Só werk aanlyn registrasie vir noodsaaklike, kritieke diensverskaffers
Te midde van die heersende Covid-19-noodtoestand in Namibië het die ministerie van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling ’n aanlyn registrasieplatform vir verskaffers van noodsaaklike dienste geskep.
Sulke verskaffers moet op dié platform registreer, waarná hulle ’n sertifikaat sal ontvang sodat die sakegemeenskap kan voortgaan om noodsaaklike dienste aan inwoners van Namibië te lewer.
Die minister, me. Lucia Iipumbu, sê in ’n verklaring net verskaffers van noodsaaklike en kritieke dienste soos dit in die proklamasie uiteengesit is, moet aansoek doen. Diegene wat oor ’n tussentydse sertifikaat beskik, moet ook aanlyn aansoek doen.
Alle papiersertifikate sal teen 4 April in onbruik verval (kan verander) en diegene wat op reis gaan, moet dus betyds aan die nuwe reëling voldoen, lui die verklaring.
Die aanlyn aansoekproses werk soos volg:
• Die diensverskaffers gaan na www.namessentialservices.com om te registreer, waarná ’n veiligheidskode en ’n wagwoord na hul e-posadres gestuur sal word.
• Die diensverskaffers moet dan ’n afskrif oplaai van hul inlywingsertifikaat (maatskappye) of die stigtingsertifikaat (beslote korporasies). Hierdie dokumente mag nie groter as 1 Mb wees nie.
• Sodra die inligting bevestig is deur die ministeriële amptenare sal magtigingsertifikate via e-pos gestuur word.
• Dit is kragtens die proklamasie die diensverskaffers se verantwoordelikheid om dokumente aan hul werknemers uit te reik saam met ’n afskrif van die sertifikaat.
• Diensverskaffers kan die status van hul aansoek aanlyn monitor en sertifikate kan direk van www.namessentialservices.com afgelaai word sodra dit goedgekeur is.
• Sou daar uitdagings opduik met die aansoekproses op die aanlyn platform, kan [email protected] of [email protected] gekontak word.
• Gee asseblief te alle tye gehoor aan die riglyne van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste wat die handhaaf van sosiale afstand en persoonlike higiëne betref.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie