Skade van NSSU-toere word steeds bereken

Die winterseisoen is reeds propvol soet en suur vir die groot spansporte op skoolvlak.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Gebrekkige reëlings rakende spanne van die Namibiese Skolesportunie (NSSU) se toere na Suid-Afrika jaag ouers só die harnas in dat hulle weier om die saak bloot daar te laat en aandring dat die hooggeplaastes kennis neem.

Junie en Julie is maande waarin Namibiese hoërskool- én laerskoolspanne in die wintersporte rugby, hokkie en netbal aan provinsiale toernooie in die buurland gaan meeding.

Terwyl goeie uitslae ook sommige spanne op die voorgrond plaas, is die nadraai van sommige toere egter gelaai met ontevredenheid.

Ouers wat duisende dollar vir toerkoste moes bydra, is verstaanbaar ontsteld wanneer hul kinders reeds van die toere teruggekeer het en steeds nie die klerasie ontvang het waarvoor betaal is nie.

Verskeie skriftelike klagtes stroom dus in na die kantoor van die NSSU se nasionale koördineerder, mnr. Sollie Duiker.

HOKKIE

Republikein het ’n skriftelike klag onder oë gehad wat deur die ouers van die o.16 seunshokkiespan na Bloemfontein opgestel is.

Toe die seuns se speelklere (N$500) ontvang is, was die broeke te groot en die hemde so klein dat dit vir geen van die spelers gepas het nie.

As die afrigter nie ’n gebruikte stel klere (nie gemerk “Namibië” nie) saam geneem het nie, sou die span geen drag gehad het om in te speel nie.

Die sweetpakke (N$650) se broeke is ontvang, maar net drie baadjies in totaal. Geen gholfhemde (N$300) is ontvang nie.

Vir die amptelike spanfoto het die o.16-seuns die gholfhemde van die o.14-meisies (te groot vir hulle) geleen, saam met die sweetpakbroeke.

“Dit was ’n verleentheid om elke dag by die hokkieveld aan te kom met spanlede wat verskillende baadjies dra en speelklere wat nie aandui dat ons Namibië is nie. As ouers verwag ons ’n terugbetaling vir die verkeerde en afwesige klerasie.”

Die ouers beweer ook dat die busdrywer ’n spoedkaartjie gekry het op pad Bloemfontein toe. Op pad terug was die ouers tuis ook verras deur die snelheid waarteen die reis gevorder het volgens selfoonverslae uit die bus.

“Dit was ongelukkig dat die bus net ná middernag naby Keetmanshoop ’n koei gestamp het. Niemand is beseer nie en die kinders en hul bagasie is na ’n ander bus oorgeplaas wat hulle na Windhoek gebring het. Ons kan nie help om te wonder of spoed dalk ’n rede vir die botsing was nie?”

Dit word ook uitgewys dat tydens ’n hokkietoer twee jaar gelede na Durban, die busbestuurder vir ekstra inkomste rylopers opgelaai het. “Dit is nie wat ouers sal verwag om te gebeur wanneer hulle ’n vrywaringsvorm teken nie.”

Die hokkietoer na Bloemfontein was ook vir die o.14, o.16 en o.18 groepe.

Uit die geledere van die o.18 meisieshokkiespan word verneem dat die toer sonder ernstige voorval verloop het ... ten minste totdat die terugreis reeds ver gevorder het.

Nadat die busbestuurder op Keetmanshoop brandstof ingegooi het, het hy op Mariental weer stilgehou. Hierdie keer wou die betaling met ’n kaart egter nie deurgaan nie en die drywer het ook nie selfoongeld gehad om die saak te laat hanteer nie.

Die uiteinde was dat die meisies se beskikbare kontant bymekaar gemaak moes word om die brandstof van N$3 000 te betaal. Hoewel die geld glo agterna terugbetaal is, word uitgewys dat sulke dinge nie veronderstel is om te gebeur nie.

• Op die hokkiebaan het die Namibiërs gewys dat hulle kán speel.

Dit was ondanks min of geen oefensessies saam nie, omdat die spanlede van onder meer Windhoek, die kus en die noorde versamel is.

Die Namibiese o.16-meisies het tweede geëindig; die o.18-meisies was derde en die o.16-seuns het vierde klaargemaak.

Die o.16-meisies se afrigter, Maryke Short, sê dit was ’n puik spanpoging met elkeen van die 16 spelers wat op die geleë tyd na vore getree het om die verskil te maak. Uit sy sewe wedstryde het die span vier gewen en drie gelykop gespeel.

RUGBY AKADEMIEWEEK

Die goeie nuus gister was dat die Namibiese span sy tweede oorwinning by die o.18 Akademieweek in die Paarl behaal het.

Die Namibiërs het Griekwas naelskraap met 18-15 geklop, nadat hulle rustyd met 7-10 agter was.

Die wenpunte was ’n briljante strafdoel van die halflyn af deur die heelagter Aljarreau Zaahl (WHS). Hy het twee strafdoele en een doelskop behaal, nadat drieë vroeër deur flank Ethan Feris (Walvisbaai) en vleuel Peace Shimwino (Oranjemund) gedruk is.

Die agtsteman en kaptein Victor van der Watt (Walvisbaai) is as speler van die wedstryd aangewys, nadat Zaahl twee dae tevore dié prys gekry het ná die oorwinning teen die Valke-platteland (41-8).

