Ronaldo: Dís waarom ek Juventus toe is
Sokker
Cristiano Ronaldo, die duurste speler in die geskiedenis van die sokkerklub Juventus, sê sy skuif na dié Italiaanse span was 'n “weldeurdagte besluit”.
Volgens Ronaldo, wat die klub van Turyn €100 miljoen (R1,54 miljard) uit die sak gejaag het, wil hy Juventus help om sy eerste Europese Kampioeneliga-titel in meer as twee dekades te verower.
Volgens Portugal se kaptein is hy beslis nie op pad Italië toe om in 'n gemaksone te beland nie, nadat hy die afgelope nege jaar vier Kampioeneliga- en twee La Liga-titels in die kleure van Real Madrid verower het. Die 33-jarige Ronaldo het 'n verstommende 451 doele gesamentlik in alle kompetisies vir Real aangeteken – die meeste in die klub se geskiedenis.
“Ek's iemand wat in die hede leef. Ek's nog jonk en het nog altyd van uitdagings gehou – van Sporting (Lisbon), tot Manchester (United) tot Real (Madrid) en nou Juventus.
“Dis die beste klub in Italië, met 'n uitstekende afrigter (Massimiliano Allegri) en bestuurspan. Dit was nie 'n moeilike besluit nie.
“Ek is baie ambisieus. Ek hoop dinge werk goed uit. Jy het ook geluk nodig, maar soms moet jy daarvoor gaan soek,” sê dié doelevraat.
Volgens Ronaldo is hy dankbaar dat hy 'n tuiste by Juventus gevind het, want gewoonlik eindig spelers van sy ouderdom by minder mededingende ligas soos dié in China of Katar op.
“Spelers dink gewoonlik hul loopbane is verby wanneer hulle 33 bereik. Ek voel egter glad nie so nie en het al bewys dat ek nie soos ander spelers is nie.”
Ronaldo het ook onthul dat die staande toejuiging wat hy by Juventus-ondersteuners gekry het nadat Real Madrid hul span in die kwarteindronde van die Europese Kampioeneliga geklop het, 'n rol in sy besluit gespeel het.
Ronaldo het in daardie wedstryd 'n verstommende doel met 'n oorhoofse skoot aangeteken.
“Om sulke applous te kry, maak jou opnuut lus om nuwe uitdagings aan te pak,” sê hy.
Ronaldo sal op 30 Julie saam met Juventus begin oefen en hoop om beskikbaar te wees vir hul eerste Serie A-wedstryd vroeg in Augustus. Juventus is die verdedigende ligakampioen in Italië.
– Netwerk24/Reuters

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie