Rehoboth verenig in rou

Denver Kisting
Denver Kisting op Rehoboth – Die rou snikke van ’n 20-jarige ma van Rehoboth, me. Roseline Moss, kon gister deurgaans gehoor word toe haar twee weke oue babadogtertjie, Charmaine, begrawe is.

Charmaine is verlede week dood nadat sy wreed verkrag is – glo deur haar pa, mnr. Gert Skrywer (26).

Oor die beweerde gruweldaad sê me. Monica Geingos, die eerste dame, tragedies verenig mense dikwels.

Aan Moss het sy gesê: “Ons is na julle getrek deur die tragiese verlies wat julle ervaar het met die heengaan van jou kosbare baba, Charmaine. Ons weet woorde het min betekenis in oomblikke soos dié. Ons weet ook dis onmoontlik om die diepte van jou pyn te verstaan. Ons harte bloei saam met joune en ons gebede verrys in gelid saam met dié wat saam met jou rou.”

Rou, sê Geingos, behels ’n lewenslange reis. “Ons verstaan hartseer gaan nooit weg nie – ons leer eenvoudig om daarmee saam te leef.”

Die eerste dame meen “geweld is dikwels ’n manifestasie van diepgewortelde psigo-maatskaplike faktore, en, as Namibiërs, is dit tyd dat ons verantwoordelikheid aanvaar om die hoë vlakke van maatskaplike wanfunksie te verminder. Ons moedig hulpsoekende gedrag ten sterkste aan, omdat mense wat seer het dikwels ander seermaak.”

Geingos het ’n beroep op die gemeenskap van Rehoboth gedoen om aan te hou om vir mekaar lief te wees en om te gee soos hulle die afgelope twee weke na die Moss-gesin uitgereik het. “Ons mag dalk deur ’n tragiese gebeure byeengebring gewees het, maar wat ons bymekaar sal hou is die hoop, liefde en meelewing wat julle getoon het.”

Haar toespraak is deur haar tegniese raadgewer en haar kantoor se hoof van geslagsgegronde aangeleenthede, dr. Veronica Theron, voorgelees.

Honderde roubeklaers het gisteroggend van die begrafnisondernemer in die middedorp tot by die Moss-woning in Blok E gestap om van die babameisie afskeid te neem en met plakkate hul wrewel in die baba se dood te kenne gegee.

Eerwaarde Betty Schröder, wat op die begrafnis gepreek het, het gesê kerkleiers het stil geword oor die euwels in die samelewing. “As ons ons nie kan uitspreek oor die euwels in die samelewing nie, is my vraag: Vir wie verteenwoordig die kerk?”

Sy sê die tyd het aangebreek vir die kerk om haar stem dik te maak oor onder meer “’n twee weke oue baba wat verkrag word tot sy die einste gawe van lewe wat sy gekry het, verloor”.

Die predikant sê voorts: “Die kerk moet standpunt inneem en ferm staan. Maar ons is verdeeld. Ons vernietig mekaar. Ons verneder mekaar. Waar is die kerk? Ons mense vergaan. Kinders word deur hulle ouers verkrag. Die kerk het versuim om berading te gee.”

Volgens haar was van die hordes mense gister daar net vir die vertoning. “Ons handel vandag dié begrafnis af en môre sal jy ons nie sien nie.”

Schroder het ook ’n beroep gedoen op die gemeenskap om die vermeende oortreder te vergewe. “Terwyl ons oordeel, bid ook vir vergifnis.”

Die oudgoewerneur van Hardap en die voormalige minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Katrina Hanse-Himarwa, het aan die roubeklaers gesê: “Ons is kwaad. Ons is seer. Ons is bang. Ons is bang vir die mans en seuns in ons huise. Die vertroue in die beste pa’s, ooms en manne is gebreek. Dít is die trauma waarmee ons moet leef.”

Volgens haar het ma’s veral ’n reusetaak. “Dis tog ons seuns, ons manne. Moeders, kom ons maak ons seuns groot met die grootste liefde en omgee. Laat voel hulle hulle is mense wat iets beteken – al is hulle werkloos; al is hulle op straat.”

Skrywer verskyn weer op 22 September in die Rehoboth-landdroshof.

Tydens sy eerste verskyning op aanklag van moord en verkragting in dié hof die afgelope week is borgtog geweier.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

SerieA: Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!