Op die gebied van beserings het Ethan Feris gister harsingskudding opgedoen, terwyl senter Levert Swartz (WHS) sy dyspier geskeur het. Stut Adriaan Esterhuizen (Whk Gimnasium) het sy enkelligamente geskeur, terwyl senter Retief Blaauw (KPS) met griep moes uitsit.

Soos gebruiklik het die meeste van die reserwespelers in die tweede wedstryd eerste opgedraf.

“Griekwas was fisiek groter as ons en het opmerkings gemaak oor hoe klein AJ Zaahl is. Voorlangs het Namibië sy man gestaan, maar ons agterlyn het nie lekker aan die gang gekom nie. Ons is ook ontwrig toe Danie van der Merwe (skrumskakel, WAP) in die eerste helfte met ’n seer enkel af is en kort daarna gevolg is deur Samuel Poulton (senter, Whk Gim) wat ’n hou teen die kop gekry het,” sê afrigter Ainsley Daniels.

Volgens Daniels het Van der Watt sy toekenning as speler van die wedstryd verdien vir die wyse waarop hy die span gelei het.

“In die laaste minute het ons op die aanval gebly totdat ons die strafskop op die halflyn gekry het waarmee AJ ons laat wen het.”

Die span se laaste wedstryd komende Saterdag behoort soos gebruiklik teen Zimbabwe te wees. Of die Namibiërs dan ’n fikse 23-tal in die veld kan stoot, sal gesien moet word.

“Zimbabwe is ook groot en fisiek, maar ons voorspelers het teen Griekwas opgestaan en hulle voorlangs sag gemaak vir die agterlyn om af te rond,” sê die agterlyn-afrigter, Ryan Assegaai.

NETBAL

Die Namibiese onder 17’s het briljant presteer met ’n tweede eindposisie by die SA All Ages toernooi in Boksburg einde Junie.

Afrigter Emsie Esterhuizen se span het deurgedring om ’n spannende finale wedstryd te speel, waarin hulle rustyd met vyf punte agter was. Die Namibiërs het egter teruggeveg om sekondes voor die eindfluitjie gelykop (15-15) te maak.

“Ons doel was besig om die wendoel te gooi, toe blaas hulle vir een of ander fout en toe teken die Suid-Afrikaners die wendoel aan. Eindtelling 15-16.

“Behalwe vir die o.15’s (22ste) het almal baie goed gedoen, want in elke ouderdomsgroep was meer as 20 spanne. Die Suid-Afrikaners kon nie uitgepraat raak oor die Namibiërs se spel en veggees nie. Die onder 14’s was negende, die o.13’s negende en die o.12’s was elfde,” vertel ’n ouer wat ooggetuie was.

“Ek moet eerlik wees dat die reëlings dié keer heel goed was. Ons as ouers het leiding geneem met die klere en verblyfreëlings. Dan het ons ook die betaling van die borge direk aan die instansies laat doen.

“Ons as ouers het elkeen N$2 500 bydrae per kind gegee vir verblyf en kos wat ons aan die NSSU betaal het en bykomende borge het klere en brandstof geborg.

“Die netbal organiserende komitee van die NSSU het ’n goeie taak verrig en ons as ouers goed betrek. Omdat die meeste van hulle onderwysers is, het hulle ons hulp nodig.”

Volgende is die Cossasa-spele van 21 tot 26 Augustus in Windhoek waar die o.17- en o.13-spanne Namibië sal verteenwoordig. Suid-Afrika stuur ook spanne en goeie netbal is dus in die vooruitsig.

“Ons soek nou weer vir borge vir die Cossasa-spele. Die o.17 en o.13’s het byvoorbeeld net een stel speelklere en omdat ons die gasheer is, moet hulle mos darem mooi lyk. As alles van die ouers moet kom, raak dit te veel…”

O.13- EN O.16-RUGBY

Hierdie twee afgelope toere na Kimberley steek ouers opnuut dwars in die krop vanweë klerasie wat vooraf betaal is en wat selfs na afloop van die toer nog nie ontvang is nie.

Die seuns het op Kimberley in temperature onder vriespunt sonder sweetpakke aangekom en vir hul eerste oefensessie aangemeld. Die Maandagoggend het die ouers inderhaas by ’n kettingwinkel ingevaar en wit kortbroeke aangekoop waarin die seuns toe gespeel het, sonder die kentekens van Namibië of sy borge soos Coca-Cola.

Van die broeke was net in oorgroot beskikbaar en moes omgevou en met pleister vasgeplak word. Uiteraard sou die betrokke spelers met hierdie selfbewustheid op die veld draf.

Die aankoms van die broeke Dinsdag en drie spelers se sweetpakke die Woensdag, asook ’n mooi oorwinning teen Grens het die gemoed bietjie opgehef.

Ouers wat elk N$3 500 plus ekstra duisende vir klerasie opgedok het, sê hul seuns het net klerasie ter waarde van N$1 200 ontvang. Hul navrae aan die spanbestuurders het later aan die lig gebring dat die NSSU se oorskakeling na ’n ander klereverskaffer ’n deel van die probleem is.

In koue weer het die o.16’s net in kortbroeke en dun truie op die pawiljoen gesit om die o.13’s te ondersteun.

Ouers vertel dit was hartverskeurend en onrusbarend om die rugbyseuns agterna in ’n kringetjie te hoor sê dat hulle nie trots voel om Namibië te verteenwoordig nie.

In dieselfde asem is die skade aan die NSSU se reputasie vir vele ouers reeds gedaan en lei daartoe dat hul kinders reeds kort ná die afhandeling van proewe uit die nasionale spanne onttrek word.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!