Rekenmeester kry 10 jaar tronkstraf
Rekenmeester kry 10 jaar tronkstraf

Rekenmeester kry 10 jaar tronkstraf

'n Voormalige rekenmeester is gister gevonnis vir die N$5,8 miljoen wat hy by sy werkgewer gesteel het.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Rekenmeester Peter Tyran Kohler, wat N$5 856 075,90 van sy werkgewer Pennypinchers Timbercity gesteel het, is Dinsdag deur regter Christie Liebenberg in die Windhoek-hoërhof tot effektief 10 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Nadat hy versagtende omstandighede in Kohler se guns oorweeg het, het Liebenberg gesê dat witboordjiemisdaad 'n ernstige oortreding is wat tronkstraf regverdig.

Vir die 218 klagte van bedrog, is Kohler tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan 5 jaar vir 5 jaar ­opgeskort is, op voorwaarde dat hy nie gedurende die tydperk aan bedrog of diefstal skuldig bevind word nie.

Die 18 maande wat hy reeds in ­aanhouding was, is ook in ­aanmerking geneem.

Die regter het aan Kohler gesê die feit dat hy in 'n vertrouensposisie was wat hy misbruik het toe hy die bedrog gepleeg het sowel as die lang tydperk waartydens hy die misdade gepleeg het, ernstige verswarende omstandighede daarstel.

Liebenberg het verder genoem die feit dat Kohler skuldig gepleit het en waarlik berou getoon het, ter versagting gedien het in die oorweging van vonnis.

Kohler het ook van al sy persoonlike bates (insluitend sy pensioenfonds) afstand gedoen om sy werkgewer se verlies tot ongeveer N$4,7 miljoen te verminder.

“Die sogenaamde witboordjiemisdade het algemeen in hierdie jurisdiksie geword en die hof het die reg om geregtelike kennisgewing daarvan te neem en vonnisse op te lê wat as afskrikmiddel sal dien om hierdie plaag te hanteer,” het die regter in sy uitspraak gesê.

Liebenberg het verder gesê Kohler sal sy hele lewe lank moet leef met die wete dat sy familie as gevolg van sy misdaad swaar sal kry. “Alhoewel die beskuldigde aan die hof gesê het dat sy familie onskuldig is en nie 'n party tot sy oortredings was nie, is hy bewus dat hy alleen verantwoordelik is vir die swaarkry en ellende wat hulle moet deurmaak” het hy in sy uitspraak gesê.

Kohler was vanaf Oktober 2009 tot Februarie 2013 'n rekenmeester by die Windhoek-tak van Pennypinchers Timbercity en daarna bestuurder by die maatskappy se Ongwediva-tak, waar hy ook die winkel se boekhouding behartig het tot sy inhegtenisneming in September 2015.

Kohler het vanaf Oktober 2009 die boekhoudingstelsel van die twee ­besighede gemanipuleer om die indruk te skep dat betalings aan ­krediteure van Pennypinchers Timbercity gemaak is, terwyl dit in twee bankrekeninge in sy eie naam inbetaal is.

Hy het ook van sy persoonlike skuld met sy werkgewer se geld betaal. Kohler het vanaf Oktober 2009 tot Julie 2015 sowat N$5,6 miljoen in sy eie bankrekeninge inbetaal.

Kohler het tydens sy verhoor aan die hof vertel die motivering vir die diefstal was die begeerte om goedere te koop.

Hy wou eers net die geld uit die maatskappy se rekening leen en dit dan terugbetaal, maar dit het nooit gebeur nie en hy het dit weer en weer gedoen.

Kohler het die gesteelde geld gebruik om verbandbetalings te maak, na sy moeder om te sien en lewensgoedere­ aan te koop.

Die staat het in betoë ter verswaring van Kohler se vonnis gesê hy het gesteelde geld gebruik om 'n uitspattige lewenstyl te handhaaf en die hof versoek om 'n swaar straf op te lê.

Staatsadvokaat Ingrid Husselmann het namens die staat opgetree en mnr. Mese Tjituri het Kohler verteenwoordig.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!