Só onthou Namoloh vir Jannie Geldenhuys

12 September 2018 | Mense
Ronelle Rademeyer - Die voormalige Suid-Afrikaanse weermaghoof, genl. Jannie Geldenhuys (83), wat Maandag in ’n versorgingsoord op George in die Wes-Kap dood is, was ’n professionele soldaat wat respek afgedwing het.

Dít is hoe sy nemesis uit die dae van die Grensoorlog en latere goeie vriend, genl.maj. (afgetree) Charles Namoloh, hom gister beskryf het.

Namoloh, minister van veiligheid en sekuriteit, was stafhoof van Swapo se militêre vleuel, die People’s Liberation Army of Namibia (Plan).

Hy was, net soos Geldenhuys, ’n soldaat wat deur sy vyande gerespekteer is. Hy het destyds as “Ho Chi Minh” bekend gestaan.

Geldenhuys was gedurende sy militêre loopbaan lank die bevelvoerende generaal van die Kommandement Suidwes-Afrika, wat later die Suidwes-Afrikaanse Gebiedsmag geword het. Daarna is hy tot hoof van die leër bevorder en het in 1986 die hoof van die weermag geword.

Hy was ten nouste betrokke by die onderhandelinge wat Namibië se onafhanklikwording voorafgegaan het.

Namoloh het gister aan Republikein vertel hoe hy en Geldenhuys ná die oorlog vriende geword het.

“Wanneer hy in Windhoek gekom het, het ek, hy en (lt.genl.) Martin Shalli (voormalige hoof van die Namibiese weermag) saam gaan eet en lekker oor die ou dae gesels.”

Hy sê genl. Eddie Viljoen, ’n oudbevelvoerder van 32 Bataljon, was dikwels ook teenwoordig.

Onderhoude is ook destyds deur Linda de Jager, vervaardiger van die dokumentêre reeks Grensoorlog met hulle al vier gevoer. Die 24 episodes van dié reeks is later op kykNET uitgesaai.

“Ons was vyande, maar het vriende geword. In daardie onderhoude het ons as soldate van dieselfde portuur ons herinneringe aan die oorlog gedeel,” vertel Namoloh.

In 2006 was Estelle de Bruyn van Republikein (wat onlangs afgetree het) teenwoordig toe Geldenhuys vir Namoloh by sy kantoor in Windhoek besoek het. Hy was toe die minister van verdediging.

Sy woorde dié dag was: “Soldate verklaar nie oorlog teen mekaar nie; politici doen. Soldate voer net die politieke opdragte uit.”

Hulle het dié dag in nostalgiese gesprekke oor die veldslae gesels waarin hulle betrokke was, staaltjies herroep en noue ontkomings onthou.

Geldenhuys het daarop gewys dat die Suid-Afrikaanse weermag en die Suidwes-Afrikaanse Gebiedsmag groot respek vir Plan en sy soldate gehad het en hulle as gedugte teenstanders beskou het.

Geldenhuys, wat die laaste jare aan Alzheimer se siekte gely het, laat sy vrou, Marié, hul drie kinders en ’n kleinkind agter.

’n Gedenkdiens sal op 20 September om 10:00 in Pretoria-Oos se NG kerk gehou word.

Soortgelyk

 

Ondersoek staatskaping in Namibië, vra PDM

1 uur gelede | Politiek

Ronelle Rademeyer - Namibië se amptelike oppposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), sê hy “raak al meer daarvan oortuig die Namibiese staatsmasjienerie is gekaap” en...

Getuie pak skuld op Katrina

14 ure gelede | Howe

Denver KistingMe. Katrina Hanse-Himarwa, die destydse goewerneur van die Hardapstreek, het vier jaar terug gesê 'n lys van begunstigdes van die massabehuisingsprojek op Mariental moet...

'Robocop' vir pille

14 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – In ’n hospitaal in Namibië is ’n robot met die naam Eva wat binne sekondes sorg dat elke pasiënt met sy of...

Nog twee dood ná gru-ongeluk

14 ure gelede | Ongelukke

Tanja Bause - Die ongeluk waarin sewe mense verlede Woensdag tussen Otjiwarongo en Otavi gesterf het, het nog twee se lewe geëis. Die ongeluk het...

Waterbestuur by skole kan 50% spaar

14 ure gelede | Plaaslik

Elvira HattinghIndien die munisipaliteit se voor­gestelde waterbestuurmaatreëls aan die onderwysministerie by skole toegepas sou word, kan hul waterrekeninge met minstens 50% verminder, meen 'n kenner....

Weer vir 14

14 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en bloedig warm in die verre Noorde en Suide, andersins gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm.KUS: Gedeeltelik bewolk en koel tot warm.GETYE...

Unam-staking verby

14 ure gelede | Onderwys

Die 11 dag lange staking van dosente en ander werknemers van die Universiteit van Namibië (Unam) het Maandagaand tot 'n einde gekom. Die verteenwoordigende vakbonde,...

Teengif-trust gestig ná seuntjie sterf

14 ure gelede | Omgewing

Francoise SteynbergVrolike kinderlaggies in 'n cul-de-sac in die Elisenheim-landgoed noord van Windhoek is stil nadat klein Deon Heunis (Dehan) de Wet (2) sy dapper stryd...

Sesjarige deur 17-jarige skoolkind verkrag

14 ure gelede | Misdaad

Tanja Bause 'n Sesjarige meisie is in die ­Oshitosi-nedersetting by Okatope verkrag deur 'n 17-jarige seun wat in graad 5 is. Hy het die jong...