Regering gelooi oor waterkrisis
Was dit nie vir strategieë soos onder meer die opstelling van waterbesparingsdoelwitte en die daadwerklike finansiering vir die ontwikkeling van die Windhoek-akwifer nie, was ernstige watertekorte en -beperkings die hoofstad se voorland.
Elvira Hattingh - Senior regeringsamptenare en politici het min bydraes gelewer tot die afweer van Sentraal-Namibië en Windhoek se waterkrisis.
Volgens 'n verslag wat mnr. Dietrich Remmert van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) uitgereik het, is die suksesvolle, dog tydelike hantering daarvan te danke aan 'n handjie vol proaktiewe individue en sekere afdelings binne openbare instansies.
“Dit is alleenlik hul strategieë en praktiese stappe, wat sterk deur die private sektor en bekommerde stadsbewoners gesteun is, wat deurslaggewend daarin was dat stadsbewoners, besighede en openbare instansies tot dusver 'n ononderbroke toevoer van water gehad het,” lui die verslag.
“Wanneer daar gekyk word na openbare uitsprake met betrekking tot beleidformulerings deur senior nasionale regeringsamptenare, moet 'n mens ongelukkig tot die slotsom kom dat hulle baie min bygedra het wat betref leierskap en steun vir die bestuur van die waterkrisis.
“Die retoriek deur senior regeringsamptenare het oor die erns van die situasie gegaan en kommer is uitgespreek oor die geskatte hoë koste om infrastruktuur in die watersektor op te gradeer, maar tog is konkrete strategieë en aksieplanne selde in die openbaar geformuleer.
“Dit is maar net oor die afgelope maande dat sentrale regeringsamptenare leierskap in die verband geneem het,” lui Remmert se verslag.
Volgens die IPPR was Sentraal-Namibië se huidige waternood nie onvoorsienbaar nie en kan dit ook nie afgemaak word as 'n korttermynprobleem wat vinnig deur tegniese kennis of beleggings in infrastruktuur opgelos kan word nie.
“Die waterkrisis in Windhoek skep vrae oor die land se waterbronne en hoe dit bestuur word, maar wek ook wyer en ernstige oorwegings as dit by Namibië se ontwikkelingstrajek kom,” het Remmert gesê.
Hy het gesê as dit nie was vir strategieë soos onder meer die opstelling van waterbesparingsdoelwitte, verhoogde watertariewe, waterbesparingsprogramme in samewerking met nywerhede, die daadwerklike finansiering vir die ontwikkeling van die Windhoek-akwifer en die identifisering en teiken van hoë watergebruikers nie, sou ernstige waterbeperkings voortduur.
“Die meerderheid suksesse van die krisisbestuur is te danke aan Windhoek se munisipaliteit en die samewerking van sekere nywerhede en private huishoudings.
“Die media het ook 'n groot rol gespeel om bewustheid oor die watertekort te skep – in die afwesigheid van 'n ander toegewyde bewusmakingsveldtog.”
Volgens die verslag het Sentraal-Namibië reeds in 2013 die punt van volhoubare waterverbruik verbygesteek.
“Waterverbruiksyfers wat deur NamWater en die munisipaliteit bygehou word, dui aan die hoofstad en omliggend gebiede leef op geleende tyd,” het Remmert gesê.
“Ernstige vrae moet gevra word oor die langtermynlewensvatbaarheid van Windhoek as die sentrale punt van ekonomiese groei.
“Daadwerklike optrede en die voorsiening van beduidende finansiële hulpbronne deur die sentrale regering is noodsaaklik om 'n ernstige waterkrisis in die nabye toekoms te voorkom.
“Die voorstel is dat toepaslike bestuurstrategieë vir die vraag na water voortdurend toegepas moet word, ongeag hoeveel water beskikbaar is. Boonop moet die relevante owerhede seker maak genoeg geld is beskikbaar om die Windhoek-akwifer as noodbron te ontwikkel.
“Die munisipaliteit, NamWater, die ministerie van landbou, water en bosbou asook ander plaaslike owerhede moet hul samewerking versterk as dit by die bestuur van waterbronne kom. Ou en afgeleefde infrastruktuur in openbare instansies moet vervang word en 'n goed nagevorste bewusmakingsveldtog oor die waternood moet begin word.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie