Putmoordenaars kry 46 jaar
Die twee mans wat skuldig bevind is aan moorde waartydens hul slagoffers lewend in 'n put gegooi is, is verlede week gevonnis.
Jacqueline Louw - Regter Naomi Shivute het Vrydag in Windhoek se hoërhof tydens die vonnisoplegging van Raynoldt Windstaan (34) en Johannes Eichab (36) gesê die beskuldigdes het moord genadeloos en met voorbedagte rade gepleeg.
Die twee is in November verlede jaar skuldig bevind aan die moorde op mnre. Klaas Titus (42) en John McNab (39).
Windstaan en Eichab is elk tot 28 jaar gevangenisstraf gevonnis op 'n klag van moord met direkte opset. Hulle is ook 28 jaar op 'n tweede klag van moord met direkte opset gevonnis.
Vir die tweede moordklag sal 10 jaar van die vonnis gelyktydig met die vonnis vir die eerste klag uitgedien word. Die twee sal dus elkeen 46 jaar tronkstraf uitdien.
In die opweging van vonnisoplegging het Shivute genoem dat beide eerste oortreders is en albei kinders het wat hulle onderhou deur enige bydraes wat hulle in staat is om te maak. Windstaan is die pa van vier kinders en Eichab het een kind. Ter verswaring van die vonnis het Shivute gesê die misdade was grusaam en twee kosbare lewens gekos.
“Die beskuldigdes het vir die geskikte tyd gewag om die oorledenes finaal van kant te maak. Nie een van die beskuldigdes het 'n sweempie berou getoon oor wat hulle gedoen het nie,” het Shivute in die vonnisoplegging gesê.
Volgens getuienis wat tydens die verhoor aangehoor is, was die slagoffers nog lewend toe hulle in 'n put gegooi is.
Eichab en Windstaan het Titus en McNab by Omamas, wes van Kalkrand, gedurende 16 tot 18 Julie 2005 aangerand en hulle daarna in 'n put gegooi. Die oorledenes se oorskot is in Julie 2009 ontdek.
Volgens Shivute het Windstaan ná sy inhegtenisname 'n landdros op Mariental meegedeel die twee mans is doodgemaak om te verhoed dat hulle in 'n veediefstalsaak getuig.
Hoewel wyle McNab van sy vrou geskei was, het hy vir sy twee kinders uit dié huwelik gesorg. Sy dogter het aan die hof vertel dat sy nie haar vader se dood kan verwerk nie en dat sy van 'n vader ontneem is wat sy gehoop het haar eendag na die kansel toe kon lei.
Mnr. Joshua Kaumbi, die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, het Shivute ingelig dat Windstaan van voorneme is om teen sy vonnis te appelleer.
Staatsadvokaat Erick Moyo het namens die staat opgetree.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie