Paaieowerheid se beursie krimp

’n Toekenning van N$2,1 miljoen uit die nasionale begroting is maar ’n druppel in die emmer gegewe die RA se N$1,256 miljard-tekort.
Augetto Graig
Die Paaieowerheid (RA) se geldsake lyk duister ná slegs N$2,1 miljoen tydens die 2018-’19 nasionale begroting aan hulle toegeken is.

Dieselfde bedrag is in die vorige finansiële jaar aan hulle toegeken.

Dié nuus is Woensdag deur mnr. Calle Schlettwein, minister van finansies, aangekondig.

Dít enkele ure ná die raad en hoofbestuur van dié staatsonderneming met die nuwe minister van werke en vervoer, mnr. John Mutorwa, vergader het.

Tydens die betrokke vergadering het die RA se raadsvoorsitter, mnr. Brian Katjaerua, en uitvoerende hoof, mnr. Conrad Lutombi, die minister ingelig van ’n begrotingstekort van N$1,256 miljard vir 2018-’19.

Dít volg ná die owerheid sedert 2015-’16 aansienlik minder geld begin ontvang het as wat voldoende is.

In 2015-’16 het die RA N$3,012 miljard nodig gehad, maar slegs N$2,66 miljard ontvang.

In 2016-’17 het hy N$4,48 miljard versoek, maar slegs N$3,38 miljard ontvang.

Verlede jaar het die staatsonderneming N$5,32 miljard benodig en slegs N$2,73 miljard ontvang.

Vir vanjaar se begroting het die owerheid verwag om N$3,33 miljard te ontvang, terwyl hulle N$4,59 miljard nodig het.

Die RA se ander bronne van inkomste sluit in padgebruikersfooie, wat deur die Padfondsadministrasie (RFA) ingesamel word, en geld van die Duitse ontwikkelingsbank KfW.

Volgens die RA se finansiële jaarverslag vir 2015-’16 het die owerheid in 2016 N$1,34 miljard van die RFA in padgebruikersfooie ontvang.

MINISTER PRYS LEIERS

Lutombi kon nie onmiddellik Woensdagoggend sê met watter minimumbedrag die RA uit die nasionale begroting sou kon oorleef nie, of wanneer die RA se benarde omstandighede tot afdankings en die opskorting van projekte sou lei nie.

Hy en Katjaerua was albei egter vasbeslote dat die owerheid, wat verantwoordelik daarvoor is om die land se paaie te onderhou en te ontwikkel, Namibië se benoeming as die land met die beste paaie in Afrika sal handhaaf.

Die minister het die RA se leiers vir die bereiking van dié mylpaal geprys.

Tussen April 2017 en die begin van Maart vanjaar het die RA 110 km se nuwe teerpaaie gebou en meer as 40 km se nuwe grondpaaie.

Grondpaaie van sowat 300 km is weer geskraap en teerpaaie van 600 km is herseël.

Die algehele toestand van die land se teerpaaie het met 1% verbeter, terwyl die toestand van grondpaaie ook effens verbeter het.

PLANNE EN PROJEKTE

Die RA beplan om die nuwe dubbelpad tussen Windhoek en Okahandja voor die einde van die toepassing van die Harambee-welvaartsplan, teen 2019-’20, te voltooi.

Die MR44 en MR76 vanaf Swakopmund deur Hentiesbaai na Uis en Kamanjab moet ook in dié tyd voltooi word, asook die dubbelpad van die hoofstad af na die Internasionale Lughawe Hosea Kutako.

Die bou van ’n dubbelpad tussen Walvisbaai en Swakopmund word ook vir dié tydperk beplan, asook die opgradering van die pad tussen Karibib, Usakos en Arandis, en ’n dubbelpad vanaf Oshakati na Ondangwa en Omuthiya.

Ander projekte wat intussen voortgaan, sluit in die verlenging van die pad vanaf Onhuno, Endola en Okatana na Oshakati met 40 km, die opgradering van 110 km van seksie A van die Gobabis-, Aminius- en Aranospad en 55 km se opgradering van die Namalubi-, Isize- en Luhononopad.

Mnr. James Sankwasa, adjunkminister van werke en vervoer, het beswaar gemaak toe die RA hom daarvan inlig dat die pad tussen Liselo, Linyanti en Kongola ook nog voltooi moet word - ten spyte daarvan dat oudpresident Hifikepunye Pohamba die pad in 2015 reeds amptelik geopen het.

Sankwasa, wat al sedert 2015 adjunkminister is, het verskeie kwessies geopper wat hy met die RA-leiers wou bespreek.

Dit sluit in die bou van paaie na verafgeleë en minderbevoorregte Namibiese gemeenskappe.

VRAE OOR HOOFKANTOOR

Hy het ook vrae oor die toestand van die RA se nuwe hoofkantoor gevra.

Die gebou van die hoofkantoor is verlede jaar beskou as te onveilig om dit amptelik te laat open.

Kort ná die oorhandiging van die nuutgeboude hoofkantoor is krake in van die ondersteuningspilare gesien en ondersoek is ingestel.

Lutombi het gesê die ingenieurs Bicon Namibië en die hoofkontrakteurs Namibia Construction is beide tans by herstelwerk aan die pilare betrokke, en die gebou sal nie omval nie.

Amsteele, Suid-Afrikaanse spesialiste, is deur die hoofkontrakteur aangestel om die pilare te versterk.

Die RA het tussen N$20 miljoen en N$26 miljoen begroot om vir dié werk te betaal.

Intussen is Bicon nog nie betaal nie en versekeringsfooie is deur die RA teruggehou.

Ná die herstelproses voltooi is, sal oor aanspreeklikheid ooreengekom word en uitbetalings voltooi word, sê Lutombi.

Mutorwa was veral ongelukkig omdat die ondersoekverslag oor die toestand van die gebou nie aan sy ministerie voorgelê is nie, en omdat die owerheid stappe op sy eie gedoen het om die kwessie op te los.

“Ek wil toegang tot die verslag hê. Sankwasa het ook nie die verslag nie. Dit is ’n kwessie van aanspreeklikheid. Ons het ’n afskrif van die verslag nodig. Dit kan nie vertroulik wees nie,” het hy gesê.

Lutombi kon ook nie onmiddellik sê hoe lank die herstelwerk sal duur nie.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!