Só staan sake in die Namibiese huis

18 April 2019 | Regering
Denver Kisting



Pres. Hage Geingob het gistermiddag gesê sy boodskap van “welvaart vir almal” moenie verkeerd verstaan word nie.

Volgens hom was die bedoeling nooit om oordaad en oorvloed teweeg te bring nie. “Met ander woorde ons probeer nie kitsmiljoenêrs skep nie.”

Sy administrasie mik eerder daarna om 'n insluitende land te bou waarin diegene wat voorheen uitgesluit is, deel van die hoofstroomekonomie word. “Ons praat van huisvesting, toegang tot lopende water, gehalte-­onderwys, primêre ­gesondheidsorg en volhoubare inkomste om lewensnoodsaaklikhede te bekostig,” het hy gesê.

Volgens hom het dié doelwitte tot die totstandkoming van die Harambee-welvaartplan gelei.

Veranderende werklikhede het sedertdien die volle inwerkingstelling van die plan in die wiele gery, het hy toegegee.

Die ekonomiese ellende en die erge droogte het tot 'n geweldige geldknyp gelei, het Geingob gister­middag gesê.

Die staatshoof het 'n beroep op politieke ampsdraers gedoen om in te stem tot 'n 2%-salaris­verlaging.

Tydens die staatsrede in die Nasionale Vergadering (NV) het Geingob bekend gemaak die eerste minister lei tans onder­handelinge met ander staatsamp­tenare om ook hiertoe in te stem.

Geingob sê die kommer oor die hemelhoë salarisrekening van die regering is geregverdig.

Volgens hom is die toename weens inflasieaanpassings, die vul van belangrike vakatures, 'n toename in openbare onder­nemings en posevaluerings en

–hergraderings wat in 2016/'17 gedoen is.

Die staatshoof het gister die prestasie­beoordelingstelsel as 'n sleutelinisiatief bestempel om openbare ­amptenare verantwoordbaar te hou.

Volgens hom dui die 74%-inwerkingstellingskoers aan die staatsektor het die stelsel omarm.

Geingob het gister aangevoer sy administrasie se oorlog teen korrupsie werp vrugte af.

Hy het onder meer verwys na briewe wat hy verlede jaar aan sekere ­ministers gerig het om beweringe oor wanadministrasie en korrupsie te verduidelik.

Geskoei op die ministers se antwoorde is skrywes sedertdien aan die Teenkorrupsiekommissie (ACC) gerig vir 'n beslissing oor of aanvullende ondersoeke nodig is.

Geingob het gevra dat die regsproses toegelaat word om sy beloop te neem.

Intussen, het die president gesê, is ingevolge die leefstyloudits waarmee in 2017/18 begin is om belastingontduiking en geldwassery te ontrafel, tot dusver 26 sake hanteer. Volgens hom is 19 daarvan afgehandel waartydens 40 instellings (individue of maatskappye) onder die loep geneem is.

Die ondersoek het daartoe gelei dat amper N$13 miljoen ingevorder is van die bykans N$50 miljoen wat aan die ontvanger verskuldig is.

Geingob het voorts gesê die Finansiële-intelligensiesentrum (FIC) het onthul N$9,2 miljard is weens beweerde belastingontduiking, bedrog, korrupsie, dwelmhandel en onwettige handel in wildleweprodukte verloor.

Geingob het gistermiddag ook aangekondig die lang verwagte wetsontwerp oor toegang tot inligting sal na verwagting vanjaar in die parlement ter tafel gelê word – veral met die oog op die nasionale verkiesings later vanjaar.

Volgens die president is almal, ook die media, verantwoordelik vir hoe persvry die land beskou word.

Hy bring sy kant deur te probeer om die kommunikasiekanale oop te hou deur gereelde nuuskonferensies by Staatshuis te belê en die persverklarings wat dikwels uitgereik word.

Op 'n vraag van mnr. McHenry Venaani, die president van die Popular Democratic Movement (PDM), oor watter opbrengste die bywoning van internasionale beleggingskonferensies tot dusver gelewer het, het Geingob gesê Afrikane is ongeduldig.

Dit neem tyd vir beleggings om opbrengste te lewer, sê hy. “'n Mens kry nie onmiddellik 'n opbrengs nie.”

Geingob het terselfdertyd te velde getrek teen die opvatting dat hoëlui wild rondrits. Sy antwoord was: “Dink jy ek geniet dit om op my ouderdom te reis? Ek doen nie.”

Soortgelyk

 

Windhoek klop waterteikens

1 uur gelede | Plaaslik

font face="Verdana" >Elvira Hattingh - Inwoners van die hoofstad neem waterbesparings uiteindelik ernstig op en het die afgelope week weer 4% bespaar. Volgens me....

Kalahariwoestyn keer terug

1 uur gelede | Polisie

Denver Kisting – In ’n poging om soortgelyke tragedies te verhoed soos die een waarin ’n Zimbabwiese taxibestuurder gesterf het, gaan alle beamptes wat aan...

Weer, Woensdag 7 Augustus 2019

1 uur gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en matig in //Kharas, maar warm tot baie warm in die Noorde. Elders sal dit sonnig en warm wees.KUS: Gedeeltelik bewolk en...

Tweejarige sterf in ongeluk

1 uur gelede | Ongelukke

’n Tweejarige meisie, Andrea Pawa Jason, het Saterdagoggend in ’n ongeluk sowat 2 km buite Usakos gesterf.Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het die ongeluk...

Nudo, UPM voeg stem by antikuberkraakkoor

1 uur gelede | Politiek

Denver KistingDie president van die National Unity Democratic Organisation (Nudo), me. Esther Muinjangue, sê hulle is nie onder die huidige omstandighede beskikbaar vir die kuberkraaktoets...

renosters by Onguma onthoring

1 uur gelede | In beeld

Om stropery te voorkom het die Onguma-wildreservaat naby die Etosha Nasionale Park onlangs al hul renosters ontho­ring. Volgens die reservaatbestuurder, mnr. Jonathan Strijbis, was die...

Jong beesbeoordelaars beïndruk

1 uur gelede | Gebeure

Elvira HattinghBank Windhoek en Feedmaster span tans saam om 'n nasionale beesbeoordelaarskompetisie en -kursus vir Namibiese jongmense aan te bied.Tot dusver het die organiseerders deelnemers...

Elfjarige glo deur oom (48) verkrag

1 uur gelede | Misdaad

’n Meisie (11) is Vrydag omstreeks 14:00 glo deur haar 48-jarige oom in die Etaneno-nedersetting naby Onankali verkrag.Die verdagte is in hegtenis geneem en sou...

'Elke druppel tel'

1 uur gelede | Gesondheid

Henriette LamprechtAs alle babas onmiddellik ná geboorte direkte ­velkontak ontvang, vir ses maande uit­sluitlik geborsvoed word en tot op twee jaar bykomende voeding ontvang, sal...