'Sinistere' skuiwe bekommer ontleders

30 July 2020 | Politiek
Ronelle Rademeyer - Politieke besluitneming by die aanstelling van die hoof van die Teenkorrupsiekommissie (ACC) bekommer politieke ontleders en akademici.

Een ontleder meen selfs die sleutelskuiwe by die ACC en in die polisie midde die Fishrot-ondersoek, is “sinister en hoogs verdag en die tydsberekening net té toevallig”.

Mnr. Graham Hopwood, uitvoerende direkteur van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), meen ter wille van die onafhanklikheid van die ACC behoort dié agentskap vir korrupsie-ondersoeke se uitvoerende hoof nie deur die eerste minister aangestel te word nie.

Hy het by navraag reageer op die aankondiging verlede week dat mnr. Tylvas Shilongo, ’n senior bestuurder by die Namibië Sentrale Intelligensiediens (NCIS), vir mnr. Hannu Shipena as uitvoerende direkteur van die ACC vervang.

Mnr. George Simataa, kabinetsekretaris, het Donderdag bekend gemaak dit is een van die staatsdiensskuiwe waarop die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, besluit het. Shipena word op 1 Augustus die nuwe uitvoerende direkteur en rekenkundige beampte by die Nasionale Raad vir Hoër Onderwys.

Hopwood sê die ACC se status behoort dieselfde as dié van die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) te wees en dit moet nie ’n uitvoerende direkteur as hoof hê nie.

Mnr. John Nakuta, hoof van die departement openbare reg en regsleer aan die Universiteit van Namibië (Unam), meen die skuif by die ACC laat die wenkbroue ewe veel lig as dié redes vir komm. Nelius Becker, hoof van die polisie se direktoraat vir kriminele ondersoeke, se verskuiwing om op 1 September by die Instituut vir Forensiese Wetenskap by dr. Paul Ludik oor te neem.

Die aankondigings oor hierdie skuiwe is nege dae uit mekaar gedoen.

“Shipena se skuif is net so verdag en twyfelagtig as dié van Becker. Ons laat ons nie om die bos lei deur die ander skuiwe van uitvoerende direkteurs wat aangekondig is nie. Dit is ’n slenter om die Hannu Shipena-skuif minder opvallend te maak,” meen Nakuta.

Hy meen beide Becker en Shipena se skuiwe is “sinister en hoogs verdag en die tydsberekening is net té toevallig”.

Nakuta sê verskillende aspekte van onafhanklikheid is belangrik by agentskappe soos die ACC, naamlik politieke, funksionele, operasionele en finansiële onafhanklikheid.
“Dit moet so wees om teenkorrupsie-agentskappe toe te laat om sonder vrees of guns te werk. Politieke aanstellings het geen plek as ons dié onafhanklikheid en onpartydigheid wil hê wat deur ons Grondwet beoog is nie,” sê hy.

POLITIEKE BESLUIT

Dit bekommer Hopwood dat aanstellings by die ACC steeds grotendeels ’n politieke besluit is. “Jare gelede was daar sprake dat die pos geadverteer sou word om dit te depolitiseer, maar dit is nooit deurgevoer nie,” sê hy. Hy meen die ACC behoort self die aanstelling te maak.

Wat hom verder bekommer, is dat die NCIS self van korrupsie beskuldig is. Die land se spioenbaas, mnr. Philemon Malima, het hom sowat drie jaar gelede onsuksesvol tot die hof gewend in ’n poging om die media te muilband en te keer dat inligting oor die vermeende onreëlmatighede in die koop van plase en ander eiendom vir oudspioene en hul families bekend word. Die inligting wat die koerant, The Patriot, in berigte wou openbaar, het te doen gehad met eiendomstransaksies en het die belastingbetaler nagenoeg N$65 miljoen gekos.

Dr. Gerhard Anders, senior lektor in Afrikastudies en Internasionale Ontwikkeling aan die Sentrum vir Afrikastudies by die Universiteit van Edinburgh in Skotland, sê teenkorrupsie-agentskappe se onafhanklikheid van die presidensie en die politieke elite in die land moet versterk word deur robuuste keuringsprosedures en reëlings vir benoemings en aanstellings.

Hy maak dié opmerkings in ’n artikel getiteld “African anti-corruption agencies and the problem of independence” op die webblad van globalintegrity.org.

