifikaat wat verkry word ná dié eksamens nie meer in aanvraag is nie en werksvereistes meestal 'n Senior Sekondêre Sertifikaat insluit.

Semi-eksterne eksamens sal voor­taan aan die einde van graad 9 geskryf word om bestendigheid van leer­standaarde in alle streke te verseker.

“Leerlinge sal getoets word om te verseker hulle voldoen aan die vaardighede nodig vir vakke op ­dieselfde vlak voordat hulle na die senior ­sekondêre fase beweeg,” het Hanse-­Himarwa gesê.

Kwalifiseringsvereistes vir die Namibië Senior Sekondêre Sertifikaat Gewone Vlak (NSSCO) is ook in ooreenstemming met die huidige leerplan­standaarde van die Internasionale Algemene Sertifikaat vir ­Sekondêre Onderrig (IGCSE), 'n internasionale kwalifikasie, aangepas.

Met betrekking tot die implemente­ring van die nuwe leerplan bly ­bykomende koste vir onder meer nog laboratoriums, klaskamers, hand­boeke en onderwysers 'n uitdaging.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!