Parlement maak virtuele planne
Denver Kisting – Tot watter mate parlementêre sittings voortaan deur middel van virtuele vergaderings sal geskied, sal hoofsaaklik afhang van die koste-implikasies.
Só sê mnr. David Nahogandja, die woordvoerder van die Nasionale Vergadering (NV), by navraag.
Dit kom nadat die speaker, prof. Peter Katjavivi, alle navrae oor die toekoms van die land se wetmakende liggame se werksaamhede na Nahogandja verwys het.
In dié stadium, sê die woordvoerder, “is voorbereidings onderweg om te verseker watter vorm ook al sittings gaan aanneem, kom dit die staandereëls van die NV en die regulasies van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) en Namibië se noodtoestand na wat die stryd teen Covid-19 betref”.
Volgens Nahogandja, behels die tussentydse plan om sessies deels in vertrekke van parlementêre komitees of op kamers met behulp van videokonferensies te belê.
Die verwagte tertafellegging van die begroting aanstaande maand sal waarskynlik op dié manier hanteer word.
Mnr. Penda Ithindi, die ekonomiese raadgewer van mnr. Iipumbu Shiimi, die minister van finansies, het eergisteraand (Dinsdag) gesê Shiimi sal waarskynlik die nasionale begroting op 19 Mei aan die NV voorlê.
Die woordvoerder sê die fokus is tans op hoe om met die “huidige situasie wat Covid-19 betref” om te gaan sodat parlementêre sessies voortgesit kan word én die gesondheid van LP’s en belanghebbendes nie in die gedrang beland nie.
“Die toekomstige vooruitsigte van ’n virtuele parlement sal bepaal word deur die beskikbaarheid van hulpbronne, spesifiek finansies.”
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie