RDP beloer 5G-geraamtes

Nóg 'n lid verbreek stilte

17 July 2020 | Regering
Denver Kisting



Die president van die Rally for Democracy and Progress (RDP), mnr. Mike Kavekotora, sê die omkooponthullings waarby twee senior lede van die party betrek word, is “'n gemors”.

Volgens hom het hy eers die afgelope week van die omkoopskandaal gehoor waarby twee senior lede van die party betrek word.

Hy het gisteroggend op 'n nuuskonferensie in Windhoek by die party se hoofkantoor gesê: “RDP onder my leierskap duld geen korrupsie van enige aard nie. Dit (die party) onderhou die ideale van eenheid, integriteit, vryheid, demokrasie, gelykheid, geregtigheid en maatskaplike vordering. Ons is 'n organisasie wat regeer word deur regsreëls en geregtigheid vir almal.”

Volgens hom het die “steurende nuus” hulle dwars in die krop gesteek. “Ons beskik nie oor veel inligting oor wat beweer word nie en derhalwe sal die RDP 'n interne ondersoek van stapel stuur om tot die kern van die aangeleentheid deur te dring.”

Ondanks die interne ondersoek sal daar in dié stadium geen tussentydse stappe teen me. Brunhilde Cornelius en mnr. Nicanor Ndjoze gedoen word om 'n ongehinderde ondersoek te vergemaklik nie.

'n Storm het vroeër vandeesweek om dié tweetal se koppe losgebars.

Die internasionale nuusagentskap Al Jazeera het onthul 'n senior bestuurslid van die City of Windhoek (CoW), mnr. Reckliff Kandjiriomuini, het glo met Ndjoze se hulp vir Cornelius probeer omkoop om haar steun aan 'n 5G-plan van CoW toe te sê.

Kavekotora het gister gesê ofskoon hy en Cornelius, die party se sekretaris-generaal, elke Dinsdag ontmoet om partysake onder die loep te neem, het sy in geen stadium te kenne gegee sy beskik oor die beweerde verdoemende inligting nie.

Hy sê hy wil nie bespiegel dat haar stilswye oor die kwessie verband hou met 'n gebrek aan vertroue nie.

Cornelius het Woensdag gesê die waarheid is op die lappe. “Ek het niks om te sê nie. Die waarheid is uit.”

Volgens haar volstaan sy by dit wat deur Al Jazeera onthul is. “Dis 100% (waar).”

Sy sê al die geheime opnames wat sy volgens dié internasionale nuusagentskap se berig met behulp van die owerhede gemaak het, is in die “veilige bewaring” van die polisie.



NDJOZE sê

Ndjoze het gister sy stil­swye verbreek en gesê hy het alle vertroue in Al Jazeera verloor.

“Dit is duidelik dat hulle nes ander media propaganda (gebruik) om kapitalisme te dryf. Bruni (Cornelius) het my gebruik om vergaderings met Reckliff te reël. Sy wou die begrip van 5G verstaan. Ek werk nie vir Huawei nie nóg konsulteer ek vir CoW.”

Volgens hom het sy prokureur hom aangeraai om nie verdere kommentaar te lewer nie.

Kandjiriomuini het Woensdagmiddag gesê: “Met watter geld? Hoe sal ek omkoop?

Kavekotora sê voorts sy party se stappe sal afhang van die bevindings van hul ondersoek.

Hy sê die party se grondwet verplig sy lede om voorbeeldig op te tree in ooreenstemming met die waardes van integriteit en toewyding.



CoW lê ook eier

CoW het gistermiddag by monde van sy uitvoerende hoof, mnr. Robert Kahimise, ontken daar bestaan enige samewerkingsooreenkoms tussen hulle en die tegnoreus, Huawei. “Daar bestaan geen 5G-projek wat deur die raad goedgekeur is nie.”



SMEERVELDTOG

'n Ingeligte bron het Republikein intussen meegedeel 'n onafhanklike ondersoeker is tans besig om uit te vind wie sit agter 'n smeerveldtog teen Cornelius wat in die sosiale media versprei is dieselfde dag toe die Al Jazeera-berig oor die beweerde omkopery gepubliseer is.

Die vermeende verdagmakery bestaan uit 'n beëdigde verklaring wat deur ene Maria Cynthia Beukes by die polisie ingedien is asook 'n berig. Daarin word beweer Paratus Telecom, in samewerking met die Capricorn Group, het omkoopgeld aan Cornelius en twee joernaliste van The Namibian en Al Jazeera betaal om 'n stokkie te steek voor CoW se plan om gratis Wi-Fi aan inwoners beskikbaar te stel.

Cornelius sê sy weet nie wie die Beukes-vrou is wat beweer sy is eintlik die korrupte een nie. “Die persoon bestaan nie. Ek ken nie (die persoon nie). Dis 'n opgemaakte leuen.”

Die Capricorn Group sê in 'n verklaring hulle is deur Paratus verseker “daar is geen waarheid in die beweringe wat in die dokumente gemaak word nie”.

Mnr. Barney Harmse, groep uitvoerende hoof van Paratus Afrika, is tans uitstedig en het nog nie op Republikein se versoek om kommentaar gereageer nie.

Mnr. Mathias Haufiku, die Namibiese joernalis teen wie aantygings gemaak word, ken Beukes ook nie en sê ook haar beweringe is bog.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Vandag se Covid-19-data

4 ure gelede | Gesondheid

'n Visuele opsomming van die inligting vir Maandag 10 Augustus 2020, soos om 15:00 vanmiddag aangekondig deur die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr....

Skerp styging in gevalle in Windhoek wek kommer, sê...

5 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste dr. Kalumbi Shangula het die situasie in Windhoek as "kommerwekkend" beskryf met 79 nuwe Covid-19-gevalle wat vandag in...

Twee met ivoor, velle vasgetrek

10 ure gelede | Misdaad

Twee vermeende wildmisdadigers, mnr. Gabriel Kuutondokwa Nalitje en David Simon, is verlede Maandag in Windhoek glo met drie stukke ivoor en een elk luiperd- en...

Viskwotas: Tweede Fishrot gevrees

21 ure gelede | Misdaad

Leandrea Louw op Walvisbaai - Rolspelers in die visbedryf is bekommerd dat die land in 'n tweede Fishrot-skandaal gedompel sal word as viskwotas opgeveil word....

Olifante vertrap Noorde-plase

21 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Twee troppe olifante het sedert Donderdag en oor die afgelope naweek verwoesting op plase teen die veterinêre kordonheining in die Noordooste gesaai,...

Tossing papers, tapping buttons

21 ure gelede | Tegnologie

Justicia Shipena WINDHOEKHaving started his coding journey in grade nine at De Duine Secondary School in Walvis Bay, Joachim Shilongo recently developed a...

'Beskerm jouself en ander'

21 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste gaan beheermaatreels in Windhoek verskerp in ’n poging om die toenemende skerp styging in Covid-19-gevalle...

Weer vir 11 Augustus 2020

21 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Koue toestande sal môre in die Suide vestig. Die nodige voorsorgmaatreëls moet getref word. BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en matig tot warm, maar baie warm...

#Covid19SafetyChallenge closing date extended

21 ure gelede | Gesondheid

Justicia Shipena LifeLine ChildLine, through Uitani Radio, invites young people of all ages to participate in the #Covid19SafetyChallenge.This competition aims to monitor how many...