PDM: Stop outomatiese bevordering

Te veel kinders in klasse

01 March 2021 | Politiek
Henriette Lamprecht – Onderwysers in die preprimêre en primêre fase moet “intensief” opgelei word, daar moenie meer as 25 leerlinge in enige klaskamer in primêre skole wees nie en outomatiese bevordering moet gestaak word.

Mnr. Nico Smit van die Popular Democratic Movement (PDM) het die regering daarvan beskuldig dat dit die laaste 30 jaar die land se kinders faal deurdat dit die onderwysstelsel verpolitiseer.

“Ek wonder hoeveel mense is bewus van die getalle kinders wat in graad 8 is en nie kan lees of basiese wiskunde kan doen nie en dit 30 jaar ná onafhanklikwording,” het Smit in die Nasionale Vergadering (NV) gevra.

Met verwysing na graad 11-leerlinge wat nie kwalifiseer om na Gevorderde Vlak (AS) of graad 12 te vorder nie, het hy gesê die ministerie het namens dié leerlinge besluit hulle is nie slim genoeg om hul punte op dié vlak te verbeter nie.

“Daar is ook geen manier waarop hulle na die skool kan terugkeer om graad 11 te herhaal as hulle vanjaar 18 word nie,” het hy gesê.

Smit wou ook van die minister, me. Anna Nghipondoka, weet wat die slaagsyfer vir die Namibiese Kollege vir Afstandsonderrig (Namcol) verlede jaar was. Volgens hom kan hy nie verstaan hoekom die ministerie reken ’n leerling wat nie met kontakonderrig vir die AS-vlak kon kwalifiseer nie, sal dit nou wel tuis kan regkry sonder dié ondersteuning.

“Wat het van die goeie ou dae geword toe ’n leerling ’n gemiddeld van 40% (E) oor ses vakke moes behaal om vir graad 12 te kwalifiseer? Ek het dit ook op goeie gesag dat die slaagsyfer vir AS-vlak moontlik nie meer as 45% is nie. Wat is hierdie drakoniese reëls vir graad 11?”

Hy verwys ook na die Universiteit van Namibië (Unam) wat “blatant” die moontlikheid verwerp het om graad 11-leerlinge vir verdere studies te aanvaar.
Hoewel dié leerlinge by die Internasionale Universiteit vir Bestuur (IUM) of die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (NUST) verder kan studeer, kan hulle moontlik volgens Smit nooit weer vir ’n nagraadse kwalifikasie in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) of in die buiteland registreer nie.

Smit wil weet watter faktore die besluit regverdig vir graad 11 as ’n uitgangsgraad tot universiteit.

Hy verwys na minister Nghipondoka wat die versekering gegee het die leerplan sal baie meer leerlinge toegang tot tersiêre onderrig gee.

“Onder die ou leerplan het tussen 25 000 en 30 000 leerlinge graad 12 gehaal. ’n Skamele 5 000 leerlinge het aan die oorspronklike kriteria vir AS-vlak voldoen en wat tot 7 000 gestyg het toe die kwalifikasies verlaag is om leerlinge met ’n D vir Engels ook toe te laat.”

Hy verwys na Nghipondoka wat aan hom verduidelik het die hersiening van die leerplan sal toegang tot AS-vlak aan selfs voorheen benadeelde gemeenskappe gee en ook toegang tot universiteite. Dit in vergelyking met die vorige leerplan waar sommige streke nie eens skole gehad het wat hoërvlak-kwalifikasies aanbied nie.

Smit wou weet hoeveel onderwysers in die ministerie is wel voldoende gekwalifiseer om op AS-vlak onderrig te gee.

“’n Baie beperkte aantal staatskole bied sekere vakke op hoërvlak aan. Dit klink nie soos ‘die verhoging van toegang tot AS aan meer leerlinge, veral in landelike gebiede’ nie.”

Hy erken die nuwe leerplan is ’n “goeie een”, maar dit is eenvoudig onwerkbaar vir Namibiese omstandighede.

“Hoe kan van ’n leerling verwag word om drie vakke in ’n skool soos Windhoek Hoërskool te doen en om dan byvoorbeeld na ’n ander skool vir fisika en dan weer nog ’n skool vir chemie te gaan”?

Hy wil weet hoe al die graad 11-leerlinge wat nie na die AS-vlak gevorder het nie, die gebrek aan vaardighede gaan takel wat reeds in die land ervaar word.

“Hoe kan ons ons steierende ekonomie verbeter met kinders wat nie opgelei is nie?"

[email protected]

Soortgelyk

 

Robberts bly in aanhouding

9 ure gelede | Howe

Erwin Leuschner – Die 36-jarige mnr. Daniel (Danie) Robberts bly in aanhouding nadat hy na bewering sy vriend, mnr. Thomas Frederick (Frikkie) van Schalkwyk (69),...

Inentings: Namibiërs wag en kyk

9 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – ’n Wag-en-kyk-benadering en voorkeur vir spesifieke entstowwe is van die redes vir die trae reaksie tot die ministerie van gesondheid en maatskaplike...

Living a purposeful life

9 ure gelede | Mense

Rivaldo Kavanga“I would advise the youth to relentlessly go after whatever they desire unlimited. In pursuit of long-term gains and not short term rather.” Ndakondja...

Weer vir 30 Maart 2021

9 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die verre suide en die Zambezi-streek. Elders gedeeltelik bewolk en warm met verspreide donderbuie. Wyd verspreide donderbuie in die...

Huishoudelike geweld gedy in Kavango-Wes

9 ure gelede | Misdaad

Die naweek is drie sake van huishoudelike geweld in die Kavango-Wesstreek by die polisie aanhangig gemaak. Vrydag om 05:00 het ’n 36-jarige man in die...

Running for those who can’t

9 ure gelede | Skole

In honour of cerebral palsy awareness month and as part of a school project, four learners from Windhoek Afrikaanse Privaatskool ran with children, parents and...

Windhoek kry eie ekonomiese plan

9 ure gelede | Regering

Augetto Graig – Die burgemeester van Windhoek, dr. Job Amupanda, sê die regering moenie terugstaan sodat die private sektor die nasie tot werkskepping en ekonomiese...

Ending the double shift system at schools

9 ure gelede | Onderwys

Rivaldo KavangaBet-el Primary School on Friday, 26 March 2021 received three classroom blocks and a storeroom from The Craton Foundation. The classrooms were donated to...

Mej. Namibië: Hier is die top-16

9 ure gelede | Gebeure

Die eerste ronde van die 2021 Mej. Namibië-skoonheidskompetisie het Saterdag in Windhoek plaasgevind waar die top-16-finaliste bekend gestel is.Die finaliste is Andeline Wieland, Shahida van...