SA sal 'bly veg vir Goue Meisie Caster'

Atletiek
Caster Semenya bly Suid-Afrika se “Goue Meisie” en die land sal haar help om haar pad vorentoe te navigeer.

Só het Tokozile Xasa, minister van sport, gister gesê nadat die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) 'n aansoek deur Semenya van die hand gewys het om die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se voorgestelde regulasies om atlete met natuurlike hoë testosteroonvlakke medisyne te laat gebruik, ongeldig te laat verklaar.

“Uiteraard is ons teleurgesteld oor die uitspraak, maar ons het Atletiek Suid-Afrika (ASA) versoek om die volledige uitspraak te bekom. Ons sal dit bestudeer en op 'n plan van aksie besluit.

“As regering hou ons nog deurgaans vol dat hierdie regulasies die menseregte en waardigheid van atlete soos Caster Semenya en ander vroueatlete vertrap,” sê Xasa in 'n verklaring.

Semenya het op Twitter net kripties op CAS se uitspraak gereageer deur te sê “partykeer is dit beter om te reageer met geen reaksie nie”.

CAS het in sy uitspraak gesê hoewel die IAAF-regulasies diskriminerend is, glo die meerderheid van die drie regters wat die saak aangehoor het, dat sulke diskriminasie – op grond van die getuienis wat hulle aangehoor het – 'n noodsaaklike, regverdige en eweredige wyse is om die IAAF se doel te bewerkstellig om die integriteit van vroueatletiek te behou.

Die regters het wel in hul uitspraak van 165 bladsye sekere voorbehoude uitgespreek, insluitend:

* Hoe die IAAF se regulasies prakties toegepas gaan word.

* Die gebrek aan genoeg tasbare bewyse dat hoër testosteroonvlakke 'n beduidende voordeel aan atlete in die 1500 m en myl-wedlope bied.

* Die newe-effekte wat hormonale behandeling by atlete tot gevolg kan hê, kan dit vir hulle moeilik maak om aan die IAAF se regulasies te voldoen.

Die IAAF sê hy is bly daar is bevind die regulasies is nodig en redelik om sy doelwitte te haal om die integriteit van vroueatlete te handhaaf.

Die regulasies sal op 8 Mei in werking tree.

Die regulasies is daarop gemik om vroueatlete met natuurlike hoë testosteroonvlakke te dwing om medisyne te gebruik om hul testosteroonvlakke te verlaag indien hul wil voortgaan om aan die 400 m, 400-hekkies, 800, 1 500 en myl deel te neem.

Die IAAF sê enige atleet wat in September aan die Wêreldbyeenkoms in Doha, Katar, wil deelneem, moet:

* dadelik die regulasies deeglik bestudeer.

* haar mediese span raadpleeg.

* vanaf 1 Mei binne sewe dae haar testosteroonvlakke op die aanvaarbare vlak kry. Onderdrukkende behandeling moet dadelik begin. Testosteroonvlakke moet minder as 5 nmol/liter wees.

* 'n atleet wat geregistreer is om Vrydag aan die Diamantliga-byeenkoms in Doha deel te neem, word egter hiervan kwytgeskeld.

* 'n atleet moet haar testosteroonvlakke vir 'n aaneenlopende tydperk van minstens ses maande onder 5 nmol/liter hê as sy in die items aan 'n internasionale byeenkoms wil deelneem.

* 'n atleet wat op of voor 8 Mei met die onderdrukkende behandeling begin het, sal aan die Wêreldbyeenkoms in Doha mag deelneem.

Die CAS sê Semenya-hulle het 30 dae om teen die uitspraak te appelleer.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!