Produksie van mielies 'kritiek' in rampdroogte

'Regering verstaan eenvoudig nie'

02 January 2019 | Landbou
Charles Smith



Die produksietoestande in die Noordwes-Vrystaat en Noordwes lyk op die oomblik baie sleg en feitlik geen mielies of ander somergewasse is al in dié gebiede geplant nie.

Fanie Brink, onafhanklike landbou-ekonoom, sê die droogte kan beteken dat Suid-Afrika 'n mielie-oes van so min as tussen 4,5 en 6 miljoen ton kan hê, wat nie aan die vraag vir die hele Suid-Afrika sal voldoen nie.

Hierdie twee gebiede produseer gemiddeld sowat 72% van die land se totale witmielie-oes en is van die beste gehalte ter wêreld.

Brink sê in 'n verklaring soos sake nou staan, kan dié droogtegeteisterde streke se oeste 30% tot 40% kleiner wees as wat dit gewoonlik is.

Die planttyd vir 'n optimale oes is reeds verby en die uiters swak produksie wat in hierdie twee gebiede verwag kan word, sal 'n baie groot invloed op die totale mielie-oes vir die seisoen hê.

Omdat daar nog geen aanduiding is hoeveel hektaar reeds geplant is en nog geplant kan word nie, is dit nie moontlik om 'n oesskatting te maak nie.

Baie min witmielies word in die wêreld geproduseer omdat dit net in Afrika-lande as 'n stapelvoedsel gebruik word, terwyl die ander lande hoofsaaklik geelmielies as dierevoeding produseer. Daarom is dit nie altyd maklik om witmielies op die internasionale mark te koop om in te voer nie.

Hierdie seisoen is graanboere heeltemal blootgestel aan 'n rampdroogte en sal soos gewoonlik geen hulp van die regering ontvang nie, sê Brink.

“Die regering verstaan eenvoudig nie watter belangrike rol die landboubedryf speel onder baie moeilike omstandighede as die verskaffer van voedsel en ander grondstowwe aan die res van die ekonomie nie, omdat die skep van ekonomiese groei nie 'n deel van sy vernietigende sosialistiese en kommunistiese herverdelingsideologie is nie,” sê Brink.

“Die herverdeling van grond sal ongetwyfeld nog baie groot probleme vir die regering skep omdat baie swart boere in 'n enkele rampdroogte, soos tans ondervind word, heeltemal finansieel geruïneer sal word.”

Brink sê dit beteken die gemiddelde opbrengs vir hierdie seisoen kan enigiets rondom die onderste afwyking van drie ton per hektaar wees.

As altesaam 2 miljoen hektaar, wat baie twyfelagtig is, hierdie seisoen geplant sou word, beteken dit 'n oes van slegs ses miljoen ton. Indien slegs 1,5 miljoen hektaar geplant sou word, kan die totale oes selfs so laag as 4,5 miljoen ton wees, waarsku hy.

Onder hierdie scenario's sal die ongeveer 3,3 miljoen ton mielie-oordragvoorraad, wat na raming beskikbaar sal wees in die land vir die nuwe bemarkingsjaar wat op 1 Mei 2019 begin, nie voldoende wees vir die totale vraag na mielies van tussen tien en 11 miljoen ton vir die land self en Namibië, Botswana, Swaziland en Lesotho nie.

Dit beteken dat mielies teen baie hoër invoerpariteitspryse ingevoer sal moet word, wat hoofsaaklik bepaal sal word deur die veranderings in die internasionale mieliepryse en die wisselkoers.

Volgens Brink kan hierdie omstandighede 'n baie negatiewe uitwerking in 2019 op die ekonomiese groeikoers vir die tweede en die derde kwartaal hê in vergelyking met dieselfde kwartale vanjaar, sowel as die inflasiekoers.

– Netwerk24

Soortgelyk

 

'Boere se veglus verdwyn'

3 ure gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer en Elvira Hattingh - Twee bekende boere van die Suide sê die droogte het boere op hul knieë.“Ek was gister by ’n veiling...

Egpaar herontdek skaars plantjie

3 ure gelede | Omgewing

Denver Kisting – ’n Dekaan by die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust), dr. Rolf Becker, en sy vrou, me. Alma Moller, het verlede...

Kalender 18 Januarie

3 ure gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Die Nasionale Kunsgalery van Namibië (NAGN) bied met trots Unam se beeldende kunste-uitstalling vir 2018 aan. Dié uitstalling is tans...

'DRK maak staat op ons'

3 ure gelede | Politiek

Inwoners van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) maak staat op lande deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) om die land weer op die...

Operasie Hornkranz: Meer misdaad aangemeld

3 ure gelede | Misdaad

Augetto Graig Die Namibiese polisie het Woensdag by die Israel Patrick Iyambo-polisiekollege in Olympia terugvoering gegee aan die visepresident, mnr. Nangolo Mbumba, en die...

Weer vir 18 Januarie

3 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm tot baie warm in die //Kharasstreek, andersins gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met 'n paar tot geïsoleerde donderbuie in...

'Die beste tyd van my lewe'

3 ure gelede | Kuns en vermaak

Lloyd ZandbergDie 22-jarige gebore Namibiër Kyle Farrer verwys na homself as koel en kalm. Jy kan dit aan sy voorkoms sien. Eenvoudig, maar deurdink, ‘n...

Besige jaar vir Windhoek se DBV

3 ure gelede | Omgewing

Mariselle Stofberg- Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Windhoek het 3 695 diere gedurende 2018 ingeneem. Altesaam 2 207 honde, 1 434 katte en 54 ander diere...

Vreemde voetspore is dit toe nie

3 ure gelede | Plaaslik

Francoise Steynberg - Groot was die opgewondenheid van die boer mnr. Frederick de Koker toe hy in November verlede jaar vreemde "voetspore" in rotsformasies naby...