Serena se woedeaanval verdeel tenniswêreld

11 September 2018 | Sport
Die chaotiese einde aan die vroue-eindstryd by Saterdag se Amerikaanse Ope-tennistoernooi het regoor die wêreld ’n vurige debat veroorsaak.

Die meeste mense is in twee kampe verdeel – diegene wat meen Serena Williams se optrede was skandelik en diegene wat glo sy was ’n slagoffer van ’n oorentoesiastiese en selfs diskriminerende skeidsregterbeslissing.

Tenniskykers en die media verkeer sedertdien in ’n hewige meningsverskil, maar ABCSport berig selfs Williams se medespelers vind dit moeilik om konsensus te bereik.

Die wenner van 23 Grand Slam-titels is tydens Saterdag se wedstryd, wat sy met 2-6, 4-6 teen Naomi Osaka van Japan verloor het, gewaarsku vir ’n afrigtingsoortreding en met ’n punt gestraf nadat sy haar raket stukkend geslaan het.

Die Amerikaner het daarna heftig teenoor die skeidsregter Carlos Ramos uitgevaar en is uiteindelik met ’n pot gestraf.

Williams het steun uit talle oorde ontvang. Die Amerikaanse tennislegende Billie Jean King het haar bedank dat sy “lig gewerp het op hierdie dubbele standaarde”, terwyl Victoria Azarenka meen “dit sou nooit so gebeur het as dit ’n manswedstryd was nie”.

Die gewese speler John McEnroe, berug vir sy uitbarstings op die baan, het ook Williams se kant gekies en gesê dis waar dat mans al met baie erger dinge op die baan weggekom het.

Steve Simon, grootbaas van die WTA-reeks het hom ook agter Williams geskaar.

“Die WTA is daartoe verbind om saam met die sport te werk om te verseker dat alle spelers dieselfde behandel word. Ons glo nie dit was Saterdag die geval nie,” sê Simon.

Maar daar was nie alom ondersteuning vir Williams nie. Die voormalige Aussie-tennisspeler Casey Dellacqua sê sy is nie oortuig seksisme het ’n rol in die voorval gespeel nie.

“Ramos het ’n baie, baie goeie geskiedenis en is ’n uitstekende skeidsregter,” sê sy.

“In hierdie geval voel ek nie seksisme het ’n rol gespeel nie. Die sport het ongetwyfeld oor die jare met kwessies rondom geslag gesukkel en ek dink ons het in daardie opsig ver gevorder.

“Maar wat in hierdie wedstryd gebeur het, sake het met die afrigtingsoortreding begin lostorring en haar emosies het op hol gegaan.”

Dellacqua het Ramos se integriteit verdedig en meen die afrigting van spelers vanuit die spelershokkie is een van die moeilikste oortredings vir skeidsregters om oor te beslis.

“Ramos het al tevore vir (Rafael) Nadal vir tydmors gestraf. Hy is ’n konsekwente skeidsregter en een van die bestes. Dit is sy kollegas wat dalk by hom afsteek.

“Afrigtingsoortredings is ’n moeilike kwessie. Dit gebeur so baie en ons sien dit gereeld. Handgebare, verbale kommunikasie en dies meer word nie altyd deur skeidsregters opgemerk nie.

“Ek kan dus Williams se frustrasie met die situasie verstaan. Dit was ’n emosionele kragmeting, punt, en dinge het net van daar af losgetorring.”

Die Aussie-legende Margaret Court, wat die rekord vir die meeste Grand Slam-titels hou (24), het Williams se optrede veroordeel.

“Ons moes altyd by die reëls hou. Dis jammer wanneer ’n speler groter as die reëls raak,” het sy in ’n onderhoud met The Australian gesê.

Richards Ings, ’n voormalige top-skeidsregter en voorheen ook die ATP-reeks se uitvoerende visepresident vir reëls en kompetisie, sê Williams is die een wat jammer moet sê.

Ings het in die Amerikaanse Ope in 1987 vir McEnroe met ’n punt en toe ook ’n pot gestraf weens vulgêre taalgebruik teenoor die skeidsregter.

“Ons moenie dat haar rekord, so briljant as wat dit ook al is nie, die feit oorskadu dat sy in dié wedstryd die een was wat verkeerd opgetree het nie.” – Netwerk24, Reuters, Indian Express

Soortgelyk

 

Air Namibia vra nóg miljarde

3 ure gelede | Vervoer

Catherine Sasman - Air Namibia se topbestuur sê dit sal tussen N$2,5 en N$3 miljard kos om winsgewend en selfstandiger te word.By ‘n voorlegging aan...

175 ton op 136 wiele

3 ure gelede | Energie

Twee vragmotors het gister met ’n NamPower-transformator van 175 ton daarop deur die hoofstad gery.Die vrag word deur vier voertuie begelei en is op pad...

'Elke dag is die beste van my lewe'

3 ure gelede | Mense

Tanja Bause - Sowat 18 jaar gelede het mnr. George Groenewald se lewe ná ’n motorongeluk handomkeer verander. Ná die ongeluk is hy meegedeel dat...

Weer vir 20 September 2018

3 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die Suide met enkele buie in die verre Suide. Elders sal dit baie warm wees, maar bloedig warm in...

Swakopmunder skuldig aan seksdade

3 ure gelede | Howe

Denver Kisting – ’n 42-jarige man van Swakopmund is die afgelope week op vyf klagte van kinderhandel en vyf alternatiewe klagte van onwelvoeglike dade met...

Prins William kom kuier

3 ure gelede | Gebeure

Francoise Steynberg - Prins William gaan Maandag vir die eerste keer amptelik in Namibië kom kuier ná sy rooikop broer, Harry, die land al 'n...

Interpol-bal aan die rol vir Rooies

3 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting – Die Teenkorrupsiekommissie (ACC) en Interpol span tans kragte saam om ’n oudlanddros terug in Namibië te kry.Adj.komm. Immanuel Sam, Namibië se plaaslike...

‘Goue gonsers’ verower die kus

3 ure gelede | Kuns en vermaak

Leandrea Louw - Walvisbaai Privaat Hoërskool (WBPHS) was vanjaar die gasheer vir die derde, jaarlikse Nictus Napso Kuns- en Kultuurfees. Dit was inderdaad ’n fees...

NSFAF vorder skuld liewer self in

3 ure gelede | Onderwys

Augetto Graig - Die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) het op 14 September ’n ooreenkoms beëindig wat hulle met Tribesmen en die Suid-Afrikaanse New...