Só raak handelsoorlog tussen VSA en China rand/N$

Die aanloop tot die handelstwis tussen China en Amerika kom ’n lang pad en het sy oorsprong in China se beskerming van sy eie vervaardigingsbedryf.
Vida Booysen

As jy sukkel om te verstaan waarom die Suid-Afrikaanse rand en gevolglik ook die Namibiese dollar so senuagtig op die dreigende handelsoorlog tussen die VSA en China reageer, lees hier.

Wat is ’n handelsoorlog?

In wese is ’n handelsoorlog ’n taktiek wat lande wedersyds gebruik om hul eie in- en uitvoer te beskerm.

Dit beskryf ’n situasie waar lande terugveg wanneer ’n land handelsversperrings soos invoertariewe of kwotas hef.

In reaksie sal die land wat deur die tariewe geraak word weer tariewe van sy eie op ingevoerde produkte hef.

Dit kan vinnig tot ’n geskil lei waar elkeen die ander in gelyke munt probeer terugbetaal.

Dié soort handelstwis verhoog internasionale spanning en daarom het markte wêreldwyd verlede week paniekerig gereageer toe China baie vinnig gereageer het op pres. Donald Trump van Amerika se planne om invoertariewe op nóg produkte uit China te hef.

Waaroor gaan die twis tussen China en die VSA?

Die aanloop tot die twis kom al ’n lang pad en het sy oorsprong in China se beskerming van sy eie vervaardigingsbedryf en sy beleid om toegang tot sy mark onderhewig aan samewerking met plaaslike vennote te maak.

Chinese fabrieke vervaardig die meeste van die wêreld se slimfone, rekenaars en elektronika.

Maar die regering wil meer wins maak deur ’n skepper van tegnologie te word en nie net die wêreld se “laekoste-fabriek” te wees wat die tegnologie vervaardig nie.

Beijing het ’n beleid, naamlik “Vervaardig in China 2025”, wat behels dat dié land die wêreldleier in strategiese bedrywe soos elektriese motors, robotika en ander tegnologiese ontwikkeling sal word. Hy dwing buitelandse maatskappye om hul Chinese mededingers tot die internasionale standaard op te hef.

Internasionale maatskappye, soos Elon Musk se Tesla, kla steen en been omdat hulle gedwing word om plaaslike vennote (en potensiële mededingers) ’n belang van 50% van hul sake te gee en tegnologie met hulle te deel.

Intussen het Trump ’n verkiesingsbelofte gemaak dat hy dié land se nywerhede sal laat herleef. Hy het gekla dat veral China reuse-hoeveelhede staal en aluminium – tot nadeel van plaaslike vervaardigers – in die VSA stort, en strenger optrede hierteen beloof.

Hoe het sake tot dusver verloop?

Vroeg in Maart het Trump aangekondig dat die VSA voortaan tariewe op ingevoerde staal en aluminium gaan hef om daardie bedrywe in die VSA te beskerm. Toe volg hy dit op met bykomende tariewe op sekere produkte wat uit China afkomstig is. Dit sluit onder meer tegnologie uit die lugvaartbedryf, inligtingskommunikasietegnologie en elektroniese ware in.

China het gou gereageer deur ’n bykomende invoerheffing van 25% op Amerikaanse ingevoerde goedere soos sojabone, motors, chemikalieë en vliegtuie te hef.

Dit is duidelik dat die land baie mooi gedink het watter tariewe vir Trump se administrasie maksimum skade kan aanrig. China is byvoorbeeld die wêreld se grootste invoerder van sojabone en die grootste koper van die VSA se sojaboon-oes.

Dié handel ter waarde van $14 miljard per jaar is nou in die weegskaal. Die Amerikaanse state waar sojabone verbou word, is in die Republikeinse hartland en was van Trump se stoerste ondersteuners in die verkiesing.

Trump het toe gedreig om invoertariewe op ’n verdere 1 300 Chinese produkte te hef en ure later het China ook verdere tariewe, onder meer op Boeing-vliegtuie, aangekondig.

Wat is die jongste ontwikkelings?

Teen Dinsdagoggend het albei moondhede die retoriek effens afgeskaal en klein toegewings begin maak.

Die Chinese president, Xi Jinping, het belowe om sy land se ekonomie vryer te maak en invoertariewe op ’n aantal produkte, waaronder motors, te verlaag. Sy versoenende houding het markte in Asië en termynmarkte in die VSA effens gelig.

Ontleders meen egter die president was baie vaag oor besonderhede en dat China net toegewings maak in sektore waar hy reeds die oorhand het.

Trump het oor die naweek ook getwiet dat hy steeds ’n “goeie toekoms” vir albei lande sien.

Hoe raak dié handelsdispuut Suid-Afrika?

Wisselvallige en senuagtige markte is nie positief vir ontluikende lande soos Suid-Afrika nie, sê André Botha, valutahandelaar van TreasuryONE.

Die dollar se wisselvalligheid het die rand die afgelope tyd behoorlik laat bokspring.

Afhangend van wat die jongste ontwikkelings in die broeiende handelsoorlog tussen Amerika en China is, verstewig of verswak die dollar teenoor verskeie geldeenhede – waaronder die rand.

Botha waarsku dat die huidige verswakking van die rand kan voortduur. As dit gebeur, is hoër petrolpryse dalk volgende maand ons voorland.

“Op kort termyn sien ons die rand steeds teruggly teen die vernaamste geldeenhede met R12,15/$ wat ’n belangrike weerstandsvlak is. As die rand deur daardie vlak breek en dit volhou, kan ons die geldeenheid tot R12,40 sien daal.”

Suid-Afrika is ’n netto invoerder van sojabone en sojaprodukte, en China se invoertarief op die VSA se sojabone beïnvloed die internasionale prys.

“Ons word geraak deur die wisselvalligheid wat die dispuut in die mark meebring, maar dis nog te vroeg om te sê of daar langtermyngevolge sal wees,” sê Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz.

Dave Mohr, hoof van beleggingstrategie, en Izak Odendaal, beleggingstrateeg van Old Mutual Multi-Managers, sê plaaslike beleggers word geraak deur die dispuut deurdat die JSE wêreldmarkte afwaarts volg.

“Ons leef in ’n internasionaal geïntegreerde wêreld waar byna geen stuk masjinerie, toerusting of verbruikersproduk in sy totaliteit in ’n enkele land vervaardig word nie. Om hierdie ingewikkelde verskaffingskettings te probeer ontrafel, is soos om roereier weer terug in sy oorspronklike vorm te sit. As die VSA invoer uit China wil blok, sal ander lande eenvoudig die gaping vat.” – Netwerk24/Bykomende bronne: Reuters, USA Today

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!