Shonena bly op koers vir hoër louere
Dit was geensins maklik nie en hy moes hard werk teen 'n opponent wat die hele aand aanhou vorentoe kom het. So het Mikka Shonena erken nadat hy Vrydagaand sy WBO Afrika weltergewigtitel vir die tweede keer suksesvol verdedig het. Die Namibiër het sy geveg teen die ervare Mfaume Mfaume van Tanzanië gewen, maar dit was nie naastenby so eensydig as wat die drie plaaslike tellinghouers aangedui het nie, wat tussen hulle skaars 'n ronde aan die besoeker toegeken het. Die promotor Nestor Tobias het agterna gesê met Mfaume se ondervinding en selfvertroue het hy dinge vir Shonena moeilik gemaak, “maar ons het gekry wat ons wou hê, naamlik om te wen. Om twaalf rondes te boks, is goeie ondervinding en die toeskouers het 'n aanskoulike geveg gesien. Mikka sal nou teruggaan gimnasium toe en leer uit enige foute waarop ons kan verbeter. As Mikka sy goeie houe kan opvolg, kan hy 'n klomp manne probleme gee, want hy het goeie tegniek.” Shonena (onoorwonne in 13 gevegte) was voor die geveg negende op die WBO se wêreldranglys en gaan voort in sy strewe om 'n geveg om die wêreldtitel. Foto Andrew Poolman
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie