Plaaseienaar aangekla ná raakskoot

'n Klag van poging tot moord is teen 'n plaaseienaar aanhangig gemaak, alhoewel niemand nog in verband met die skietery in hegtenis geneem is nie.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Die vlaag van veediefstal in die Grootfontein-omgewing is die afgelope naweek opnuut tot 'n spits gedryf toe 'n plaaseienaar 'n vermeende veedief met 'n geslagte bees betrap het en hom glo deur 'n voertuig in die been geskiet het.

'n Klag van poging tot moord is aanhangig gemaak, alhoewel niemand nog in verband met die skietery in hegtenis geneem is nie.

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag van die afgelope Sondag, is 'n 23-jarige Namibiër Saterdag omstreeks 20:00 geskiet nadat hy glo saam met 'n vriend gaan “jag” het.

Die plaaseienaar het hom en sy vriend glo gevolg en op hulle geskiet en hy is in die linkerbeen gewond, waarna hy na die Grootfontein-hospitaal geneem is. Sy toestand is stabiel. Volgens die polisie het die voorval op die plaas Otjirukaku op die B8-pad plaasgevind.

Volgens gerugte en foto's van die voorval wat in die sosiale media versprei is, is daar onder meer 'n ­geslagte bees in die 23-jarige en sy passasier se besit gevind. Hy is glo gewond toe daar met 'n jaggeweer op sy motor geskiet is en die koeël die motor binne­gedring het.

Die plaas is digby die John Pandeni-­navorsingsplaas geleë, wat volgens boere in die omgewing 'n “broeiplek” vir veemisdaad is, waarvandaan talle kriminele aktiwiteite na bewering spruit. Veral plase wat aan die staatsplaas grens, het die afgelope jaar onder veediefstal deurgeloop, met een boer by wie net in Oktober en November vanjaar 14 beeste geslag is.

Dit volg ná vyf mans 'n week vantevore in hegtenis geneem is toe hulle 'n dragtige Simmentaler-stoetkoei geslag het wat aan mnr. Mecki Schneider van die plaas ­Okamutombe behoort.

Plaaswerkers het Schneider in kennis gestel hulle het rondom 21:00 honde hoor blaf en geweerskote gehoor in 'n kamp waar sy beeste wei.

Schneider se seun, Reimo, het die polisie in kennis gestel en 'n lokval is gestel met behulp van 'n polisiereservis, die dorp se buurtwag en 'n private sekuriteitsmaatskappy. Hulle het omstreeks 03:30 op 20 November op twee motors afgekom waar die verdagtes besig was om die koei se karkas van een voertuig na 'n ander oor te laai.

Volgens 'n polisieverslag was die waarde van die koei sowat N$35 000.



BRANDPUNTE

Grootfontein blyk 'n brandpunt van vee- en wilddiefstal in die land te wees, asook Witvlei, Kalkfeld, ­Otjiwarongo, Omaruru en sekere dele in die Suide.

Sylvia Goosen wat op die plaas Amrib buite Grootfontein saam met haar man, Willem, boer, sê hulle asook hul bure wat in die vallei boer, loop erg onder diewe deur.

Sedert 2020 is vee ter waarde van N$291 000 net by hulle gesteel.

“Ons het wagters wat permanent saam met die beeste in die veld loop en ten spyte daarvan word hulle nog steeds geslag,” het sy vertel. Sy sê die polisie verleen geen hulp aan hulle nie.

“In Oktober het ons op 'n vars geslagte bees afgekom. Ons het seker 20 polisiemanne gebel. Op die ou einde het ons een van die polisiehoofde gebel wat die beamptes op sy radio probeer roep het, maar hy kon hulle nie in die hande kry nie. Ons het eindelik 'n reservis gekry om ons te help. Hier gebeur net niks nie, niemand word gevang nie.

“Hier in die vallei word boere se beeste van die teerpad of grondpad af met 'n .22-geweer geskiet en opgelaai,” het sy gesê.

By een van hul bure is daar binne twee maande 48 skape helder oordag uit 'n kraal gesteel, terwyl daar by nog 'n buurvrou van haar uithouritperde geslag is.

Nog boere uit die omgewing wat met Republikein gesels het en erg onder veemisdaad deurloop, sluit Silvia von Biljon, Hagen Eggert, Hansie Coetzee en Willie Louw in.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Celta Vigo 4 vs 1 Las Palmas | Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion English Championship: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!