Reën bring blydskap én skade

Die Suide het oor die naweek op plekke baie reën ontvang en talle riviere was in vloed.
Tanja Bause
Tanja Bause - Die afgelope naweek se goeie reëns het ook ’n keersy gehad.

’n Intercape-bus het, sowat 45 km van Keetmanshoop af op pad na Grünau, weens vloedwater amper van die pad af gespoel.

Volgens mnr. Danie Erasmus, van Rassie’s Breakdown Service op Keetmanshoop, het hy Vrydag omstreeks 00:05 ’n oproep vanuit Grünau ontvang.

“Ek het om 00:30 by die toneel gestop en gesien die bus is deur die vloedwater in die verkeerde baan ingedruk. Die grond was aan die kant van die water weggespoel en die regtervoorwiel het oor die teerpad gaan vassteek,” het hy gesê.

“Ek het ons groot vragmotor gaan haal en die bus agter gaan haak en uitgetrek. Om 03:30 was die bus, met alle passasiers, op pad Kaap toe.

“Daar was verskriklik baie en sterk water en ek was in ’n stadium tot by my knieë in die water. Ek het, net ná ek die bus uitgerek het, ook ’n sedan uitgetrek, wat van die pad af gespoel het.

“Ons het ook nog ’n bus van Intercape en ’n bussie van Bailey’s Reho Liner wat op pad Kaap toe was deur die water gelei. Twee ander busse van Intercape het op Grünau gewag tot die bus, wat vasgesteek het, op die pad was vóór hulle verder Windhoek toe gery het,” het Erasmus gesê.

Volgens hom het dit Saterdag weer sterk in die Aroab-omgewing gereën en moes hy nóg voertuig uitsleep.

“Sondag het my pa ’n brandstoftenkwa by Koës gaan help, wat van die pad gegly het. Dit is chaos hier onder met die nat en verspoelde paaie,” het hy gesê.

Rivier spoel tente weg

Vrydag om 21:00 het die 22-jarige mnr. Ben Markus by Namibia Wildlife Resorts (NWR) se Hobas-kamp naby die Visriviercanyon verdrink.

Hy was ‘n werknemer op die plaas Boomplaas. Volgens die Namibiese polisie het Markus en agt ander mense in tente geslaap toe die rivier afgekom het en die tente meegesleur het.

“Hulle het by die oord gekampeer toe dit baie hard begin reën het. Werkers het ’n harde geluid gehoor toe die rivier skielik afgekom het,” het hoofinsp. Kauna Shikwambi, polisiewoordvoerder, gesê.

Agt mense is Vrydagnag gered en Markus se liggaam is Saterdag om 08:00 ontdek.

Die kampplek is deur die vloedwater oorstroom en beskadig.

Volgens me. Marika Raves, eienaar van die Maltahöhe Hotel, het dit tussen 48 mm en 53 mm Vrydag tussen 16:45 en 17:30 op Maltahöhe gereën.

“Daar was ’n verwoestende wind wat tydens die reën uit alle rigtings gewaai het. ’n Groot deel van die hotel se familiekamers en die stoor se dak het afgewaai – die hele dak, met sterk balke en al.

“Die wind het ook die lugreëling se waaierlemme op ’n ander dak afgebreek. Twee groot peperbome is by die hotel en talle bome op die dorp self het omgewaai,” het Raves gesê.

“Dit beïnvloed glad nie ons daaglikse sake of gaste nie. Ons gaan soos gewoonlik voort,” het sy gesê.

Blydskap

Volgens mnr. Simasiku Maketo van Karasburg het dit Vrydag liggies op die dorp begin reën.

“Saterdagnámiddag het dit egter baie hard begin reën, en teen 17:00 wasdie Westerkim-nedersetting se strate op Karasburg onder water. Mense het uit hul huise gekom en in die stromende water gaan stap en speel van blydskap,” het hy gesê.

“Dit was ongelooflik. Ons het nog nooit sulke hewige reën of so baie water beleef nie, en hoewel die strate nou deur die vloedwater beskadig is, is almal hier baie dankbaar en opgewonde oor die reën,” het hy gesê.

Mnr. Ruben Kanjella van Karasburg het gesê hy woon al drie jaar op die dorp en dit die eerste keer dat hy so baie water sien.

“Die wolke is weer besig om op te bou en almal wag dat dit nóg moet kom reën. Mense is bly en hoopvol op nog reën,” het hy gesê.

Me. Berdine de Klerk het op die Facebook-bladsy “Reën in Namibia” gesê hulle het 25 mm by hul huis op die plaas Arbeid in die Klein Karas/Grünau-omgewing gemeet.

“Ons plaasdam het in agt ure volgeloop en oorgeloop. Die water het meestal van die teerpad tussen Keetmanshoop en Grünau af gekom,” het sy geskryf.

Die plaas Aningoas, wes van die Groot Karasberge in dieselfde omgewing, het 60 mm reën ontvang.

“Die plaasdam op die plaas Kanebis op die pad na Ai-Ais het vir die eerste keer in jare soveel water gekry dat die dam oorloop,” het me. Marie van Niekerk gesê.

Die Nautedam by Keetmanshoop is 95,5% vol, maar teen gister was daar nog geen planne van NamWater om die sluise oop te maak nie.

Die Löwen- en die Gaaprivier by Holoog het sterk afgekom, asook die Guruchabrivier tussen Keetmanshoop en Aroab. Die Schaaprivier was ook in vloed.

Meer as 60 mm is by die Canyon Roadhouse en 40 mm by Gondwana Collections Namibia se Canyon Lodge gemeet.

Die Aranos-omgewing het 75 mm ontvang en Aranos self 20 mm.

Maar ook Stampriet, Mariental, Koës, Gochas, Keetmanshoop en Rosh Pinah kon in die vreugde van sowat 20 mm tot 30 mm deel, terwyl mnr. Johan Brandt Vrydagaand 60 mm by Leonardville gemeet het.

Dit het 30 mm by Otjiwa naby Otjiwarongo en 30 mm op Grootfontein gereën.

Die plaas Toevlug, noordoos van Grootfontein teenaan Mangetti, het 50 mm ontvang.

Die jaarlikse Elnatan-atlietiekbyeenkoms op Stampriet moes weens die reën afgestel word. Windhoek-ouers, wie se kinders baie vroeg Saterdagoggend per bus daarheen sou vertrek, is gedurende die nag per WhatsApp ingelig dat dit gekanselleer is.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!