Só daal Johann Rupert se salaris by Richemont

Jaarverslag bekend

13 September 2019 | Sakenuus
Nellie Brand-Jonker – Johann Rupert, voorsitter van Richemont, se vergoeding het met bykans 12% in die pasafgelope boekjaar gedaal. Die jaarverslag vir die boekjaar tot einde Maart toon Rupert het 2,7 miljoen Switserse frank verdien. Dit is in vandag se wisselkoers gelykstaande aan R39,9 miljoen.

Die jaarverslag toon Rupert het die vorige boekjaar 3,06 miljoen frank verdien, wat beteken hy het die afgelope jaar 366 825 frank minder verdien.

Richemont, wat deur die Rupert-familie beheer word, het Woensdag sy jaarvergadering gehou waar alle besluite goedgekeur is.

In die jaarverslag word gesê die totale vergoeding wat aan die voorsitter van die direksie betaal word, word jaarliks deur die vergoedingskomitee hersien.

Geen verduideliking vir die verlaging is gegee nie.

Dit hou moontlik daarmee verband dat Richemont verlede jaar ’n uitvoerende hoof aangestel het.

Jérôme Lambert, wat in 2017 op die direksie aangestel is, is as uitvoerende hoof aangestel. Hy was sedert November 2017 die bedryfshoof.

In die jongste jaarverslag word gesê Rupert se vergoeding is van Oktober 2017 af verlaag.

Bloomberg het in September verlede jaar berig Rupert gee verdere beheer oor aan Lambert as deel van ’n geleidelike oorgee van die leisels. Dit sal meebring dat Rupert minder met die daaglikse bestuur van Richemont te doen sal hê.

Die stap het gekom nadat vrae ontstaan het oor die opvolgers van ander ouerwordende reuse in die bedryf vir luukse goedere, insluitende Bernard Arnault van LVMH en Patrizio Bertelli van Prada.

Die jaarverslag toon Lambert het 5,3 miljoen frank verdien, wat 10% meer as die vorige boekjaar is.

Lambert se aanstelling het gekom nadat Rupert twee jaar vantevore weggedoen het met die pos van uitvoerende hoof toe hy gesê het die maatskappy is te groot vir een persoon om te bestuur.

Rupert, wat 69 is, is in 1988 op die maatskappy se direksie aangestel en het van 2002 tot 2013 as voorsitter gedien. Hy het ’n sabbatsjaar geneem vanaf die jaarvergadering van 2013 af en is weer in September 2014 as voorsitter aangestel.

Rupert het in die twee boekjare tot einde Maart 2016 en 2017 in elk 3,2 miljoen frank verdien. Sy vergoeding het daarna in die boekjaar tot einde Maart 2018 reeds met 182 000 frank gedaal.

Richemont se bestuur is die afgelope jare redelik verander toe opvolgers vir ouer bestuurslui aangestel is.

Rupert het volgens Bloomberg in 2017, toe sy seun Anton as direkteur aangewys is, gesê hy (Anton) gaan nie ’n uitvoerende rol hê nie, maar dien as ’n skakel tussen die beherende aandeelhouer en die bestuur van Richemont.

Hy het gesê dit is tyd om meer verantwoordelikheid aan ’n groep jonger bestuurders te oorhandig, hoewel die “orkes nog ’n bietjie van ’n dirigent” nodig het.

Die jaarverslag toon sy seun Anton, ’n nie-uitvoerende direkteur, het sy vergoeding vir sy pligte as nie-uitvoerende direkteur van die hand gewys. Hy het dit ook in die vorige boekjaar gedoen.

Rupert is een van die rykste mense in die wêreld. Volgens Forbes se lys van die wêreld se rykste mense van 2019, wat in Maart uitgereik is, is hy een van die miljardêrs in dollarterme op die ranglys. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Anton Lubowski-gedenklesing vandag by Universiteit Stellenbosch

10 ure gelede | Mense

Die Suid-Afrikaanse politieke kommentator Max du Preez en regter Albie Sachs is die hoofsprekers by die eerste Anton Lubowski-gedenklesing wat op die 30ste herdenking van...

Twee Chinese moordbeskuldigdes borgtog geweier

1 dag gelede | Howe

Twee Chinese mans wat daarvan aangekla word dat hulle hul voormalige werknemer in April by die Andara-nedersetting in die Kavango-Oosstreek doodgeskiet het, is borgtog geweier....

Handelsknoop knap voor Brexit deurgehaak

1 dag gelede | Plaaslik

Ronelle Rademeyer - Namibiërs wat graag aan ’n Skotse whisky weglê, en Britte wat van Namibiese beeshaas of ander prima beesvleissnitte hou, kan gerus slaap....

Hof toe oor voorskrifte

1 dag gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - “Om van gewone mense in Namibië te verwag om afhanklik van ‘n doktersvoorskrif vir basiese medisyne te wees, is gelykstaande daaraan om...

Reuse-sege vir Okahandja-plakkers

1 dag gelede | Plaaslik

Yanna Smith – Inwoners van Vergenoeg, ’n onwettige nedersetting by Okahandja, het ná verskeie gemeenskapsvergaderings en -druk ’n reuse-oorwinning behaal.Dié druk, wat hoofsaaklik deur die...

Weer vir 12 September

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en koel tot warm in die Suide met 'n paar buie in die verre Suide, andersins sonnig en koel tot baie warm.KUS:...

Hage se lys ‘vervelig’

1 dag gelede | Politiek

Denver Kisting – Prof. Nico Horn sê pres. Hage Geingob se 10 kandidate om by Swapo in die Nasionale Vergadering (NV) aan te sluit, is...

‘Effense’ afname in hep. E-gevalle

1 dag gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die aantal hepatitis E-gevalle in die land het in die eerste drie weke van Augustus afgeneem. Sedert ‘n uitbreking van die siekte...

Apple cuts prices, ramps up services

1 dag gelede | Tegnologie

Glenn Chapman - Apple unveiled its iPhone 11 models Tuesday with a price cut for the most basic models while also laying out plans for...