Reddingsplan vir vleisbedryf

Bevorderlike omgewing, regeringsteun nodig

01 July 2020 | Landbou
Elvira Hattingh – ‘n Bevorderlike omgewing en groter regeringsondersteuning deur die skep van ‘n standvastige beleidsraamwerk is die sleutel om die land se kwynende veesektor te red.

Dit is die slotsom waartoe verskeie rolspelers in die vleisbedryf gekom het in twee seminare wat middel-Junie deur die Vleisraad van Namibië aangebied is. Tydens die geleentheid is insette gevra oor hoe Namibië se vleisbedryf kan herleef, groei en terselfdertyd meer gebalanseerd kan wees.

Mnr. Paul Strydom, hoofbestuurder van die Vleisraad, verduidelik dié insette gaan voorts op die Vleisraad se onderskeie komitees gedebatteer word, voor dit na die raad as implementeerbare resolusies geneem sal word.

“Al die sekondêre, tersiêre en ondersteunende rolspelers van die waardeketting moet verantwoordelikheid hiervoor aanvaar,” het hy gesê.

“Die hoop is die proses sal tot groter skakeling met die regering en met verskillende rolspelers binne die bedryf lei sodat een gesamentlike visie bereik word,” het Strydom aan Die Boer gesê.

SKOKSYFERS

Daar is in die seminare belê nadat skoksyfers oor die groei van landbou – en spesifiek die lewendehawesektor – onlangs bekend gemaak is.

Die Namibië Statistiekagentskap (NSA) se statistikus-generaal, mnr. Alex Shimuafeni, het op 11 Junie in ‘n verslag oor die jongste ekonomiese statistieke gesê die landbou- en bosbousektor het ‘n 13% vermindering van ware waardetoevoeging in die eerste kwartaal van 2020 ervaar.

“Dié inkrimping is hoofsaaklik gedryf deur ‘n voortdurende afname in die lewendehawebedryf, wat na raming ‘n 21,5% vermindering van ware waardetoevoeging gehad het,” het hy verduidelik.

Shimuafeni het gesê tydens die ooreenstemmende periode in 2019, het die bedryf ‘n inkrimping van 7,8% getoon.

“Die vleisbedryf se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) raak ál minder,” het Strydom verlede week ná die seminare gesê. “Inisiatiewe sal geïmplementeer moet word om ‘n omgewing te skep waarin die primêre produsent die vertroue begin ervaar om die produksie van lewende hawe te verhoog.”

Strydom meen die vernaamste faktor vir ‘n afname in produksie, is onsekerheid ten opsigte van die beleidsraamwerk waarin produksie moet plaasvind. Daarbenewens het die droogte wat Namibië die afgelope jare ervaar het, met sekere gebiede wat nog erg hieronder gebuk gaan, ook bygedra.

Die derde faktor, meen hy, is uitvoerbeperkings, of die moontlikheid daarvan.

Strydom sê produsente het groter ondersteuning vanaf die regering nodig. Dit kan gedoen word deur ‘n standvastige beleidsraamwerk te skep.

“Landbou bly ‘n prioriteit in Namibië se Vyfde Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP5) as die ruggraat van die Namibiese ekonomie,” het Strydom tydens die seminaar gesê en ook getoon wat die gewenste groeisyfers is soos uiteengesit in Visie 2030 en die NDP5.

UITDAGINGS

Strydom sê die uitdagings vir die primêre sektor in die vleisbedryf behels om die land se siektevrye status te behou, wat insluit die dieregesondheidstatus in die noordelike kommunale gebiede moet verbeter word.

Verder moet dié sektor nou probeer om ná die droogte te herstel en terselfdertyd bosindringing beveg.

Die sekondêre sektor se uitdagings sluit in marktoegang vir bees en -vleis noord van die veterinêre kordonheining, asook die handhawing van marktoegang na Suid-Afrika, Europa, China, Amerika en Noorweë.

Terselfdertyd bly doeltreffende produksie, asook kostedoeltreffendheid ‘n uitdaging vir dié sektor.

Die tersiêre sektor ervaar ook uitdagings om die nodige vaardighede te bekom.

Strydom sê gemeenskaplike uitdagings vir die onderskeie sektore, sluit in ‘n tekort aan regeringsfinansiering vir die direktoraat van veeartsenydienste (DVS), mededingendheid in die waardeketting, groter reguleringskoste vir produksie, regeringsinmenging, die verpligte nakoming van veelvoudige wetlike vereistes, asook ‘n gebrek aan ‘n samehangende bedryfsfokus, samewerking en korporatiewe bestuur.

Verder word uitdagings ervaar as dit kom by die koste van produksie, die nodige vaardighede en arbeid, telekommunikasie en voldoende paaie.

“Onsekerheid knou egter die bedryf. Op internasionale vlak het die Covid-19-pandemie slagkapasiteit in die wiele gery, terwyl verbruikers se voorkeure verander, uitvoer volumes daal, produsentepryse oor die algemeen laer is en die vel- en afvalbedryf in duie gestort het.

“Plaaslik is werkloosheidsyfers besig om die hoogte in te skiet, wat beteken verbruikers se besteebare inkomste daal en die BBP krimp.

“Verder bring kwessies soos die uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika, die verhoogde prys vir speenkalwers en dalende pryse vir karkasse verdere onsekerheid na die bedryf,” sê hy.

OPLOSSINGS

Strydom meen vir die bedryf om weer te kan groei, is toepaslike bestuur én ‘n bevorderlike omgewing nodig.

“Die toepaslike bestuur van die bedryf sal behels daar moet gereeld met die ministerie van landbou of ‘n landboukamer geskakel word sodat ‘n gesamentlike visie vir die bedryf geskep word.

“Beleids- of strategiese besluite moet deur die regering geïmplementeer word en die regering moet ‘n doeltreffende en prestasiegedrewe diens aan die bedryf lewer.

“Genoegsame finansiering aan die land se veeartsenydienste is noodsaaklik,” het hy gesê.

Strydom sê ‘n omgewing wat bevorderlik vir groei is, kan geskep word deur beter beleidsekerheid oor sake soos grondhervorming, die hersiene Nuwe Wetsontwerp vir Gelyke Ekonomiese Bemagtiging (Neeef) en uitvoerheffings te hê, asook deur die implementering van die droogtebeleid en -strategie, die produksie van veevoer op die land se groenskemas, die bekamping en verbruik van indringerbos en waardetoevoeging wat deur aansporings gedryf word.

Strydom meen ook die noordelike kommunale gebiede se beeskudde van sowat 1,2 miljoen kan ‘n reusebydrae tot groei in die bedryf lewer en ‘n jaarlikse bykomende inkomste van sowat N$540 miljoen vir kudde-eienaars in dié gebiede beteken.

BEMARKINGSYFERS

Wat die prestasie van die vleisbedryf betref, is daar verlede jaar in totaal 463 000 beeste bemark, waarvan 290 000 speenkalwers is wat na Suid-Afrikaanse voerkrale uitgevoer is en 173 000 beeste is in plaaslike en uitvoerabattoirs geslag. Altesaam 27 000 ton beesvleis is na Europa, Suid-Afrika, China en Noorweë uitgevoer en 2 000 ton beesvleis is ingevoer.

In totaal is 740 000 skape verlede jaar bemark en 456 000 hiervan is na Suid-Afrika uitgevoer. Altesaam 147 000 bokke is na Suid-Afrika uitgevoer, terwyl 111 tons vleis ingevoer is.

Tendense oor die langer termyn wys egter die vleisbedryf in die land kry die wind van voor.

Die langtermyntendens (sedert 1978) in beesbemarking, toon totale produksie het tot ongeveer die jaar 2000 ingekrimp, voor dit weer begin kop optel het. Totale produksie is egter tans dieselfde as wat dit 42 jaar gelede was en staan op ongeveer 400 000 koppe.

Wat skaapproduksie betref, is daar egter ‘n sterk afname in totale bemarkingsyfers sedert 2005 te bespeur. Die bemarkingsgetalle het van ‘n hoogtepunt van byna 130 000 in Maart 2005 tot ‘n laagtepunt van sowat 35 000 in Maart 2020 gedaal.

Die groter bemarkingstendens sedert 2005 duik ook sterk afwaarts.

Strydom het gewys plaaslike prystendense vir beesvleis is sedert Januarie 2018 soortgelyk aan wat internasionaal ervaar word. Dit is redelik gelykmatig, of neig dalk ietwat opwaarts.

Plaaslike skaapprystendense is vergelykbaar met dié van die Noord-Kaap.

GROEISTRATEGIEË

Die Namibië Landbou-unie (NLU) het in hul jongste nuusbrief gesê tydens die seminare is ‘n lys prioriteite saamgestel wat spoedig met rolspelers, waaronder die regering, opgeneem moet word.

Dit is om groei in die beesbedryf te bewerkstellig.

Terselfdertyd is deur ‘n stemproses bevestig dat produsente outomaties na die verskillende waardekettings gelok word, gebaseer op vertroue in die waardeketting en die prys wat vir beeste betaal word.

