Sanglegende en ’n boekliefhebber

25 September 2020 | Byvoegsels
Saamgestel deur Yandi du Plessis – Me. Ina Di Michele, ’n plaaslike sanglegende is op 28 Augustus vanjaar in die hoofstad dood nadat sy ’n beroerte gehad het.

Intussen stroom die huldeblyke vir die geliefde operasangeres en musiekleraar in.

Peet van Heerden, ’n hegte vriend en oudsangkollega van die wyle Di Michele skryf: “Die grootse gawe wat ’n sanger kan hê is wanneer sy instrument die ’menslike sangstem’, tegnies, musikaal en in ekspressiewe uitdrukking kan naboots.”

Di Michele was een van hierdie geseënde mense wat dié Godgegewe talente ontvang en in haar lewe as uitvoerende kunstenaar uitgeleef het. Haar uitsonderlike sangtalent is reeds op ’n baie jong ouderdom herken, danksy die motivering en aansporing wat sy in haar moeder se pragtige sangstem kon beleef.

Sy matrikuleer in 1962 aan die Hoërskool Hanklip in Queenstown. Sy sit haar studies voort aan die Universiteit van Pretoria onder die toesig van die bekende sangpedagoog, prof. Xander Haagen.

Haagen was oorweldig, nie net deur haar pragtige stem nie, maar ook deur haar natuurlike aanvoeling vir die verhoog. Op die ouderdom van 19 debuteer sy reeds in die rol van Cherubino in die ‘Huwelik van Figaro’ van Mozart in die Aula-teater. In die daaropvolgende jare het sy in menigte produksies en konserte van Haagen opgetree. In die 1970’s verhuis sy en Ari (haar seun) na Stellenbosch om verder onder prof. George van der Spuy aan die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer. Sy wen verskillende beurse en sangkompetisies en voltooi met onderskeiding die Voordraers-en Onderwysers Gevorderde Eksamen van die Universiteit van Suid Afrika en verwerf ’n Baccalaureus Musicae (BMus)-graad.

In die middel 70’s word sy aangestel as voltydse sanger by die Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste (Kruik) in die Nico Malan-operahuis in Kaapstad. Haar besonderse talent word deur haar kollegas van nasionale en internasionale faam erken. Haar sopraanstem, tesame met ’n instinktiewe aanvoeling vir verskillende stylgenres, sou haar in staat stel om ’n diversiteit van omvangryke repertoire aan te bied.

Meesterlike tegniese vaardigheid en stylvoordrag is gekenmerk deur ‘n suiwer toonproduksie deur al die registers van haar stem, tiperend van die Italiaanse Bel Canto-sangstyl.

Die beroemde regisseur Andy Anderson van die Royal-operahouse in Londen nooi haar uit om ’n oudisie in Londen af te lê. ’n Besonderse eer wat sy weens persoonlike verpligtinge nie kon nakom nie. Sy slaag ’n oudisie in 1979 en word uitgenooi om na Wene in Oostenryk te verhuis om onder prof. Busch, die onderwyser van die beroemde Edita Gruberova, te studeer. Weer eens kon Di Michele nie die beursgelde betaal nie en besluit sy om na Windhoek te verhuis waar sy as sanglektrise by die konservatorium aangestel is.

Hier deel sy haar goue jare as sangeres, pedagoog en tuisteskepper met kollegas, studente, vriende en haar seun se gesin. Sy bereik uitsonderlike musikale hoogtepunte saam met die Barok-ensemble onder leiding van Petrus Krige.

Menigte konserte en ’n konserttoer na Duitsland volg daarna. Haar optredes as sopraansolis in Händel se “Messias” onder Ernst Conradie en die Windhoek-simfonieorkes word vandag nog gekoester. Sy sing die sopraanrolle in “Bastien und Bastienne” van Mozart en Thomas Arne se “The Cooper”. Sy tree ook gereeld in radioprogramme en konserttoere vir die Suidwes-Afrikaanse Raad vir die Uitvoerende Kunste (Swaruk) op. In die 1980’s het sy as gaskunstenaar by die opening van die Staatsteater in Pretoria opgetree.

As pedagoog lewer sy ’n enorme bydrae om haar studente vir internasionale sangkompetisies en nasionale eksamens van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), die Royal School of Music in Londen en Trinity College voor te berei. Sy gee ook onderrig in klavier en musiekteorie wat sy na haar aftrede sou voortsit in haar privaat studio.

Sy word vereer deur ’n uitgebreide studentekorps wat verskeie hoogtepunte in hul eie vakgebiede sou bereik.

Mag die nagedagtenis van hierdie besonderse mens voortleef in die musikale belewenisse wat sy as kunstenaar van formaat nalaat.”

Wilna Liebenberg, ’n oudstudent wat van 1990 tot 1994 by Di Michele sanglesse geneem het, sê ook die musiekleraar het ’n groot impak op haar as musikant én mens gehad.

