Prokureur skiet hom voor verhoor

Voer aan skorsing sal 'katastrofies' wees

29 August 2018 | Plaaslik
Ronelle Rademeyer



Windhoek is gisteroggend geskok met die nuus dat mnr. Chris Brandt, een van sy bekendste prokureurs­ met 40 jaar ondervinding­ in dié beroep, aan sy eie hand gesterf het.

Dit was enkele ure voordat 'n aansoek vir sy tydelike ­verwydering van die rol weens ­ongerymdhede met die aanwending van geld uit sy trustrekening in die hoërhof sou dien.

Volgens die polisie se misdaad­verslag het hy hom by sy huis in Chateaustraat in dié deel van Klein Windhoek wat as Luxury Hill bekend staan, met 'n .38 Special-­rewolwer in die kop geskiet. Sy kantoor is op dieselfde perseel geleë.

Mnr. Kennedy Hamutenya, hoof uitvoerende beampte van Namib Desert Diamonds en 'n buurman van Brandt, het die nuus kort daarna op Facebook bekend gemaak.

“Ek is steeds in skok. ­Omstreeks sesuur vanoggend het my buurman, die bekende ­Windhoekse prokureur Chris Brandt, 'n stoel gevat, naby sy hek gaan sit en homself geskiet. Chris Brandt is nie meer hier nie,” het hy geskryf en 'n foto van Brandt se laaste Facebook-plasing Sondag aangeheg.

Daarin verskyn 'n aanhaling uit Karen Blixen se boek Out of Africa, met die opmerking dat “­die ­geskiedenis jou net een ding leer en dit is dat mense nié uit die geskiedenis­ leer nie, en selfs méér so in Afrika waar die oppergesag van die reg nie bestaan nie”.

In Junie het hy in kommentaar by 'n plasing geskryf: “Onthou. . . aan die einde is ons almal niemand nie (nobodies). . .

Geniet die nou. . . Die oomblik . . . Dit is al wat ons het. . . Niks meer nie. . . Niks minder nie. . . Namaste.”

Intussen is die dringende aansoek waarin die Prokureursorde van Namibië die hoërhof gisteroggend sou versoek om hom tydelik as prokureur van die rol te verwyder, van die hofrol geskrap. Die aansoek is ingedien sodat seker gemaak kan word die geld wat hy van kliënte in sy trustrekening hou, is veilig.

Dit blyk uit die hofstukke geld is uit sy trustrekening na sy besigheidsrekening oorgeplaas, wat hoofsaaklik gebruik is om salarisse mee te betaal.

Me. Retha Steinmann, direkteur van dié orde, sê in die funderende eedsverklaring die Wet op Regspraktisyns maak dit duidelik dat die geld in trustrekenings nie deel uitmaak van die bates van 'n regspraktisyn nie.

“Dit is 'n kardinale reël van die professionele en etiese gedrag wat van 'n praktisyn vereis word, dat onttrekkings uit daardie rekenings net in baie eng en gedefinieerde omstandighede toelaatbaar is.”

Brandt het in sy beantwoordende eedsverklaring gesê hy sal die geld teen 10 September uit “private fondse” na die trustrekening terugbetaal.

Volgens hom skuld kliënte hom nagenoeg N$2 miljoen en weens die swak ekonomie kan hulle slegs maandelikse afbetalings of sporadiese betalings bekostig.

Hy sê verder dat enige vorm van skorsing “katastrofiese” gevolge vir sy bestaande kliënte en homself sal hê en dat dit sy praktyk “onberekenbare skade” sal berokken.

Dit hof is met die aanvang van die verhoor gisteroggend van sy dood in kennis gestel, waarna die saak geskrap is.

Brandt is in 1978 as prokureur toegelaat en het 20 jaar vir die staat gewerk voordat hy in 1998 'n privaat praktyk begin het.

Soortgelyk

 

Kraam buite kliniek - verpleegsters geskors

9 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht – Twee verpleegsters wat ‘n hoogswanger vrou by die Okuryangava-kliniek glo weggewys het, is in opdrag van die minister van gesondheid en maatskaplike...

Lewenslank vir Suide-verkragters

9 ure gelede | Howe

Elvira Hattingh en Ronelle Rademeyer - Twee mans wat vroue op Mariental en Tses verkrag en vermoor het, is gister in twee afsonderlike sake vonnisse...

Schlettwein sê oor TIPEEG, FOCAC

9 ure gelede | Regering

Denver Kisting – In die eerste plek is Namibië se ekonomie besig om aan te pas by ’n nuwe pad van groei nadat dit een...

Weer vir 19 September

9 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die Suide met enkele buie in die verre Suide. Elders sal baie tot bloedig warm in die Noorde wees.KUS:...

TransNamib op soek na nuwe direksie

9 ure gelede | Vervoer

Catherine Sasman Die ministerie van werke en vervoer het in 'n openbare kennisgewing aangekondig dat nuwe direksielede vir TransNamib gesoek word. Die huidige direksie se...

Esau: Visvangkwotas kan nie verkoop word

9 ure gelede | Ministeries

Leandrea Louw Die minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Bernard Esau, het gewaarsku visvangkwotas kan nie verkoop word “om vinnig geld te maak nie”....

Help soek na vermistes

9 ure gelede | Misdaad

Tanja BauseDie Namibiese polisie vra die publiek se hulp in die opsporing van twee vermiste mense. Die 14-jarige Niita Fillemon word sedert 19:00 verlede Woensdag...

Grond: Wit boere wíl praat

9 ure gelede | Ministeries

Elvira HattinghDie president van die Namibië Landbou-unie (NLU), mnr. Ryno van der Merwe, sê dit is onwaar dat wit kommersiële boere nie in gesprek tree...

Vrou haal die byt uit veghond

9 ure gelede | Omgewing

Die naam Amerikaanse veghond (pit bull terrier) het al ‘n vloekwoord geword en boesem vrees by die meeste mense in. Geen ander honderas het in...