Pukke klop UJ in eendeweer
Rugby
Tinus van Staden
Maandagaand se Varsitybeker-rugbywedstryd tussen die Universiteit van Johannesburg (UJ) en die Noordwes Universiteit (Pukke) in die UJ-stadion, was soos die weer – haglik en koud.
Pukke, die verdedigende kampioen, het genoeg gedoen om dié wedstryd in sopnat toestande met 16-12 te wen.
Albei spanne het die wedstryd met baie bravade begin en die bal tot by die vleuels probeer kry, maar die spinnerakke van die afseisoen was nog duidelik sigbaar.
Daarbenewens het die eendeweer veroorsaak dat belowende bewegings male sonder tal weens hanteerfoute windeiers baar.
Die Pukke het die wedstryd sterk begin en 'n drie deur die vleuel Jimmy Mpailane, die enigste drie van die wedstryd, het aan hulle 'n vroeë voorsprong van 10-0 besorg.
UJ se losskakel, Divan Nel, het sy span met strafdoele van naby sy midellyn binne trefafstand gehou. Dit was juis 'n suksesvolle poging van hom skuins voor die rustyd wat verseker het UJ skep met 'n voorsprong van 12-10 asem.
Albei spanne het in die tweede helfte besef dié weer laat nie hardlooprugby toe nie en besluit om die bal liewer in die lug in te sool. Dit het 'n onsinnige skopgeveg tot gevolg gehad en nie een span het die oorhand gekry nie, aangesien die meerderheid van dié skoppe vrot was.
Die tuisspan kon geen punte in die tweede helfte aanteken nie, terwyl die Pukke se losskakel, Schalk Hugo, met twee strafdoele in die laaste 20 minute die oorwinning vir sy span verseël het.
UJ se haker en kaptein, Jannes Snyman, was sy span se beste speler en was woelig in die vastelos.
Die wyse waarop die Pukke se heelagter, Lungelo Gosa, in die eerste helfte op die aanval by sy agterlyn aangesluit het, sal die afrigter, Jonathan Mokuena, breed laat glimlag.
Mokuena se besluit om die voormalige Springbok-losskakel André Pretorius as verdedigingsafrigter te betrek, blyk ook 'n goeie een te wees.
UJ was bitter min in die besoekers se kwartgebied.
Pukke 16 (10): Drie: Jimmy Mpailane (5). Strafdoele: Schalk Hugo (9). Doelskop: Hugo (2).
UJ 12 (12): Strafdoele: Divan Nel (12). – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie