ReconAfrica het beleggers glo mislei

Aandeleprys verdriedubbel in sowat 4 maande

24 May 2021 | Omgewing
Ronelle Rademeyer – Die Kanadese olie- en gasmaatskappy Reconnaissance Energy (ReconAfrica) het nog nie amptelik gereageer op ’n verslag aan ’n Amerikaanse waghondliggaam dat hy na bewering beleggers oor sy eksplorasiewerk in die Kavango mislei het nie.

Die gesaghebbende wetenskap- en omgewingstydskrif, National Geographic, het Vrydag berig ReconAfrica, “wat op soek is na olie en gas stroomop van een van Afrika se weligste en mees wildryke habitats, het beleggers volgens verskeie kenners asook die verslag van ’n fluitjieblaser deur ’n wanvoorstelling van sy werk op dié projek, op ’n bedrieglike wyse mislei”. Die fluitjieblaser het op 5 Mei ’n verslag van 44 bladsye hieroor aan die Amerikaanse Securities and Exchange Commission (SEC) voorgelê, berig National Geographic.

Die SEC is ’n onafhanklike federale regeringsagentskap wat verantwoordelik is vir die beskerming van beleggers, die billike en ordelike funksionering van die sekuriteitsmarkte en die fasilitering van kapitaalvorming.

“ReconAfrica se aandeleprys het die afgelope maande verdriedubbel,” lui die berig.

Net so swyg ReconAfrica ook nog oor die Internasionale Energieagentskap (IEA) se belangrike klimaatsverslag wat op 18 Mei uitgereik is en wat wêreldwyd opspraak verwek het.

Volgens die IEA “moet daar ná 2021 geen nuwe olie- en gasvelde ontgin word en geen nuwe steenkoolmyne gevestig of mynuitbreidings aangepak word indien die internasionale gemeenskap ’n klimaatskatastrofe wil afweer nie.

Die IEA sê dié drastiese inperking van fossielbrandstofontginning is nodig om aardverwarming van meer as 1,5 grade Celsius te verhoed.

Navrae in dié verband is op 19 Mei deur Republikein aan ReconAfrica se woordvoerder, me. Claire Preece, gerig. Teen gister het die maatskappy nog nie daarop gereageer nie.

Die IEA sê in sy verslag hoewel die wêreld “natuurlik nie môre kan ophou om fossielbrandstof te verbrand nie”, moet hy hom doelgerig daarvoor beywer en “die ontwikkeling van alle nuwe (olie- en gas-)velde staak”.

VERSLAG AAN SEC

ReconAfrica se waarde het vanaf US$191 miljoen (N$2,67 milard) aan die begin van die jaar, tot meer as US$1 miljard (N$14 miljard) teen die middel van Mei gestyg. Die klag by die SEC, wat op openbare rekords steun, lys meer as 150 gevalle van misleidende verklarings deur ReconAfrica en beweer dat die maatskappy miljoene Amerikaanse dollar op bedrieglike wyse ingesamel het en beweer dat verskeie topbestuurders hul aandele verkoop het terwyl ReconAfrica die aandeelprys bevorder het, berig National Geographic.

ReconAfrica kom sedert Oktober verlede jaar toenemend onder skoot van omgewingsinstansies en -waghondliggame omdat hy na bewering nie standaard omgewingsbewaringsmaatreëls toepas nie, sonder goedgekeurde waterpermitte eksplorasiewerk doen, en die plaaslike bevolking se kommer ignoreer oor die potensiële gevolge wat die projek op hul nedersettings, gemeenskapslewe, watervoorrade en die natuurlewe het, berig dié tydskrif.

ReconAfrica het tot nou toe nog nie amptelik in ’n nuusverklaring op dié beweringe in die fluitjieblaser se verslag gereageer nie.
[email protected]


FOTO
Die terrein by Kawe in Kavango-Oos waar die eerste toetsgat deur ReconAfrica geboor is. Foto Allgemeine Zeitung

Soortgelyk

 

Sewe sterftes, 750 nuwe gevalle

2 ure gelede | Gesondheid

Die sterftesyfer skuif met sewe - twee in Windhoek en een elk in onderskeidelik Swakopmund, Grootfontein, Outjo, Gobabis en Rundu - op tot 912. Vandag...

Een dood, twee erg beseer in voorvalle van geslagsgeweld

5 ure gelede | Misdaad

‘n Vrou van 35 het op Okakarara gesterf nadat sy na bewering deur haar man aangerand is, terwyl ‘n jong man en vrou ernstige beserings...

Profeet TB Joshua sterf

11 ure gelede | Mense

Die bekende evangelis en filantroop, past. Temitope Balogun (TB) Joshua, is dood.Is het Saterdagaand, 'n week voor sy 58ste verjaardag, in Lagos, Nigerië gesterf, berig...

Polisieman in Kuisebmond doodgesteek

21 ure gelede | Misdaad

'n Konstabel wat by die polisiekantoor in Kuisebmond diens doen, is in die vroeë oggendure Saterdag dood nadat hy naby sy meisie se huis deur...

Ses sterftes stoot syfer oor 900, 480 nuwe gevalle

1 dag gelede | Gesondheid

Ses nuwe sterftes stoot die totale syfer vir Namibië oor die 900-kerf tot 905. Die sterftes is vier in Windhoek en een elk in Outjo...

Covid-19: Gevalle styg in 24 uit 35 distrikte

1 dag gelede | Gesondheid

Namibië bly in die kloue van ‘n nuwe brander Covid-19-infeksies.Gedurende die sewe dae tot Donderdag het nuwe gevalle in 24 van die land se 35...

22 sterftes, 596 nuwe gevalle

2 dae gelede | Gesondheid

Die Covid-19-verwante sterftesyfer vir Namibië skiet met nog 22 - 12 in Windhoek, twee in onderskeidelik Rehoboth en Walvisbaai, drie in Mariental en een elk...

Rehoboth soek strenger aandklok-monitering teen Covid

2 dae gelede | Gesondheid

Die United People's Movement (UPM) het die streeksbevelvoerder van die polisie in die Hardapstreek, komm. Andries van der Byl, gevra vir polisieversterkings op Rehoboth sodat...

Beesvleisforum vorder met abattoirplan

2 dae gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer – ’n Groep bekommerde beesprodusente wat ten alle koste Namibië se nismarkte in die buiteland vir die voortbestaan van dié bedryf wil beskerm,...