Skaapboere teen die grond

Dit is nou of nooit vir skaapboere, sê kleinveeboer en Swakara-voorsitter, Julene Meyer.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die Vleisraad van Namibië het ’n spesiale raadsvergadering vir 13 Junie belê om ’n voorlegging vir die vleisbedryf oor die voortslepende kleinveebemarkingskrisis op te stel.

Ofskoon die uitvoerverhouding van die 14 jaar oue bemarkingskema vir die kleinveebedryf tans 1:1 is, beloop die prysverskil tussen abattoirs in Suid-Afrika en Namibië nou sowat N$8 per kilogram.

Julene Meyer, voorsitter van die Swakara-raad, sê 91% van die verlies aan inkomste binne die bedryf word deur produsente gedra, terwyl die res van die waardeketting net 9% van die verlies absorbeer.

Sy het tydens die nuwe minister van landbou, water en bosbou, Alpheus !Naruseb, se verkenningsbesoek op 17 Mei aan die Vleisraad die krisis waarin die kleinveebedryf hom bevind, skerp benadruk.

“Ons is by ’n keerpunt en die situasie gaan vinnig nóg slegter word as die ministerie nie die uitvoerbeperking vir ’n tyd lank opskort nie.”

Sy het daarop gewys dat die skema een sektor (uitvoer-abattoirs) ten koste van die ander sektor (skaapboere) bevoordeel.

“Daar móét na die primêre produsent van die produk, in hierdie geval die skaapboere, gekyk word. As die regering dit nie doen nie, gaan skaapboere van hul skape ontslae raak omdat dit nie meer ’n lonende produk is nie,” het sy gesê.

Paul Strydom, hoofbestuurder van die Vleisraad, het ter stawing hiervan grafieke aan !Naruseb gewys wat toon dat die bemarking van skape verlede jaar afgeneem het van die langtermyngemiddeld van sowat 1,2 miljoen per jaar, na net sowat 700 000.

“Die verskil in prys tussen wat produsente in Namibië kry teenoor wat produsente in ander lande betaal word, is ook aan die toeneem,” het hy verder gesê.

Piet Gouws, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie, (LPO), het vroeër vanjaar in ’n onderhoud aan Die Boer gesê die kleinveebemarkingskema het die Suide lamgelê en produsente is moedeloos.

“Die kleinveebemarkingskema het op 1 Julie 2004 tot stand gekom met die doel om produsente te dwing om ses skape plaaslik by uitvoer-abattoirs te laat slag vir elke een skaap wat hulle toegelaat word om lewend na Suid-Afrika uit te voer. Dit is later na 1:1 verslap.

“Die doel was om waarde toe te voeg, maar die afgelope byna 14 jaar is dit dié grootste remskoen in hierdie bedryf. Baie meer werksgeleenthede is vernietig in die primêre sektor van die bedryf as wat daar deur die uitvoer-abattoirs geskep is.

“Ons is dankbaar dat die skema tans 1:1 is, maar beklemtoon steeds dat dit ’n enorme neerdrukkende effek op die ekonomie in die Suide het. Verder het die skema ook ’n emosionele impak op boere.

“Die LPO het al verskeie kere gesê produsente kan nie verantwoordelik gehou kan word vir die subsidiëring van die res van die waardeketting nie en kan ook nie nywerheidsontwikkeling in die land finansier nie,” het Gouws gesê.

KONSENSUSDOKUMENT

In 2016 het die bedryf op ’n nuwe strategie vir die pad vorentoe ooreengekom en ’n konsensusdokument is op 7 November daardie jaar aan minister John Mutorwa (die vorige minister van landbou, water en bosbou) voorgelê.

Daarin is die uitfasering van die skema voorgestel. Hy was in September 2017 op die punt om dit aan die kabinetskomitee op handel en ekonomiese ontwikkeling voor te lê, toe Farmers Meat Market aangekondig het dat hy sy abattoir op Mariental gaan sluit en die dokument eers teruggehou is.

Intussen is Mutorwa met !Naruseb vervang en die konsensusdokument oor die toekoms van die kleinveebemarkingskema het steeds nie voor die kabinet gedien nie.

!Naruseb het egter tydens sy ontmoeting met die Vleisraad onderneem om vas te stel wat die vordering binne sy ministerie is en aan die saak aandag te gee.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!