Onder Di Michele se leiding voltooi Liebenberg Unisa se graad 8-sang, gevorderde eksamen in sang van Trinity College, Unisa (alle eksamens met lof), sing in produksies as solis en tree verskeie kere saam met die Nasionale Simfonieorkes as solis op. In 1994 word Liebenberg die eerste Namibiër wat as finalis van die Unisa se oorsese beurskompetisie gekeur word.

Sy het nou al vir ’n geruime tyd ’n musiekskool op Swakopmund. Daar word die wyle Di Michele weer die sangdosent en onder haar leiding slaag Wilna die ABRSM Gevorderde Eksamen en die Sangonderrig Gevorderde Eksamen van Trinity met lof.

“Ek gee groot eer aan Ina as voorbeeld van deeglike onderrig, die belangrikheid van ’n keurige studio vir die student en haar lojaliteit as dosent en vriendin wat altyd haar huis beskikbaar gestel het vir my studente wat in Windhoek moes sing. Ek sal haar onthou as lojaal, hartlik, reguit en al die wonderlike aande op Swakopmund met lekker kuiers en hartlike laggies, ook die toffies eet voor die TV terwyl die hondjies om haar lê, en die telefoongesprekke wat eindig ‘lief vir jou’. Rus in vrede.”


GELIEFDE JUFFROU HUGO OORLEDE

Me. Maretha Hugo, oftewel Juffrou Hugo, stigter van die Khomasdal Jeugsaal se biblioteek en ’n vrou wat tot haar aftrede op 85-jarige ouderdom ’n liefde vir lees by honderde kinders in Windhoek gekweek het, is op 1 September dood.

Annatjie Louw, wat 40 jaar lank ’n hegte vriendin van Hugo was, skryf: “Maretha, wat op lentedag in die ouderdom van 88 in Windhoek oorlede is, se vermoë om die onmoontlike, moontlik te maak, was van legendariese aard. ’n Voorbeeld hiervan is hoe sy ’n klein Volksie gepak kon kry met vyf woelige kinders tussen een en ses jaar, ’n tienerdogter, haarself, haar man (ds. George Hugo) en dan nog al hul bagasie vir ’n Kaapse vakansie.

Digterseun Pieter beskryf sy ma se inpak-kuns as ‘niks minder as ’n wonderwerk nie’.

‘Sy kon dit regkry deur al die bagasie in meelslopies te pak en dan oral in te druk waar daar ’n gaatjie was.’

Hul gasvrou op Stellenbosch was nie baie in haar skik met die afpaksirkus voor haar huis nie. Arriveer asseblief volgende keer ná donker, het sy gevra. Wat moet die bure nie dink nie! (Broer Hoffie Conradie onthou toe 13 familielede in die karretjie gelaai is vir ’n rit by Greyton tussen treinstasie en huis.)

Maretha kon ook wondere met die rek van dollars verrig. Later het die Hugo’s agt kinders van hul eie gehad plus Yvonne wat op 12-jarige ouderdom in pleegsorg geneem is. Die jongste dogter Karen glo die regering kon Ma as minister van finansies aanstel vir die manier waarop sy die gesin kon voed en klee op Pa se salaris van Khomasdal se NG Sendingkerk. Boonop was daar ’n aanloop van mense by die pastorie – dikwels etenstye. Vir die dae wat dit gelyk het die kos is te min, is die saak beredder deur die wagwoorde “hou hande tuis” vir die huismense te fluister.

Maar daar was tog ’n dag waarop Hugo se sorgvuldige begroting vir winkelgoed nie geklop het nie. Willem, die tydrenjaer, vertel: ‘Pa is, ongewoon, winkels toe met Ma se lysie met net genoeg geldjies. ‘n Ruk later was hy terug met net helfte van die lysie, trots op die aankoop van die snoeiskêr wat hy al so lank wou hê. Of Ma toe net gegooi het en of sy gemik het, onthou geeneen, maar die skêr is kombuisvloer toe. Nog lank daarna, as Ma wou kwaad word, is sy geterg oor die gat waar die skêr die linoleum getref het.’

Die skêr is steeds in gebruik, het die Hugo’s se digter-seun Daniël tydens sy ma se virtuele gedenkdiens op 5 September vertel. By hierdie geleentheid het hy uitgelig hoe sy ma se lewensuitkyk weerspiëel is in haar liefde vir tuinmaak. Met haar eerbied vir alle vorms van lewe het sy geglo als wat groen is, moet die kans gegun word om te kan groei. Sy het geen onderskeid getref tussen uitheems en inheems nie, wat selfs die ‘sondige Port Jackson-boom’ ingesluit het.

Hierdie lewensuitkyk het duidelik na vore gekom toe sy in 1974 by die kerk ’n Jeugsaal gestig het vir die jongmense van Khomasdal. Vir Hugo se jonger suster Heloïse was ‘die intensiteit waarmee sy alles beleef het’ ’n uitstaande kenmerk. Sy het haar inderdaad vir 16 jaar intens aan dié projek gewy.

By die Jeugsaal was die biblioteek ingesluit wat sy, aangedryf deur haar liefde vir lees, in die kerk se konsistorie begin het.

