Reisigers afgeraai
Reisigers afgeraai

Reisigers afgeraai

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Mense wat uit die Erongostreek na ander streke in die land reis, word in verpligte kwarantyn van 14 dae geplaas. Walvisbaai is tans die episentrum van die Covid-19-pandemie in Namibië.

Volgens me. Naemi Shoopala, direkteur van primêre gesondheid in die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS), was die beginsel nog altyd om sulke reisigers in verpligte kwarantyn te plaas, te toets en as hulle “skoon” is weer terug na hul onderskeie gemeenskappe te stuur.

Shoopala het tydens ’n bespreking by die Covid-19-kommunikasiesentrum (CCC) in Windhoek oor hersiende regulasies en prosedures vir kwarantyn gesê ’n geskrewe regulasie hieroor sal “binne ’n kort tyd” beskikbaar gestel word.

Shoopala het mense aangemoedig om eerder te bly waar hulle is, totdat die ministerie beheer oor die situasie verkry het.

Volgens Shoopala ervaar die streek, in veral Walvisbaai, tans gemeenskapsoordrag en is mense ook geïdentifiseer wat van Erongo na ander streke gereis en daar positief vir Covid-19 getoets het.

“Dit is veel beter om die infeksie in een ligging te beheer as wat dit oraloor in die land versprei. Laasgenoemde scenario sal ernstige gevolge vir openbare gesondheid inhou en druk op beskikbare hulpbronne plaas,” het sy gesê.

Me. Patemoshela Hamunyela, waarnemende direkteur van gesondheid in die Khomasstreek, het op haar beurt gesê permitte vir reis van en na die streek word volgens die behoefte van die reisiger uitgereik. Die aansoek moet van ’n brief vergesel word wat die rede vir die besoek motiveer.

Volgens Hamunyela hang dit af van die diskresie van die beampte wat die permit uitreik of dit goedgekeur word al dan nie.

Tans word voorkeur aan verskaffers van noodsaaklike dienste gegee.

“MoHSS reik net permitte uit aan gesondheidsverwante persone, wat gesondheidswerkers en die verskaffers van mediese toerusting insluit,” het Hamunyela gesê.

Sou die beplande reis nie gesondheidsverwant wees nie, sal dit “versigtig” uitgereik word.

“Ons laat nie enigiemand toe om sonder meer te reis nie, in ’n poging om oordrag van die siekte te beperk.”

Shoopala het ook verwys na die koste van kwarantyn wat nou vir die reisiger se rekening is. Resigers moet MoHSS minstens twee weke voor die beplande tyd van aankoms verwittig, asook waar hulle beplan om in kwarantyn te gaan.

Dit is om te verseker reisigers daag nie “onaangekondig” op terwyl kwarantyngeriewe nie gereed is om hulle te ontvang nie.

Intussen is ’n ouerpaar en hul weke-oue baba reeds vir byna drie weke in kwarantyngeriewe by Grünau. Volgens die vrou het verskeie navrae by van die MoHSS tot die Nasionale Instituut vir Patologie (NIP) geen antwoorde opgelewer oor wanneer hulle uiteindelik hul toetsuitslae kan verwag nie.

Hul baba is reeds twee weke oor haar immunisasie, terwyl sy moet staatmaak op haar dokter in Karasburg om dringend voorgeskrewe noodsaaklike chroniese medikasie vir haarself met ’n geleentheid tot in Grünau te kry.

Die egpaar wat 30 km buite Karasburg boer, was drie maande laas op hul plaas. Hul baba is in Suid-Afrika gebore.

“Ons kos die staat geld en moet ’n prioriteit wees,” het sy gesê. Volgens die vrou het hulle die staatsdokter wat inwoners by die kwarantyngeriewe besoek teen Vrydag reeds vir drie dae nie gesien nie.

“Wat as enigiets fout gaan? Ek het ’n keisersnee gehad en ons sit met ’n pap babatjie. Hulle (die staat) gee eenvoudig nie om vir mense in kwarantyn nie.”

Nog ’n vrou wat Republikein gekontak het, sê haar man was Vrydag 17 dae in die kwarantyngeriewe by Gross Barmen waar twee mense vroeër positief vir Covid-19 getoets het. Sy het haar man wat ’n Suid-Afrikaanse burger is op 14 Februarie laas gesien, nadat hy in die buurland sy dokumente vir verblyf in Namibië moes gaan regkry.

Volgens haar is haar man Dinsdag getoets.

“Ons kom met ’n bitterlike seer pad en die afgelope tyd was hel. Niemand sê niks en wil antwoorde gee nie,” het sy gesê.

Teen druktyd het Namibië 412 gevalle van Covid-19 gehad, wat een pasgebore baba insluit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!