Skok en verbasing oor VSA-verkiesing

Namibiese ontleders was, net soos die res van die wêreld, verbysterd oor die skokkende uitslag van die Amerikaanse presidentsverkiesing waarin die Republikeine se Donald Trump ‘n verrassende oorwinning behaal het.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Die politieke amateur en voormalige TV-werklikheidsprogram-ster, Donald Trump, het gister die wêreld se monde in verbasing laat oophang toe dit duidelik geword het dat hy die Demokrate se Hillary Clinton verslaan het om die 45ste president van Amerika te word.

Die nuus is met skok en verslaenheid uit baie oorde ontvang.

Die uitvoerende direkteur van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), mnr. Graham Hopwood, het op navraag aan Republikein gesê Trump het oënskynlik op ‘n golf wit woede teen die status quo en die politieke elite, wat Amerikaanse politiek vir dekades oorheers het, aan bewind gekom.

“Dit was interessant dat die state, Ohio, Pennsylvania en ander, wat uiteindelik die verkiesingsknoop vir hom deurgehaak het, in die sogenaamde “rust belt”-gebiede geleë is wat deïndustrialisering, werksverliese en moeilike ekonomiese tye beleef. Mense wat miskien nie gewoonlik stem of by politiek betrokke is nie, was geïnspireer om te registreer en te stem.

‘n Stem teen Washington-elite

“Hillary het korporatiewe Amerika en die Washington DC-elite verteenwoordig.

Dit was dus duidelik dat baie werkersklas wit Amerikaners nie met haar kon identifiseer nie. Sy het ook onder vrouehaters gely, baie wat hulself nie sover kon bring om vir ‘n vrou te stem nie. As gevolg hiervan was sy nie in staat om (pres. Barack) Obama se koalisie met die jeug, Afro-Amerikaners, Spaanssprekende Amerikaners en liberale wit kiesers in stand te hou nie.

“Die toekoms is onvoorspelbaar. Dit mag wees dat Trump deur sy raadgewers en die Republikeinse establishment in toom gehou word en meer matig sal wees as wat dit tydens sy verkiesingsveldtog wou voorkom.

Vir Amerika en die res van die wêreld wag egter ‘n stamperige pad vorentoe,” het Hopwood gesê.

Ambassadeur Tuliameni Kalomoh, wat in sy persoonlike hoedanigheid om kommentaar genader is, sê hy was “geskok en tot stilstand geruk” met die feit dat die kenners in die Amerikaanse media dit nie sien kom het nie.

“Die verkiesing is oor-geanaliseer deur oënskynlik grootkoppe in die media wat ''n verkiesingsoorwinning vir Clinton voorspel het.

“Ek is verstom oor die marge van sy oorwinning en ook die aantal state wat vir Trump gestem het.

“Dit kan wees dat Trump ‘n ander beleid voorgestaan het toe hy veldtog gevoer het en vir die vrese en onveiligheid van Amerika gespeel het, maar dit moontlik nie sal kan implementeer nie.

“Die anti-immigrasie vyandigheid en die teenkanting teen Moslems is ‘n bron van kommer. “Amerika is nie ‘n eiland nie en kan nie in isolasie leef nie. Enige oorbeskerming en afsondering van die ekonomie sal tot groter werkloosheid lei omdat lande onderling interafhanklik is.

“Dit is ook moeilik om te sê hoe die wetgewende proses in Amerika vorentoe gaan vaar met heelwat lede van die Amerikaanse kongres wat heeltemal vyandig teenoor hom is. Hulle sal moet leer om oor die volgende vier jaar, in belang van Amerika se ekonomie en veiligheid, mekaar te akkommodeer. “

“Hy het ook gesê hy sal die hooggeregshof se aangesig verander. Dit is ‘n moeilike situasie, maar miskien is dit te vroeg om nou al gevolgtrekkings te maak,” het Kalomoh gesê.

Trump soek versoening

Trump het in sy aanvaardingstoespraak dadelik onderneem om die diep verdeelde nasie te verenig.

Reg oor die wêreld, soos die eens gevreesde vooruitsig van ‘n Trump-presidentskap as ‘n koue, harde realiteit posgevat het, is die November-verrassing met waarskuwings begroet dat Amerika in ‘n nasionale krisis gedompel is met ‘n leier wat in die woorde van die Britse koerant The Guardian “’n onstabiele verkrampte, seksuele roofdier en kompulsiewe leuenaar” is.

Trump het vir nasionale versoening gevra in sy eerste opmerkings nadat Clinton toegegee het dat sy verslaan is, in ‘n verkiesing waarvan byna geen meningsopname gedroom het nie, en die hoop om die eerste vroulike president van Amerika te word, beskaam het.

“Die tyd het nou aangebreek vir Amerika om die wonde van verdeeldheid te verbind,” het Trump aan ‘n jubelende skare ondersteuners vroeg Woensdagoggend in Amerika gesê en onderneem om ‘n president vir almal te wees.

Obama sien Trump vandag

Met dagbreek het die Withuis gesê pres. Barack Obama het Trump geskakel om hom geluk te wens en hom genooi om hom vandag (Donderdag) te besoek om die bewindsoorgang te bespreek.

Tydens die bitter verkiesingstryd die afgelope twee jaar, wat die demokratiese weefsel van Amerika getoets het, het die 70-jarige miljardêr onderneem om onwettige immigrante te deporteer, Moslems uit die land te verban en vrye handelsooreenkomste op te skeur.

Kommer by bondgenote

Kommer bestaan by Washington se Europese vennote dat die Trump-oorwinning die Westerse alliansie, wat hulle steeds as die toetssteen vir stabiliteit en die regstaat beskou, kan verwoes.

Rusland se pres. Vladimir Poetin het op sy beurt gesê hy wil “volle betrekkinge” met Amerika herstel ná Trump se oorwinning en het hom hartlik geluk gewens.

Leiers van die Europese Unie (EU) Donald Tusk en Jean-Claude Juncker het hom egter “so gou as moontlik” na ‘n EU-VSA spitsberaad genooi om herversekerings oor Transatlantiese bande te kry.

Die hoof van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo), Jens Stoltenberg, het gewaarsku dat “Amerika se leierskap nou meer belangrik as ooit is” nadat Trump tydens die verkiesingsveldtog gesê het Amerika se westerse bondgenote moet ‘n groter deel van die veiligheidsverantwoordelikheid dra.

Trump word op 20 Januarie ingehuldig as Amerika se 45ste president en opperbevelvoerder van die wêreld se enigste ware supermag. Eie berig/Nampa/AFP/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!