“Uitvoerabattoirs het toegang tot die beste markte in die wêreld, maar sukkel om mee te ding. Indien slagkoste per kilogram karkas verlaag kan word, sal die waardeketting genoeg produsente lok om volhoubaar te wees.

“Die tweede belangrikste prioriteit was om dit by die regering tuis te bring dit is in die belang van die land dat landbou ‘n groter hap van die nasionale begroting bekom – minstens 10% soos onderneem in die Maputo-verklaring wat die Namibiese regering in 2003 bekragtig het.

“Derdens is die bevordering van vrye handel in plaas van regulering as ‘n prioriteit bekragtig,” lui die NLU se nuusbrief.

Die NLU sê ander dringende sake sluit in:

1. Die implementering van die nasionale weidingstrategie

2. Die versterking van plaaslike produsente-organisasies.

3. Die versterking van onder meer doelgerigte navorsing en mentorskap.

4. Die skep van ‘n gesonde balans tussen plaaslike verslagting en speenkalfuitvoere.

SKAAP

Die NLU sê in sy nuusbrief die skaapbedryf is op sy knieë weens baie jare van droogtes, asook die regering se vernietigende kleinveebemarkingskema.

“Die eerste en belangrikste stap wat geneem moet word, is om beleidsekerheid by die primêre produsent te vestig.

“Sonder beleidsekerheid sal produsente nie weer in die bedryf belê nie en sal produksie nie verhoog nie, wat beteken nuwe werksgeleenthede gaan ook nie geskep word nie,” lui die nuusbrief.

Aanbevelings sluit in (in volgorde van prioriteit):

1. Die bevordering van skaapproduksie deur aansporingsmaatreëls, asook die versekering van vrye handel.

2. Net soos die geval in die beessektor, sal ‘n Namibiese skaapuitvoerabattoir moeilik lewensvatbaar wees as dit slegs aan Suid-Afrika lewer. Internasionale markte wat wisselkoersvoordele bied, is noodsaaklik om abattoirs in ‘n ongereguleerde mark in staat te stel om skaap na hierdie waardeketting te lok.

3. Doeltreffende leierskap sodat die bedryf uit een mond kan praat.

4. Oplossings moet gevind word vir die kwessie om enige onderbenutte grond vir verhoogde produksie te ontsluit.

5. Strategiese voorbereiding vir droogtes.

Soortgelyk

 

Iran: Kernkragontploffing veroorsaak beduidende skade

1 uur gelede | Internasionaal

’n Kernkragontploffing Donderdag in ’n pakhuis by die Ntanz-aanleg in sentrale Iran het beduidende skade aangerig en kan die produksie van sentrifuges vertraag wat uraan...

Egipte arresteer dokters om kritici stil te maak

1 uur gelede | Internasionaal

Ongeveer tien dokters en ses joernaliste is vanaf Februarie in Egipte in hegtenis geneem omdat hulle die regering van pres. Abdel Fattah el-Sissi kritiseer oor...

Covid-19 knou Media24

4 ure gelede | Afrika

Media24 oorweeg dit om vyf tydskrifte en twee koerante te sluit, sy oorblywende maandelikse tydskrifte uit te kontrakteer en hul frekwensie te verminder, twee koerante...

Kenia heropen grense na 4 maande

4 ure gelede | Afrika

Mnr. Uhuru Kenyatta, die president van Kenia, het Maandag die heropening van dié land se grense “in fases” aangekondig.Internasionale vlugte sal vanaf 1 Augustus...

55 nuwe Covid-19-gevalle bring totaal op 593

5 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) dr. Kalumbi Shangula sê 55 nuwe gevalle van Covid-19 is die afgelope 24 uur in die land...

Twee vas oor olifanttande

15 ure gelede | Misdaad

Volgens die weeklikse wildmisdaadverslag vanaf 29 Junie tot 6 Julie is twee nuwe wildmisdaadsake aanhangig gemaak en vier verdagtes in hegtenis geneem. Mnre. Alfred...

Kleintjies terug skool toe

15 ure gelede | In beeld

Leerlinge vanaf graad 0 tot 3 het gister weer vir aangesig tot aangesig onderrig teruggekeer met leerlinge en ­onderwysers wat opgewonde was om weer by...

Tuiskwarantyn aan kus ’n opsie

15 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) gaan meer buigsaam wees in die kwarantyn van kontakte van bevestigde Covid-19-gevalle in die...

Psemas: ‘Tender sluit almal behalwe Methealth uit’

15 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Dit wil voorkom asof die bepalings van ’n tender om die staat se mediese fonds (Psemas) te bestuur, op so ’n manier...