Só sien Calle China-lenings
Die minister van finansies het die afgelope week lig gewerp op China se omstrede lenings aan Afrika.
Denver Kisting
Mnr. Calle Schlettwein, die minister van finansies, is van mening die bepalings en voorwaardes gekoppel aan Chinese lenings aan Afrika is gunstig.
Dié voorwaardes lui, onder meer, dat 'n grasietydperk van vyf jaar toegestaan sal word.
Hiernaas sal die skenkingsgedeelte beperk wees tot 10% van die totale leningsbedrag.
Die rentekoers van dié konsessielenings beloop 2% vergeleke met die 7,7% vir huishoudelike tesourieopsies, of 9% vir plaaslike lenings.
'n Hanteringsfooi van 0,25% word op die lenings van dié Asiatiese moondheid gehef.
Schlettwein het Dinsdagmiddag in die Nasionale Vergadering (NV) lig gewerp op die omstandighede waaronder China nagenoeg N$60 miljard aan Afrika leen.
“Uit 'n finansiële oogpunt glo ons dié bepalings is gunstig. Sou daar alternatiewe aanbiedinge in die mark wees, wat aantrekliker en gunstig teen dié bepalings meeding, moet daar met sulke aanbiedinge vorendag gekom word,” het hy gesê.
Hy sê Namibië moet uit die staanspoor oop kaarte met China speel oor sy voorkeurgebiede wat beleggings, plaaslike deelname, gehalteversekering, 'n skuldvolhoubaarheidsraamwerk en respek vir plaaslike wette betref.
Ook, sê Schlettwein, is 'n belangrike oorweging dat die finansiële samewerking tussen Namibië en China albei partye moet baat.
Voorts moet daar geen inmenging in plaaslike beleidsvoorkeure wees nie, het hy onder die luide gebrom van lede van die opposisie gesê.
Schlettwein het eweneens verwys na pres. Hage Geingob se lof vir China se onderneming om sy neus uit Afrikalande se huishoudelike sake te hou.
“Hierdie woorde van ons president is 'n duidelike antwoord op diegene wat volhou met die idee dat Afrika die gevaar loop om deur China geherkoloniseer te word. Dit is dus ons verantwoordelikheid om kriteria neer te lê wat ons nasionale belang weerspieël, ingevolge waarvan ons lenings aanvaar,” het hy gesê.
Volgens die minister het Namibië in elk geval nog nie onder die Forum vir China-Afrika-samewerking (Focac) 'n nuwe leningsooreenkoms gesluit nie.
Wat vorige ooreenkomste betref, beloop die land se uitstaande skuld aan China volgens hom tans N$2 miljard.
Dít verteenwoordig 2,6% van die land se totale skuldportefeulje, sê hy.
In dié stadium beplan Namibië om oor die volgende twee boekjare sowat N$10 miljard se lenings uit verskeie bronne aan te gaan om die plaaslike ontwikkelingsprogramme, soos vervat in die 2018-'19-begroting, te befonds.
Focac kan gedeeltelik hiermee help asook met die finansiering van projekte by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako, het Schlettwein gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie