Rare Kategismus-gids in kultuurversameling ontdek

Planne vorder om die Ons Erfdeel-kultuursentrum in ’n volwaardige museum te omskep.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - ’n Rare handgeskrewe weergawe van die Heidelbergse Kategismus is in ’n versameling kultuurskatte by die Ons Erfdeel-kultuursentrum in Windhoek gevind.

Dit is in 1915 deur Christoffel Johannes Jansen van Vuuren, gebore in 1894, met die hand geskryf toe hy as 21-jarige kategeet kinders van die Dorslandtrekkers wat hulle op Humpata in Angola gevestig het, in die Bybel onderrig het.

Die A4-grootte boek het uitstekend behoue gebly en bevat die Kort Begrip, of verkorte weergawe van die Heidelbergse Kategismus, asook ander bekende Bybelverhale in Nederlands.

Mnr. Polla Steyn, uitvoerende trustee van die Selfhelp Trust wat dié kultuursentrum bestuur, sê dit beskik oor heelwat boeke, dokumente en artefakte uit die tyd van die Dorslandtrekke.

“Dié handgeskrewe Kategismus-boek kom uit die versameling boeke, dokumente en kultuuritems wat aan wyle mnr. Kosie Pretorius, oudpolitikus en stigter van die kultuursentrum, behoort het,” vertel Steyn.

Hy sê Jansen van Vuuren se nasate het dit aan Pretorius gegee en dit is saam met dokumente en ander items uit sy Afrikaanse kultuurgeskiedenis-versameling aan die kultuursentrum vir bewaring geskenk.

Steyn vertel die Dorslandtrekkers het laat in 1880 die eerste Afrikaner-nedersetting by Humpata in Angola gevestig nadat die verskillende trekgeselskappe lank by plekke soos Rusplaas en Kaoko-Otavi in Kaokoland vertoef het.

Hy sê dié handgeskrewe handboek kan vir navorsers goeie insig gee in wat gedoen is om die Dorslandtrekkers se kinders daar te onderrig.

Dit bevat byvoorbeeld ook die skoolregulasies van die skooltjie by Kerkplaatz op Humpata. Daarvolgens is kinders nie net uit die Bybel in Nederlands onderrig nie, maar ook geleer om somme te maak en berekenings te doen.

Intussen sê me. Elizma Theron, bestuurder van die organisasie Netwerk Namibië, planne vorder om Ons Erfdeel in ’n volwaardige museum te omskep.

Netwerk Namibië werk nou met die Selfhelp Trust saam om die kultuurgoedere van Afrikaanssprekendes te bewaar en die taal te bevorder.

Die kultuursentrum van Ons Erfdeel is op dieselfde terrein as die Bittereinder-monument, 'n hanetree van Wernhil Park. Dit bestaan uit ’n biblioteek, argief en vertrek met historiese artefakte.

In hierdie stadium kan navorsers en skool- en kultuurgroepe dit per afspraak besoek, maar Theron sê die plan is om dit vir die publiek oop te stel en vaste besoektye te hê.

Volgens Steyn het hy ook reeds met die antropoloog en kurator, me. Antje Otto, gepraat oor die moontlikheid om artefakte wat vroeër in die Alte Feste ten toon gestel was en nou in die Bergmann-huis gestoor word, na Ons Erfdeel te verskuif.

Hy sê dit sal op bruikleen aan Ons Erfdeel beskikbaar gestel word. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!