Paaie in Kaap gesluit weens protes
Die N2 tussen Grabouw en Caledon en die R43 naby Hermanus is gisteroggend weer weens protesaksie gesluit. Die Hermanus-gemeenskapspolisiëringsforum het die oggend bevestig die R43 by Lynxweg en Fisherhaven is gesluit weens betogings in Hawston, net buite Hermanus. Om 06:30 is die pad vir verkeer in beide rigtings gesluit weens motorbande wat brand. Verkeer is na Hemel en Aarde en Karwyderskraal herlei. Die N2 is ook by Botrivier, tussen Caledon en Grabouw, gesluit weens betogings wat weer opgevlam het. Betogers het Dinsdag die strate ingevaar, die N2 versper en munisipale geboue en voertuie aan die brand gesteek. Dit het glo gevolg nadat wetstoepassers ingestuur is om informele wonings in 'n nedersetting af te breek. Agt mense is toe in hegtenis geneem. Foto Netwerk24
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie