Risiko vir sprinkaanplae hoog

Landbou-organisasie waarsku

10 March 2021 | Landbou
Elvira Hattingh – Die risiko vir die uitbreking van sprinkaanplae teen die einde van ’n goeie reënseisoen soos vanjaar, is hoog. Boonop sal die kans vir uitbrekings hoog bly tot ná die winter in Augustus asook tot in Januarie volgende jaar.

Dr. Gerhard Verdoorn, ’n plaagbestrydingskenner van Suid-Afrika, het dié waarskuwing aan die Namibië Landbou-unie (NLU) gerig dat weerstoestande tans uiters gunstig is vir sprinkane om uit te broei.

“Reën wat landswyd val, selfs in gedeeltes van die Kalahari- en Namibwoestyn, en gepaard gaan met hoë temperature, verhoog die moontlikheid vir nuwe uitbrekings.

“Sprinkane lê eiers in die grond wat slegs in gunstige toestande sal uitbroei, dit wil sê wanneer die grondvog, temperatuur en vog in die lug optimaal is. In die gebiede waar hulle uitbroei, lyk grondoppervlak ‘gebreek’ en die sprinkane is rooi vir die eerste twee tot drie dae,” waarsku Verdoorn.

Die afgelope Sondag is ’n swerm rooisprinkane by Rundu se Kaisosi-informele nedersetting opgemerk, soos mnr. Moses Munenge, ’n amptenaar van die ministerie van landbou, water en grondhervorming in die Kavango-Oosstreek, aan die nuusagentskap Nampa bevestig het.

Voor dit is die sprinkane ook in die Mashare-kiesafdeling opgemerk en toe ook Sondag by die Universiteit van Namibië (Unam) se Rundu-kampus en by die grensdorp se begraafplaas.

Munenge het bevestig die ministerie het ’n span wat gereed is om op te tree, sou die pes in dié streek uitbreek. Boere in die omgewing is bekommerd oor die bedreiging van hul gewasse en lewensbestaan.

BESTRYDING

Dié kennersmening volg nadat die VSA se Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie (NOAA) se klimaatsvoorspellingsentrum in ’n gevaarvooruitskouiingsverslag aan die begin van Maart gesê het peste, insluitend sprinkane, is reeds in die noorde van Namibië, Suid-Afrika se Vrystaatprovinsie asook in die weste van Botswana en Namibië aangemeld.

In die NLU-nuusbrief van Donderdag 4 Maart word twee bestrydingstegnieke teen sprinkaanplae voorgestel.

Die een is om kleinvee oor die gebiede te jaag waar die sprinkane pas uitgebroei het.

Nog ’n manier is om met ’n trekker wat ’n band agterna sleep, oor die swerm te ry. Dié metodes is doeltreffend omdat die meeste sprinkane dan nog in die voetgangerstadium is en sonder enige gifstowwe gedood kan word.

Die ministerie van landbou, water en grondhervorming bied ook ondersteuning aan boere in die geval van sprinkaanuitbrekings, sê die NLU. Boere word aangemoedig om die ministerie of die Namibië Landbou Unie te kontak vir hulp met sprinkaanbestryding.

2020-UITBREKINGS

Rooisprinkane het verlede jaar vanaf Augustus in Namibië se streke Zambezi, Kavango-Wes-, Kavango-Oos, Ohangwena en Oshikoto uitgebreek. Net in die Zambezistreek is 400 216 hektaar binnegedring en tot 5000 hektaar se weiding verwoes.

Sprinkaanplae het die eerste keer in Februarie verlede jaar binne nege van die land se tien gewasproduserende streke uitgebreek.

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) het in November verlede jaar ook ’n beroep gedoen op steun in die stryd teen Afrika-treksprinkane.

Dit volg nadat altesaam tien SADC-lande sedert die begin van 2020 uitbrekings van die pes ervaar het. Toe is gesê dit hou ’n ernstige bedreiging vir voedselsekuriteit in die streek in, met die grootste getalle mense in ’n dekade wat voedseltekorte in die gesig staar – ook weens inperkings wat teen die Covid-19 pandemie ingestel was.

Die lande wat deur treksprinkane getref is, is Namibië, Suid-Afrika, Botswana, Malawi, Mosambiek, Tanzanië, Eswatini, Zambië, Angola en Zimbabwe.

[email protected]

Soortgelyk

 

Pryse van petrol, diesel styg

3 ure gelede | Energie

Die prys van petrol en diesel styg aanstaande week met onderskeidelik 50 sent elk per liter. Die verhoging tree om middernag op 7 April in...

Baie nuwelinge kry viskwotas

3 ure gelede | Visserye

Ondernemings wat tevore visvangkwotas besit het, maak 29% van suksesvolle aansoekers uit, het die minister van visserye en mariene hulpbronne, dr. Albert Kawana, vanmiddag aangekondig.Dit...

WHO vra vir verdere studies oor oorsprong van SARS-CoV-2-virus

4 ure gelede | Gesondheid

Die verslag van die internasionale span van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) oor hul ter plaatse besoek aan Wuhan is vandag bekendgemaak, met die WHO se direkteur-generaal...

Sewe sterftes, 221 nuwe gevalle

5 ure gelede | Gesondheid

Namibië het nou 520 Covid-19-verwante sterftes, nadat nog sewe - twee in Windhoek en een elk in Walvisbaai, Outjo, Omaruru, Walvisbaai en Rundu - aangeteken...

Windhoekers met agterstallige rekeninge se water en ligte gaan...

6 ure gelede | Infrastruktuur

Die Windhoekse munisipaliteit sê inwoners van die hoofstad wie se water- en ligterekeninge 30 dae en meer agterstallig is, het tot Dinsdag 6 April om...

Sluitingsdatum vir Shining Light verleng

6 ure gelede | Kuns en vermaak

Die sluitingsdatum vir die Shining Light juweliersontwerpkompetisie is tot 30 April verleng. Me. Helena Mootseng, woordvoerder van die Namibian Diamond Trading Company (NDTC) sê...

Hoërskool Rehoboth gesluit tot ná Paasnaweek

10 ure gelede | Onderwys

Hoërskool Rehoboth is vanaf vandag tot Dinsdag 6 April gesluit. Volgens die bestuur van die skool sal dié tyd gebruik word om die skoolperseel deeglik...

Waarskuwingskote stuit vermeende diewe

21 ure gelede | Misdaad

Vermeende diewe is vroeër vandag in Robert Mugabelaan naby Bank of Namibia in die hoofstad in hegtenis geneem nadat skote afgevuur is. "Twee waarskuwingskote is...

Robberts bly in aanhouding

21 ure gelede | Howe

Erwin Leuschner – Die 36-jarige mnr. Daniel (Danie) Robberts bly in aanhouding nadat hy na bewering sy vriend, mnr. Thomas Frederick (Frikkie) van Schalkwyk (69),...