Politieke steun vir /Uirab-aanstelling
Politieke steun vir /Uirab-aanstelling

Politieke steun vir /Uirab-aanstelling

Die lang verwagte aankondiging oor wie die Lughawensmaatskappy gaan lei, is gister gemaak.
Ogone Thlage
Ogone Tlhage – Die nuutaangestelde uitvoerende hoof van die Lughawensmaatskappy (NAC), mnr. Bisey /Uirab, geniet die volle steun van die ministers van werke en vervoer en staatsondernemings, mnre. John Mutorwa en Leon Joose, asook van die voorsitter van die raad, dr. Leake Hangala.

Die aap is gister amptelik uit die mou gelaat oor /Uirab se aanstelling toe hy deur die ministers en Hangala aan die werkgewers van die NAC voorgestel is.

Daar is die afgelope weke wyd gegis oor sy aanstelling by hierdie geknelde staatsonderneming. /Uirab se kontrak as hoof van Namport verstryk in minder as twee maande.

Sy aanstelling saam met dié van Hangala verlede jaar word beskou as strategiese maatreëls deur die betrokke ministeries om die NAC reg te ruk.

Hangala het gister tydens die bekendstelling sy steun aan /Uirab beloof en gesê hy sluit hom by die Lughawensmaatskappy aan in dieselfde tyd wat die opgraderingswerk aan die Internasionale Lughawe Hosea Kutako gedoen word.

“Ek kan jou verseker ons gaan ‘n goeie raad (van direkteure) wees,” het hy aan /Uirab gesê.

Hangala sê /Uirab sal die nodige bestendigheid aan die NAC verskaf, maar het in dieselfde asem gewaarsku die raad sal optree by die geringste aanduiding dat hy nie in sy nuwe pos presteer nie.

“Ons verwag goeie korporatiewe bestuur en as die bestuur of die werknemers laat slaplê, sal ons ingryp,” was Hangala se woorde.

Mutorwa het /Uirab op sy beurt aangemoedig om met die operasionale bedrywighede van die NAC vertroud te raak.

“Geluk met jou welverdiende aanstelling. Ek weet jy het nog 53 dae by Namport oor, maar onthou, van die dokumente wat jy moet lees, is die NAC-dokumente soos die Lughawensmaatskappywet van 1998,” het Mutorwa gesê terwyl hy werknemers versoek het om /Uirab by te staan.

/Uirab het gesê hy is gereed vir dié taak.

“Ek aanvaar hierdie pos met die doel om die mense van Namibië te dien. Ons sal hande vat om ons mandaat en ons taak ten beste uit te voer,” het hy gesê.

Volgens hom is hy voornemens om korporatiewe bestuur te verbeter en ook die moreel van die werkgewers te verbeter.

Sy jaarlikse pakket sal N$2,1 miljoen beloop, wat ‘n maandelikse salaris van N$120 000, ‘n behuisingstoelaag van N$8 000 per maand, N$10 000 as onthaaltoelaag en N$7 000 maandeliks vir sy mediese fonds insluit.

Die NAC het die afgelope sewe jaar ses verskillende uitvoerende hoofde gehad, waarvan sommige permanente aanstellings was en ander net waargeneem het.

Die maatskappy is in 2017 leierloos gelaat toe mnr. Tamer El Kallawi, ‘n Egiptiese burger, onder ‘n wolk van omstredenheid as uitvoerende hoof geskors is. Sy voorgangers was mnre. Matti Asino, Toska Sem en Ben Biwa.

Mnr. Lot Haifidi het daarna vir ‘n tyd lank waargeneem voordat hy bedank het, waarná die voormalige presidensiële woordvoerder, mnr. Albertus Aochamub, vroeg verlede jaar as waarnemende hoof aangestel is.

Sy kontrak is ná net sowat twee maande beëindig, waarná Haifidi weer aangestel is.

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!