San oes 20 ton duiwelsklou
San-gemeenskappe in die Nyae Nyae- en N#a Jaqna-bewaringsgebied oes duiwelsklou om hul inkomste aan te vul.
Met die oesseisoen wat onlangs geëindig het, is ongeveer 20 ton duiwelsklou geoes wat vir net onder N$1 miljoen verkoop is. Altesame 450 Sanmense het aan die oes deelgeneem.
Die bewaringsgebiede word deur die Europese Unie se Toelaag vir Klimaatverandering ondersteun, wat op voedselsekuriteit en diversifisering fokus. Die Nyae Nyae-ontwikkelingstigting van Namibië pas die projek in beide bewaringsgebiede toe.
Mnr. N!aici Kaqece is sedert 2010 die duiwelsklou-koördineerder van die Nyae Nyae-bewaringsgebied. Die oes word volgens streng standaarde uitgevoer om te verseker dit word as organiese duiwelsklou verkoop.
Dit is ''n duur proses, maar onderskei sodoende die produk van ander mededingers.
“Duiwelsklou is medisyne. Dit is die rede waarom dit van hoë standaard moet wees en aan gehaltestandaarde moet voldoen. Dit verseker voorts dat die mense wat dit oes, ''n hoër inkomste kan genereer. Ons is baie trots daarop dat ons medisyne deur mense wêreldwyd gebruik kan word,” het Kaqece gesê. “Die sertifikaat wat aandui dat dit ''n organiese produk is, verseker dat ons volhoubaar kan oes. Dit is baie belangrik omdat dit beteken ons kan in die toekoms steeds ''n inkomste genereer. Dit is om dié rede dat ons die oes monitor en ons hulpbronne reg bestuur. Hierdie inkomste verseker dat die mense in die bewaringsgebiede kos, klere en selfs vee kan koop. Dit maak hulle trots dat hulle vir hulself en hul families kan sorg,” het hy verduidelik.
Duiwelsklou word wêreldwyd as nie-voorskrifmedisyne gebruik om onder meer rumatiek, sowel as laerug-, knie- en heuppyn te verlig. Danksy die plant se genesende eienskappe is dit baie gesog en is Namibië die grootste verskaffer van duiwelsklou ter wêreld.
Dit is gelys as ''n beskermde plant in die land, maar mag met die nodige permitte geoes word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie