Regsvereniging kry bloedneus

Namandje se boeke bly toe

17 August 2020 | Howe
Denver Kisting – Die Teenkorrupsiekommissie (ACC) en die Sentrum vir Finansiële Intelligensie (FIC) is onder skoot vir hoe die saak teen mnr. Sisa Namandje, ’n gesiene plaaslike prokureur, in duie gestort het.

Mnr. Eben de Klerk, ook ’n plaaslike prokureur, het nadat die Regsvereniging van Namibië (LSN) Vrydag bloedneus gekry het in die Windhoek-hoërhof, gesê die ACC en die FIC het hul pligte versuim.

Hy sê behalwe dat hulle nie hul werk gedoen het nie, het hul hul pligte op die LSN gestort.



Namandje, ook pres. Hage Geingob se persoonlike regsverteenwoordiger, het Vrydagmiddag gehoor hy hoef nie sy praktyk se boeke vir inspeksie oop te gooi nie.

Dít kom nadat regter Herman Oosthuizen die aansoek deur die LSN van die hand gewys het.

Oosthuizen het ook gelas die LSN moet pa staan vir Namandje se regsonkoste.

Volgens die regter was die LSN se aansoek nie op ’n behoorlike raadsbesluit geskoei nie.

Oosthuizen se uitspraak lui dat ’n uittreksel van ’n raadsvergadering van 24 Januarie vanjaar, waartydens besluite glo geneem is rakende ’n ondersoek na die bedrywighede van ’n LSN-lid en ’n regsfirma, as gesag voorgehou is.

Die regter sê nêrens in dié uittreksel is daar enige verwysing na ’n redelike veronderstelling deur die raad dat Namandje en kie skuldig is aan onbehoorlike gedrag nie.

Trouens, sê hy, die notule toon raadslede het – teenstrydig met die wet – nie ’n besluit geneem om stappe te doen nie en dít eerder op die LSN-direkteur afgeskuif.

Aangesien die wet nie voorsiening maak vir wanneer ’n kworum nie gevorm is omdat raadslede óf afwesig óf botsende belange het, kon die twee oorblywende lede wat gevolglik tydens Januarie se vergadering oor was, nie ’n wettige besluit neem nie, lui Vrydag se bevinding.

Kommentaar

Die LSN het Saterdag by navraag by monde van sy regsverteenwoordiger, me. Uno Katjipuka-Sibolile, gesê dit is te vroeg om te bepaal of hulle teen die bevinding appèl sal aanteken.

Volgens haar sal hulle die uitspraak deeglik bestudeer voor hulle oor die weg vorentoe besluit.

Op sy beurt het Namandje gesê: “Ek het dit nie gevolg nie. Ek is in die Noorde, waar ek rou oor my skoonma wat verlede naweek gesterf het. So, geen kommentaar nie.”

Agtergrond

Namandje en die LSN was in Junie vanjaar vir twee dae in ’n hewige stryd voor Oosthuizen gewikkel.

Katjipuka-Sibolile wou namens die LSN toegang hê tot Namandje se boeke omdat dié regulatoriese liggaam vermoed die prokureur se trustrekening kon vir onregmatige doeleindes aangewend gewees het.

Adv. Raymond Heathcote, SC, het namens Namandje gesê die LSN oorskry met dié aansoek hul magte.

Trouens, wat dié liggaam probeer vermag, behoort ongrondwetlik te wees, het Heathcote volgehou.

Dit druis volgens hom in teen die Grondwet se bepalings oor privaatheid.

’n Dokumentêre program op Al Jazeera en ’n beweerde ondersoek deur die FIC het die LSN onraad laat vermoed, het Katjipuka-Sibolile gesê.

Dié program het grootskaalse beweerde plundery van Namibiese viskwotas ten bedrae van etlike miljoene dollar aan die kaak gestel.

Dit het daartoe gelei dat twee kabinetsministers, mnre. Bernhard Esau en Sacky Shanghala, verlede jaar bedank het.

Hulle is sedertdien saam met mnre. James Hatuikulipi, Tamson Hatuikulipi, Ricardo Gustavo en Pius Mwatelulo, weens dié skandaal in hegtenis geneem.

Die mans is aanvanklik by die polisiekantoor op Seeis aangehou maar word tans by die Windhoek Sentrale Gevangenis gehuisves.

Verskeie pogings om op borgtog vrygelaat te word, het tot dusver misluk.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Min kans vir vlieg na SA

1 uur gelede | Toerisme

Ronelle Rademeyer - Hoewel Suid-Afrika Donderdag sy grense vir besoekers uit goedgekeurde lande, waaronder Namibië, heropen, moet Namibiërs vir eers verlief neem met die feit...

Remaining powerful through education

1 uur gelede | Mense

Ester Kamati With a key interest in space science and the history of science, watching videos on these topics is Hosea Hashili’s favourite pastime. Hasili...

Weer, Dinsdag 29 September 2020

1 uur gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm tot baie warm, maar baie warm in die Noorde. Enkele wolke sal na verwagting oor die Zambezistreek voorkom.KUS: Gedeeltelik bewolk en...

Vroeggebore tweeling sterk goed aan

1 uur gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Twee maande nadat hulle te vroeg op 27 weke in die Lady Pohamba Private Hospitaal in Windhoek gebore is, kan die ouers...

Nuwe Fenata-voorsitter vanuit ontluikende toerismebedryf

1 uur gelede | Toerisme

Francoise Steynberg - Geskiedenis is gemaak toe die nuwe voorsitter van die Namibiese Toerismevereniging (Fenata), me. Netumbo Nashandi, vir die eerste keer uit die geledere...

Onopgeloste verdwynings, moorde stapel op

1 uur gelede | Misdaad

Ellanie Smit – Terwyl die familie van die 22-jarige me. Shannon Darlikie Wasserfall met die trauma van haar verdwyning ses maande gelede worstel, dreig die...

One ­Africa TV ­partners with NMH

1 uur gelede | Onderwys

Distributed through Namibia Media Holdings' (NMH) youth brand, My Zone, the newly added grade zero to seven lessons form part of a ­collaboration with the...

A look at National Readathon, Heritage Week

1 uur gelede | Onderwys

Enzo AmueleThe National Readathon and Heritage Week, which were launched by the minister of education, arts and culture Ester Nghipondoka, took place last week.The Readathon...

Dagboek vir die landbouer

1 uur gelede | Landbou

Agra ProVision se kursusseAgra ProVision bied van 5 tot 8 Oktober 'n kursus oor plaasbestuur in Windhoek aan en daarna van 6 tot 8 Oktober...