Plaaswerker vir stroper aangesien, geskiet
Plaaswerker vir stroper aangesien, geskiet

Plaaswerker vir stroper aangesien, geskiet

'n Uitgebreide soektog na drie vermeende renosterstropers het byna die lewe van 'n onskuldige plaaswerker geëis.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer, Yochanaan Coetzee

en Augetto Graig



'n Plaaswerker is Woensdag tydens 'n stropersoektog naby Outjo twee keer geskiet toe 'n voertuig naby hom stop en hy uit vrees weggehardloop het.

“Ek het langs die teerpad na die pos gestap toe ek 'n motor sien wat na my toe jaag. Ek het nie geweet wat om te dink nie, maar iets het my gesê dit is mense wat ander mense doodmaak,” het mnr. Johannes Haneb (55) van die plaas Trocadero uit sy ­hospitaalbed in die Katurura-staatshospitaal vertel.

“Ek het begin hardloop en net ná ek oor die heining gespring het, het daar twee skote afgegaan. Die een het deur my blad gegaan en onder my sleutelbeen uitgekom en die ander het my elmboog skrams getref. Daar was geen waarskuwingskote nie, niks,” het hy aan Republikein vertel.

Mnr. Hans Menzle, eienaar van die plaas Trocadero waar hy werk, is erg omgekrap oor die gebeure. “Wat vir my snaaks is, is hoe stop jy by 'n man langs die pad en sonder om vrae te vra, skiet jy net. Hy was onskuldig. Ek is ongelukkig oor die hele saak. Johannes werk al tien jaar by my en is 'n baie goeie werker.”

Dié voorval is vooraf gegaan deur 'n soektog van byna 24 uur na drie vermeende renosterstropers wat Dinsdag op 'n wildplaas sowat 30 km daarvandaan opgemerk is.

Die eienaar van dié plaas, waarvan die naam nie genoem word nie om die renosters te beskerm, het 'n eie teenstropingspan in sy diens. “Hulle is goeie spoorsnyers en het my Dinsdag ingelig dat hulle vreemde spore in die veld gesien het.”

Hy sê hulle het die spore gevolg en die drie vermeende stropers in 'n stadium gewaar. “Hulle het waar­skuwingskote geskiet, waarna die mans die toerusting wat hulle by hulle gehad het, neergegooi en net met hulle vuurwapen gevlug het.

“Te oordeel aan die tipe toerusting wat hulle by hulle gehad het, was dit duidelik hulle is nie vleisstropers nie. Ons was seker hulle was agter my renosters aan.”

Die teenstropingspan van die polisie en natuurbewaring wat in die Etosha Nasionale Park gestasioneer is, se hulp is ingeroep om te help soek.

Die polisie en natuurbewaring se soekspan het die vlugtende mans in 'n stadium sowat 25 km van die wildplaas af gewaar. Dit was toe duidelik hulle beweeg in die rigting van die teerpad tussen Outjo en Okaukuejo, vertel die eienaar.

“Nie ek of my span spoorsnyers was by [toe Haneb geskiet is] nie. Ek weet nie wat die omstandighede was nie, maar 'n mens moet onthou almal wat aan die soektog deelgeneem het, het geweet die drie voortvlugtendes het 'n vuurwapen by hulle,” het hy aan Republikein gesê.

Adj.komm. Deon (Dons) Marais, streekskoördineerder vir misdaadondersoeke in Otjozondjupa, het die skietvoorval gister bevestig.

Hy sê Haneb is geskiet toe die polisie hom in hegtenis probeer neem het. “Later is egter vasgestel dat hy 'n plaaswerker is wat op pad was na een van die poste op die plaas, en nie een van die drie verdagtes nie. Al drie ­verdagtes word nog gesoek,” sê Marais.

Die vermoede bestaan dat die drie voortvlugtiges langs die Outjo-Okaukuejo-pad deur 'n voertuig opgelaai is.

Mnr. Pohamba Shifeta, minister van die omgewing en toerisme, het verlede week aangekondig dat stropers ingevolge nuwe maatreëls van die Strafproseswet, geen genade moet verwag nie.

Volgens hom kan lede van die teenstropingseenheid op stropers skiet om hulself te verdedig.

Haneb sê hy het 'n panga by hom gehad toe hy geskiet is. “Ek werk by die pos en dra gewoonlik 'n panga saam met my, veral as ek deur die bos stap. Hulle het my gesê ek moet dit neergooi en stil op die grond sit.”

Haneb oorweeg dit om 'n klag van poging tot moord teen die polisie in te dien.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!