Rugby-unie stel doelwit om te bou en te klim

Rugby

10 September 2019 | Sport
Andrew Poolman - Aggressiewe doelwitte gaan op verskillende vlakke nagejaag word in die volgende vierjaarsiklus tot die 2023 Wêreldbeker-toernooi.

Dit is die slotsom van die besprekings oor beplanning wat die Namibië Rugby-unie (NRU) die afgelope naweek tydens sy algemene jaarvergadering op Walvisbaai gedoen het.

Teen die einde van die 2020-seisoen moet die hoofafrigters van elke rugbyklub in die premierliga oor 'n vlak 3-afrigterskwalifikasie van Wêreldrugby beskik. Dieselfde vereiste word vir elke klub se krag- en kondisioneringsafrigters gestel.

Die premierliga-klubs moet ook die spel se nasionale struktuur help versterk deur 'n sewesspan én 'n vrouespan in die veld te stoot en minstens een nuwe skeidsregter by te dra.

Die president van die NRU, mnr. Corrie Mensah, sê die opheffing van Namibië se rugbyklubs hou die sleutel om die standaard van die land se spelers te verhoog.

“Daar is 'n duidelike verskil te sien in die standaard van ons klubrugby en die provinsiale vlak wanneer ons in kompetisies teen Suid-Afrikaanse unies meeding.

“Die uitdaging vir jou nasionale span by die Wêreldbeker is selfs nog op 'n hoër vlak as byvoorbeeld die Curriebeker.

“Ons rugbyklubs behoort met planmatigheid saam te werk sodat ons die nasionale afrigter se taak makliker maak as wat tans die geval is.”

Mensah sê die droom is vir Namibië om die fondasie van sy spel sodanig te verbreed dat hy, soos in Argentinië se geval, selfs 'n afsonderlike span kan afstaan om in die Curriebeker eerste liga mee te ding (die Jaguares XV het vanjaar inderdaad laasgenoemde kompetisie gewen).

“Sodoende skep jy vir die afrigter die aangename probleem van wie om weg te laat – eerder as dat ons steeds met 'n gebrek aan diepte in sekere posisies sit, soos met slotte en stutte.”

Nog 'n ambisieuse doelwit wat verklaar is, is dat Namibië 'n span moet bou wat in die 2023 Wêreldbeker nie net een nie, maar twéé wedstryde kan gaan wen. Dié prestasie sal meebring dat die land regstreeks vir die 2027 Wêreldbeker sal kwalifiseer en nie die pad deur Afrika-kompetisies hoef te volg om sy plek te bespreek nie.

Rugbyliefhebbers sal straks onthou dat Phil Davies, die nasionale afrigter, ná die 2015 Wêreldbeker 'n soortgelyke aggressiewe strewe uitgespreek het, naamlik dat Namibië elke rugbyseisoen een plek op die wêreldranglys moes klim om vanjaar se skouspel in Japan as nommer 15 te kon betree.

Davies het egter (afgesien van die vensterperiode Junie tot Augustus 2018) só selde toegang tot al sy beste spelers van oorsese klubs gehad, dat Namibië nie die internasionale toetse kon wen om tree vir tree hoër op die ranglys te klim nie.

Op grondvlak is die werklikheid ook dat Namibiese klubs – in Windhoek én op die platteland – dikwels vergeefs kla dat nie genoeg hulpbronne op klubvlak belê word nie.

Mensah is deeglik hiervan bewus, maar volgens hom was die afgelope naweek 'n eerste stap om die strategiese beplanning vir minstens die volgende vier jaar in plek te plaas. Hierdie proses gaan gewoonlik in noue samewerking met deskundiges verbonde aan Wêreldrugby gepaard.

“Ons sal voor die jaareinde 'n konferensie aanbied om alle rolspelers in ons toekomsbeplanning in te sluit,” het Mensah gesê.



NUWE VISEPRESIDENT

Mensah het mnr. Walter Don se verkiesing laas naweek as die NRU se visepresident vir bestuursake verwelkom.

Don is onbestrede verkies as die enigste kandidaat. Die amp is sedert middel November verlede jaar deur die bekende uitgetrede toetsskeidsregter mnr. Jacky Husselmann gevul, wat hom vanweë werkdruk nie langer beskikbaar gestel het nie.

“Walter het 'n sterk getuigskrif vir die amp. Hy het nou die dag weer 'n toekenning gekry as 'n bekroonde hoof uitvoerende beampte. Ek glo hy sal my taak baie makliker maak en kan 'n leidende rol speel om die soort struktuur te skep waarna ons in Namibiese rugby streef.”



BETROKKENHEID

Mensah sê die klubs se goeie bywoning van die afgelope naweek op Walvisbaai was uiters verblydend.

“Sover ek weet, is dit 'n rekord . . . ons het Saterdag 19 klubs by die jaarvergadering verteenwoordig gehad en net drie volmagstemme. Hopelik voorspel dit 'n ommekeer in rugbyklubs se betrokkenheid by die gesamentlike nasionale belang.

“Die vorige jaar in Windhoek het ons elf klubs teenwoordig gehad en die res was volmagstemme.

“Dit skep 'n ongesonde situasie indien een klub met 'n hand vol volmagstemme van afwesige klubs sit. Ons sal beslis by die volgende jaarvergadering 'n grondwetlike wysiging voorstel, dat elke klub hoogstens een volmagstem mag uitbring.”

Soortgelyk

 

Meegesleurde Okahandja-vrou steeds soek

1 uur gelede |

Elvira Hattingh - Die 42-jarige vrou wat gisteroggend deur die water meegesleur is toe sy en twee ander mense die Okahandjarivier te voet wou oorsteek,...

Hardap kry 19 Mm³ water sedert Maandag

1 uur gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Sedert die afgelope Maandag het die Hardapdam ’n reusehoeveelheid water bygekry, naamlik 19,523 Mm³ (miljoen kubieke meter). Die dam is nou 27,2%...

Nóg twee kietsies kry nekbande

2 ure gelede | Omgewing

Nóg twee swartpootwildekatte is in die vroeë oggendure met nekbande toegerus. Prof. Morgan Hauptfleisch en sy span van die Black-Footed Cat Working Group is tans...

Okahandja-kleinhoewe oorstroom weer

13 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh - Terwyl die polisie gistermiddag bevestig het ‘n vrou is nog soek nadat die Okahandjarivier haar vroeg gisteroggend meegesleur het, was ‘n kleinhoewe-eienaar...

Geingob stil oor kleiner kabinet

13 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Ten spyte van die groot gewag daaroor in sy Oujaarsrede weet Namibiërs nog nie hoe groot pres. Hage Geingob se verkleinde kabinet...

Eerste swartpootwildekat kry nekband

13 ure gelede | Omgewing

Francoise Steynberg - Daar is geskiedenis gemaak toe Namibië se eerste swartpootwildekat vandeesweek met 'n nekband toegerus is. "Om die klein katjies op te spoor,...

Weer vir 27 Februarie 2020

13 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Verspreide donderbuie sal oor die noordelike streke en Omaheke- en Khomasstreek voortduur waar kitsvloede verwag word. Die nodige voorsorgmaatreëls moet getref word. BINNELAND: Gedeeltelik...

Drie stroop glo renoster in Etosha

13 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg - Nege verdagtes is verlede week in verband met renosterstropery of -horingsmokkelary in hegtenis geneem. Vanaf 17 tot 23 Februarie is beslag op...

Droogte: Baie boere wurg nog

13 ure gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer - Foto’s van vol riviere, opgaardamme waarvan die vlakke styg en panne water langs die pad en in die veld het die afgelope...