Selfdegeslaghuwelik: Néé vir verblyfsreg

Hof beslis oor domisilie-aansoek

02 March 2021 | Maatskaplik
Jana-Mari Smith – 'n Regter in die Windhoekse hoërhof het Vrydag 'n buitelander, wat met 'n Namibiese burger getroud is, se aansoek vir wettige verblyfreg in die land van die hand gewys.

Dit ondanks dat hy en sy eggenoot van dieselfde geslag reeds vir tien jaar in Namibië woon en werk.

Mnr. Eduardo Guillermo Delgado Castañeda het in Januarie 2020 die ministerie van binnelandse sake en immigrasie hof toe gesleep nadat hy uit Namibië geskop is. 'n Immigrasiebeampte het besef dat hy met 'n Namibiër, mnr. Phillip Lühl, getroud is.

Castañeda en Lühl woon sedert 2011 in Namibië en is in 2014 in Suid-Afrika getroud. Hulle het 'n seun wat deur surrogaatskap gebore is.



BETOOG

Tydens die hofverrigtinge het Castañeda betoog aangesien hy reeds vir tien jaar lank met 'n geldige werks­permit in Namibië werk en ook 'n identiteitsertifikaat gehad het, kwalifiseer hy outomaties vir Namibiese verblyfsreg – of domisilie.

Hy het gesê alhoewel Namibië nie selfdegeslaghuwelike erken nie, behoort sy langtermynverhouding en huwelik van sewe jaar relevant tot sy aansoek te wees.

Die menseregteadvokaat mnr. Norman Tjombe het gister verduidelik in die geval waar buitelanders met Namibiërs van die teenoorgestelde geslag getroud is, word domisilie outomaties toegestaan.

As dit egter kom by paartjies wat getroud is in lande waar selfdegeslaghuwelike erken word, is daar talle struikelblokke wanneer hulle in Namibië kom woon – soos gesien kan word uit die talle hangende aansoeke oor dié kwessie in die hoërhof.



VERSKILLENDE WETTE

Regter Thomas Masuku het egter Vrydag téén Castañeda se aansoek beslis.

Castañeda wou hê die hof moes die ministerie se besluit ter syde stel, waarin die hernuwing of verlenging van Castañeda se identiteitsertifikaat afgekeur is.

Masuku het verder Castañeda se aansoek – om te verklaar dat hy wel domisilie in Namibië het – van die hand gewys. Hy het beslis dat Castañeda die onkoste van die aansoek moet dra.

Castañeda het betoog hoewel Namibië se wette nie selfdegeslaghuwelike erken nie, moet die feit dat hy en Phillip vir meer as tien jaar in 'n stabiele verhouding is 'n relevante faktor wees om te bepaal of hy domisilie in Namibië het.

Hy het verder betoog dat hul huwelik deur die gemenereg in Namibië erken word.



BESLISSING IS NEE

Castañeda het tydens die hofsaak betoog hy kwalifiseer vir domisilie vanweë sy verblyf en werk in Namibië, die feit dat hy in besit van 'n identiteitsertifikaat is asook sy verbintenis met sy eggenoot, wat 'n Namibiese burger is.

Regter Masuku het egter, op grond van 'n uitspraak in die hooggeregshof in 'n saak tussen ene Prollius en die ministerie van binnelandse sake en immigrasie, gesê dat buitelanders nie outomaties vir domisilie kwalifiseer as hulle lank in Namibië met 'n werkspermit of ander permitte gewoon en gewerk het nie.

Dié hofsaak het ook gegaan oor 'n buitelander wat plaaslik domisilie wou verkry.

Masuku het verder gesê die sertifikaat van identiteit wat aanvanklik uitgereik, maar toe nie verleng is nie, beteken nié Castañeda het domisilie nie.



HOMOFOBIES

Die Namibiese wet, waarvolgens selfdegeslaghuwelike nie erken word nie, het die afgelope jare onder skerp kritiek deurgeloop, met talle sake hieroor in die hoërhof.

In Julie 2019 is drie Namibiërs wat in die buiteland in selfdegeslaghuwelike getree het en wil hê dit moet wettig in Namibië erken word, versoek om hul sake saam te snoer.

Regterpresident Petrus Damaseb het opdrag gegee dat dié drie hangende sake, sou die aansoekers daartoe instem, gekonsolideer word en gesamentlik deur 'n volbank regters aangehoor moes word.

Al drie die paartjies het talle terugslae ervaar om na Namibië te verhuis, wat diskriminasie deur immigrasiebeamptes insluit.

Later dieselfde jaar het een paartjie hul saak onttrek nadat permanente verblyf aan hulle toegestaan is.

Die ander twee sake duur voort en sal na verwagting in April verhoor word.

 - [email protected]

Soortgelyk

 

Robberts bly in aanhouding

10 ure gelede | Howe

Erwin Leuschner – Die 36-jarige mnr. Daniel (Danie) Robberts bly in aanhouding nadat hy na bewering sy vriend, mnr. Thomas Frederick (Frikkie) van Schalkwyk (69),...

Inentings: Namibiërs wag en kyk

10 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – ’n Wag-en-kyk-benadering en voorkeur vir spesifieke entstowwe is van die redes vir die trae reaksie tot die ministerie van gesondheid en maatskaplike...

Living a purposeful life

10 ure gelede | Mense

Rivaldo Kavanga“I would advise the youth to relentlessly go after whatever they desire unlimited. In pursuit of long-term gains and not short term rather.” Ndakondja...

Weer vir 30 Maart 2021

10 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die verre suide en die Zambezi-streek. Elders gedeeltelik bewolk en warm met verspreide donderbuie. Wyd verspreide donderbuie in die...

Huishoudelike geweld gedy in Kavango-Wes

10 ure gelede | Misdaad

Die naweek is drie sake van huishoudelike geweld in die Kavango-Wesstreek by die polisie aanhangig gemaak. Vrydag om 05:00 het ’n 36-jarige man in die...

Running for those who can’t

10 ure gelede | Skole

In honour of cerebral palsy awareness month and as part of a school project, four learners from Windhoek Afrikaanse Privaatskool ran with children, parents and...

Windhoek kry eie ekonomiese plan

10 ure gelede | Regering

Augetto Graig – Die burgemeester van Windhoek, dr. Job Amupanda, sê die regering moenie terugstaan sodat die private sektor die nasie tot werkskepping en ekonomiese...

Ending the double shift system at schools

10 ure gelede | Onderwys

Rivaldo KavangaBet-el Primary School on Friday, 26 March 2021 received three classroom blocks and a storeroom from The Craton Foundation. The classrooms were donated to...

Mej. Namibië: Hier is die top-16

10 ure gelede | Gebeure

Die eerste ronde van die 2021 Mej. Namibië-skoonheidskompetisie het Saterdag in Windhoek plaasgevind waar die top-16-finaliste bekend gestel is.Die finaliste is Andeline Wieland, Shahida van...