‘n Aanvanklike boks vol van die pastorie se boeke, vertel Heloïse, het mettertyd tot 30 000 gegroei. Lidmaatskap was oop vir almal. Hier het Hugo inderdaad die onmoontlike moontlik gemaak.

Gedurende daardie jare was toegang tot die land se biblioteke net vir wit mense moontlik. Khomasdal het geen openbare biblioteek of skoolbiblioteke gehad nie.

Die direkte geestelike invloed van die Jeugsaal en biblioteek op menigte jongmense wat oor die jare daarin gedeel het, is onmeetbaar.

Joernalis-dogter Maggi was verras toe sy eendag terugvoer van ’n volwassene gekry het.

Sy vertel: Tydens ’n toevallige ontmoeting in Windhoek was ‘n bekende menseregteprokureur opgewonde om te hoor Juffrou Hugo, soos wat sy genoem is, is Maggi se ma. “Sonder Khomasdal se biblioteek sou ek nooit ’n liefde vir lees ontwikkel het nie.”

Die aftakeling en ongemak van die ouderdom is stilweg aanvaar. Toe dit te moeilik vir Hugo word om te lees en loop, het die stoel in die hoek van haar sitkamer en haar gedagtes haar wêreld geword. Meer as 150 foto’s op ses borde op die oorkantste muur kon haar herinner aan haar ryk en kleurvolle lewe.

Die Vlaamse sanger en liedjieskrywer Jonas Winterland het jare gelede gesê hy het geleer ’n mens moet elke mooi oomblik herken, benoem en vashou, want dit gee al wat hoopvol en positief is, ’n blywende waarde.

Klaarblyklik was daar sulke oomblikke op die Hugo’s se lewenspad. Ds. Hugo het uit die 1950’s onthou hoe mooi dit vir hom was toe hy hoor ’n paar Suide-seuntjies sing in drie stemme terwyl hulle by die pastorie verbystap.

’n Plesierige herinnering van Maretha was die prentjie van twee laggende tantetjies wat destyds in Windhoek se hoofstraat verby haar in ’n knorrende, oop duinebesie gery het – elkeen met ’n roomys in die hand.

“Op die dag van Maretha se uitvaart, presies toe die son in die weste sak, het ’n helder volmaan uit die ooste in die nagruim ’n boog oor Windhoek begin – asof in saluut. Donkeroggend op die dag van haar virtuele gedenkdiens het dit ongewoon begin reën. Daniël het elfuur uit Prins Albert gevra of deelnemers aan dié aanlyn diens die reën op sy dak kon hoor. Daardie aand is die son in Windhoek bloedrooi onder agter stapels donkerblou wolke, terwyl die donderweer aanhoudend gedreun het. Die volgende dag was die reën sowel as die donderweer weg. . .”

Soortgelyk

 

Air Namibia hervat op 28 Oktober vlugte na SA

4 ure gelede | Vervoer

Die nasionale redery het vanmiddag aangekondig hy hervat op 28 Oktober vlugte vanaf Windhoek na Johannesburg en Kaapstad.Die redery sal nie soos in die verlede...

77 leerlinge van dieselfde skool toets binne vier dae...

6 ure gelede | Gesondheid

Nog agt leerlinge van die senior sekondêre skool Oshakati het positief vir Covid-19 getoets wat die totaal leerlinge van die skool wat positief getoets het...

Geingob sê oor Covid-19-weg vorentoe

7 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, sê pres. Hage Geingob sal vandeesweek ’n aankondiging maak oor die regering se voortgesette hantering...

Covid-19: Aankondiging kom oor pad vorentoe

9 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, sê pres. Hage Geingob sal vandeesweek ’n aankondiging maak oor die regering se voortgesette hantering...

Geingob onder skoot oor ‘wit’ opmerkings

21 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Die leier van die amptelike opposisie, mnr. McHenry Venaani, sê wat pres. Hage Geingob die afgelope naweek oor wit mense kwytgeraak het,...

Verskeie daaglikse vlugte binnekort na SA

21 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer – FlyWestair en Airlink, die private Namibiese en Suid-Afrikaanse rederye, het tot reisigers se redding gekom en gaan die leemte aan direkte, geskeduleerde...

Skone Lira bemark Namibië

21 ure gelede | Toerisme

Die Suid-Afrikaanse sangeres Lira, wat die inperking in Namibië deurgebring en uitgebreide verkenningsreise in die land onderneem het, is deur die Federasie van Namibiese Toerismeverenigings...

Weer vir 19 Oktober

21 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en bloedig warm in die Ooste. Elders sal die sonnig wees en baie warm tot bloedig wees. KUS: Gedeeltelik bewolk en koel...

Verdagte panga-rowers in hegtenis

21 ure gelede | Misdaad

Kristien KrugerVolgens ’n Namibiese polisieverslag is sewe mans in hegtenis geneem in verband met ’n aantal gewapende rooftogte in Windhoek.Die mans het hulself glo die...