“Die sleutel tot die onafhanklikheid van amptenare is dat hul indiensneming nie onderhewig is aan ad hoc- uitvoerende besluite nie. Ander liggame, soos parlementêre komitees en kommissies vir openbare dienste, moet by werwing en toesig betrokke wees,” meen Anders.

’n Oud-Namibiër en voormalige Suid-Afrikaanse diepdekkingsagent het uit Kaapstad aan Republikein gesê “die intelligensiestelsel is die eerste stelsel wat geraadpleeg word as regerings in die moeilikheid is”. Hy het die opmerkings gemaak met verwysing na die Fishrot-ondersoek waarmee die ACC tans besig is en die beweringe dat die regerende party finansiële voordeel by die korrupsie in die visbedryf getrek het.

Sê Nakuta: “Vir my is die vraag waarom? Is daar ’n spioen binne die kommissie nodig? Met ander woorde, is daar iemand nodig om die fluitjie op die fluitjieblaser te blaas?

“Wat ook al die redes is, hierdie stap sal mense eerder ontmoedig as aanmoedig om korrupte praktyke aan te meld. Dit moet derhalwe in die sterkste terme deur alle betrokkenes veroordeel word,” het Nakuta gesê.

IN PAS MET WETGEWING

Simataa het in reaksie op hierdie menings gesê die skuiwe is gedoen in pas met die Staatsdienswet, wet 13 van 1995, wat die eerste minister magtig om op aanbeveling van die Staatsdienskommissie uitvoerende direkteurs van die een ministerie na die ander te skuif.

Verder, sê Simataa, die nuutaangestelde uitvoerende direkteur van die ACC is ingevolge artikel 11 van dié wet verantwoordelik vir die administrasie van die ACC.

“Die ACC ís onafhanklik en dit was nooit die bedoeling van die regering om met sy operasies in te meng nie. Daarom is die uitvoerende direkteur die administratiewe hoof wat na sake soos finansies, personeel, logistiek en ander administratiewe kwessies omsien,” sê hy.
- [email protected]

Soortgelyk

 

‘Regering betaal vir sy sonde’

13 ure gelede | Regering

Jo-Maré Duddy – Vandag se halfjaar-begrotingshersiening sal waarskynlik gekenmerk word deur ‘n nóg groter skuldlas, min - indien enige - verligting en die swaard van...

Veldbrande verswelg Etosha, Nina

13 ure gelede | In beeld

Terwyl daar gister vir die derde dag teen veldbrande in die Nina-omgewing (foto) geveg is, het ’n weeklange brand reeds 253 400 hektaar in die...

Drama oor wit uitlatings stoom voort

13 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Veral ná die pyn van Namibië se verlede behoort elke mens in die land as ’n individu beskou te word in plaas...

Young, Wild and Free Nikhita

13 ure gelede | Mense

Ester Kamati “I am unique because my journey is unique, my experiences in life, my thoughts, my words, and my actions make me unique.”Known for...

Prowealth-beleggers se eis oplaas gehoor

13 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer – Byna 12 jaar nadat die Prowealth-kaartehuis met die selfdood van die stigter van dié beleggingsgroep, mnr. Riaan Potgieter, ineengestort en tientalle beleggers...

Etosha-brand eis 253 400 ha

13 ure gelede |

Elvira Hattingh - Teen gistermiddag het brande wat reeds vir langer as ’n week in die Etosha Nasionale Park woed altesaam sowat 2 534 km2...

Weer, Dinsdag 20 Oktober 2020

13 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Hittegolftoestande sal voortduur in die verre noordelike streke. Tref asseblief voorsorg.BINNELAND: Sonnig en baie tot bloedig warm in die Weste en die ||Kharasstreek. Elders...

Namibia Allied Youth Organisation strikes with essay contest

13 ure gelede | Skole

Enzo AmueleThe Namibia Allied Youth Organisation (Nayo) recently announced the winners of its just-ended Inspiring Through Literature essay contest, which began during Namibia’s first lockdown...

Development Bank of Namibia donates classrooms to rural school...

13 ure gelede | Onderwys

The Development Bank of Namibia (DBN) has donated a block of three classrooms valued at N$457 000 to Sakaria H Nghikembua Primary School in the...