Proteas: Dié een is vir Domingo
Krieket
Christo Buchner
Kom ons doen dit vir die afrigter, manne.
Dié woorde sal waarskynlik deel van AB de Villiers se spanpraatjie wees voor vandag se tweede eendagstryd in die reeks teen Sri Lanka op Kingsmead in Durban.
Die afgelope dae was die kollig meer op Russell Domingo, die afrigter van die Suid-Afrikaanse span, as wat hy en sy spelers sou wou hê, nadat aangekondig is dat sy posisie in die spervuur gaan wees ná die Engelse toer teen die middel van die jaar.
De Villiers en die spelers besef hulle kan met hul vertonings help om Domingo se posisie te verstewig om as afrigter aan te bly.
Nadat die vloer met Sri Lanka gevee is in die toetsreeks, is die uitsonderlike spangees en die feit dat hulle as 'n gelukkige gesin funksioneer uitgesonder as die vernaamste redes vir die sukses die laaste paar maande.
Daardie gevoel van geborgenheid wat gevestig is, sal in die volgende maande die deurslag moet gee vir nie net die spelers nie, maar ook Domingo se toekoms.
Wêreldtoernooie bly maar altyd die groot maatstaf en wat in die Internasionale Krieketraad (IKR) se Kampioenetrofee in Julie in Engeland gebeur, sal die deurslaggewende rol speel.
Slaag Domingo en sy spelers daarin om Suid-Afrika se droogte in wêreldtoernooie te breek en met die trofee huis toe te keer, sal hy gewis sy pos behou.
Daarom is elke eendagwedstryd van nou af 'n bousteen om die grondslag te lê vir sukses in Engeland.
Ná die oortuigende sege in die eerste kragmeting in Port Elizabeth durf De Villiers-hulle nie nou die voet van die pedaal afhaal nie.
'n Sege op Kingsmead is ononderhandelbaar en die Sri Lankane se neuse moet verder in die grond gevryf word.
Daar sal nie sommer getorring word aan die wenspan wat in die Baai gespeel het nie, met die kolflys se top-ses van Hashim Amla, Quinton de Kock, Faf du Plessis, AB de Villiers, JP Duminy en David Miller wat gevestig is.
Die vorige keer wat Suid-Afrika 'n eendagstryd in Durban gespeel het, het Miller en die Dolphins se Andile Phehlukwayo die tuisharte verbly met sensasionele kolfwerk om 'n reuse-wenteiken van Australië (372) suksesvol te jaag.
Phehlukwayo sal voor sy tuisskare kans kry om hom nog verder in die span te vestig, terwyl die linkerarm-aanvangsbouler Wayne Parnell sal wil voortbou op sy sukses in die Baai.
Vir Graham Ford, die Sri Lankaanse afrigter, is dit altyd 'n spesiale geleentheid om na Durban terug te keer.
Dit is hier waar sy krieketwortels geskiet het en waar hy as afrigter van KwaZulu-Natal groot sukses behaal het tydens die vormingsjare van spelers soos Shaun Pollock en Lance Klusener.
Die spelersgroepe:
Suid-Afrika: AB de Villiers (k), Hashim Amla, Quinton de Kock, Faf du Plessis, JP Duminy, David Miller, Chris Morris, Wayne Parnell, Andile Phehlukwayo, Kagiso Rabada, Imran Tahir, Farhaan Behardien, Dwaine Pretorius, Tabraiz Shamsi.
Sri Lanka: Upal Tharanga (k), Dinish Chandimal, Chaturanga de Silva, Vikum Sanjaya, Dhananjaya de Silva, Niroshan Dickwella, Asela Gunaratne, Nuwan Kulasekara, Lahiru Kumara, Suranga Lakmal, Lahiru Madushanka, Kusal Mendis, Sachith Rathirana, Lakshan Sandukan, Jeffrey Vandersay, Sandun Weerakkody, Thikshila de Silva.
- Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie