Seibeb kap terug teen Amupanda

LPM oorweeg IPC as Windhoek-vennoot

21 October 2021 | Politiek
Augetto Graig – Die Landless People's Movement (LPM) se adjunkleier, mnr. Henny Seibeb, het Maandag die party se volle steun gegee vir die Windhoekse stadsraadslid me. Sade Gawanas, wat volgens hom die slagoffer is van 'n vervalste brief en valse aantygings deur burgemeester, dr. Job Amupanda, dat sy nege dae ná haar aanstelling vir grond aansoek gedoen het.

Seibeb sê dit sou in elk geval nie onwettig wees indien sy wel aansoek gedoen het nie, maar geregverdig, omdat sy 'n vrou én 'n afstammeling van mense wat van grond in Windhoek onteien is. Maar sy hét nie aansoek of selfs navraag gedoen by die betrokke munisipale beamptes nie, wat ontken het dat hulle ooit so 'n aansoek ontvang het, sê Seibeb.

Die LPM-leier beskuldig die burgemeester dat hy valslik 'n grondaktivis is wat nie die klasse-agenda verstaan nie.

Oor die grondaansoek sê hy: “Dis 'n uitbeelding van die vrugbare verbeelding van Amupanda en sy kabaal. Hulle het haar handtekening vervals en 'n valse brief voorgelê.

“Ons het haar aangemoedig om haar prokureurs te nader,” sê hy.

Seibeb sê die ganse konsep van grondbestuur word in Suider-Afrika misbruik. Hy sê die konsep van stedelike en landelike grond is verkeerd en word bloot gebruik om arm mense ingeperk te hou. “As jy aan die buiterand van 'n stad bly, in 'n nedersetting, word jy sonder respek behandel,” sê hy.

“Kolonialisme en apartheid het duidelik diep nagevolge vir Namibië. Afrika het dekades van imperialisme en kolonia­lisme deurgegaan.

Grond is bykans oor die hele Afrika onteien – ook in Namibië. Die hartseer deel is dat Namibië ná onafhanklikwording, weens druk vanaf die rykes, van sy grondbeleid terugbeweeg het,” sê hy.

Nou benodig mens baie geld vir toegang tot grond, sê hy.

In die streek en in Namibië word arm mense van hul grond af verjaag, ten gunste van kommersiële ondernemings.

Volgens Seibeb is dit hoekom grondkwessies altyd met die klasse-­agenda gepaard moet gaan. “Wie besit wat? Wie doen wat? Wie kry wat? Wat maak hulle met die rykdom?” is vrae wat volgens hom beantwoord moet word.

In Gawanas se geval is dit dus verkeerd om 'n vroulike afstammeling van onteiende mense, 'n verwagtende moeder, se reg tot grond in Windhoek te bevraagteken, sê hy.

“Óf (Amupanda) is 'n valse grond­aktivis, óf hy verstaan nie die konsep nie,” sê Seibeb.

Die burgemeester het ­inderdaad 'n tweede tuiste in 'n ander deel van die land, “maar waar moet arme Sade Gawanas heengaan? Sy verdien grond hier in Windhoek,” dring hy aan.

Seibeb sê Amupanda “maak 'n bespotting van die grondvraagstuk. Hy is onbevoeg om 'n leier te wees. Miskien moet die LPM deel raak van die koalisie van 'progressiewe partye' en daardie twee (AR) setels vervang, en dan volgende jaar ons beurt vat om die amp van burgemeester te vul.”

Seibeb sê die LPM werk veral goed saam met die Independent ­Patriots for Change (IPC) se raadslede om verskeie dorpe oor Namibië te bestuur.

Volgens Seibeb werk die LPM en IPC al sedert Desember saam op dorpe soos Okahandja, Lüderitz, Oranjemund, Swakopmund, Walvisbaai, Karasburg en Kalkrand om die plaaslike owerhede te bestuur,

“Daar is geen probleem nie. Ons kom goed oor die weg,” sê hy.

“Nou is dit dalk nodig dat ons ingryp om Windhoek te red, want hier is geen leierskap nie en ook omdat dit ons vaderland is.

“Tans besoek ons leierskap ­verskeie dorpe. Hulle het Sondag op Mariental 'n vergadering gehou waar die raadslede terugvoer gegee het. Vandag (Dinsdag) is hulle in Karasburg, dan Oranjemund, Keetmanshoop, op reis na Lüderitz. Oral waar ons raadslede het, lê ons besoek af,” sê hy.

Seibeb sal self die toer voortsit, sodra die LPM-leier, mnr. Bernadus Swartbooi, einde vandeesweek na Windhoek terugkeer.

– [email protected]

Soortgelyk

 

Vroeë Kersgeskenk vir die Kankervereniging

6 ure gelede | Kuns en vermaak

Die Kollege van die Kunste (Cota) bied eerskomende Sondag (5 Desember) die Christmas Memories-konsert ten bate van die Kankervereniging van Namibië (CAN) aan. Jürgen Kriess,...

Vrou toets positief vir Omicron in Tseggiese Republiek ná...

7 ure gelede | Gesondheid

'n Finale ontleding by 'n hospitaal in die stad Liberec in die Tseggiese Republiek het getoon 'n 60-jarige vrou wat teruggekeer het van 'n reis...

Vrou toets positief vir Omicron in Tseggiese Republiek ná...

7 ure gelede | Gesondheid

'n Finale ontleding by 'n hospitaal in die stad Liberec in die Tseggiese Republiek het getoon 'n 60-jarige vrou wat teruggekeer het van 'n reis...

Shifeta: Regering in gesprek oor reisverbod

7 ure gelede | Toerisme

Die Namibiese regering gaan voort om deur middel van diplomatieke kanale met die relevante owerhede in Brittanje, Verenigde Arabiese Emirate, die Europese Unie en sy...

Nasionale Raad hervat sy sitting

8 ure gelede | Regering

Die Nasionale Raad het vanoggend (Maandag) sy sitting hervat, onder meer om die nuwe Wysigingswetsontwerp op Bewilliging te bespreek.Dit is vroeër deur die Nasionale Vergadering...

Veldbrand ‘buite beheer’

21 ure gelede | Ongelukke

Nadat Republikein vanmiddag ondersoek by die veldbrande in die omgewing van Midgard gaan instel het, het mnr. Cornè Kruger intussen laat weet die vuur was...

Wêreld se optrede ‘oneerbiedig, agterbaks, diskriminerend’

21 ure gelede | Gesondheid

Die uitvoerende voorsitter van Ohlthaver & List, Sven Thieme, sê Brittanje, die Europese Unie, Amerika en ander lande se reisverbod op vlugte uit Suider-Afrika is...

G7-lande se gesondheidsministers vergader vandag

21 ure gelede | Internasionaal

Gesondheidsministers van die wêreld se rykste sewe demokrasieë sal Maandag vergader om die nuwe variant van die coronavirus, Omicron, te bespreek.Reuters berig die dringende G7-vergadering,...

Geen sterftes, sewe nuwe gevalle

21 ure gelede | Gesondheid

Die Covid-sterftes bly op 3 573, terwyl sewe nuwe gevalle gister aangeteken is. Dit is 'n positiewe koers van 0,6% en sluit 'n student in....