Outjo-donkieslagpale krap inwoners om
Outjo-donkieslagpale krap inwoners om

Outjo-donkieslagpale krap inwoners om

'n Chinese maatskappy wil 'n donkieslagpale op Outjo oopmaak.
Tanja Bause
Tanja Bause - Fu Hai Trading Enterprises CC wil 'n slagpale vir donkies op Outjo oopmaak, maar inwoners van die dorp het reeds 'n petisie met sowat 1 600 handtekeninge daarteen by die munisipaliteit ingedien.

Fu Hai Trading Enterprises CC verduidelik in 'n sakeplan van een en 'n kwart bladsy, met die internet as bron, dat hulle van plan is om 120 donkies per dag te slag en sodoende vleis aan 13 streke van Namibië te verskaf.

Die maatskappy se unieke bemarkingstrategie sluit Facebook en LinkedIn in.

Hul teikenmark is volgens die sakeplan afgetrede militêre personeel.

Fu Hai Trading Enterprises CC sê hulle gaan 170 werksgeleenthede skep, en hulle beoog om die donkievleis na Viëtnam, Asië en die res van die wêreld uit te voer.

Die sakeplan sê nie hoe die slagpale se afval hanteer sal word nie.

Die nuutgestigde Outjo-gemeen­skapskomitee (OCC) het intussen in 'n brief aan die munisipaliteit hul kommer oor die oprigting van die slagpale uitgespreek.

“OCC is nie teen nywerhede en ontwikkeling in Outjo nie, ons wil net hê dit moet reg gedoen word. Ons moet seker wees as werksgeleenthede aangebied word, mense nie binne 'n paar jaar afgedank gaan word omdat die besigheid nie volhoubaar is of nie van die begin af reg hanteer is nie,” het mnr. Zayne Kootz van die OCC gesê.

“Die sakeplan bespreek net die handel in donkievleis, dit meld geensins afvalbestuur ná die dier geslag is nie. Daar is tans op internasionale vlak talle besware teen die handel in donkievelle en die onmenslike hantering en slagting van dié diere. Hoe kan ons verseker dit gebeur nie by die Outjo-slagpale nie?” lui die petisie.

Volgens die OCC is daar ongeveer 150 000 donkies in Namibië.

Fu Hai Trading Enterprises CC sê hulle beoog om 120 donkies 'n dag te slag - iets wat nie volhoubaar is volgens die OCC nie.

“Wanneer 'n mens na die syfers kyk, gaan daar binne drie jaar nie meer donkies in Namibië oor wees nie,” het Kootz gesê.

Dorpsinwoners is ook bekommerd oor die moontlike grondwaterbesoedeling van die slagpale.

Outjo gebruik boorgatwater en inwoners is bekommerd oor die moont­like vergiftiging of uitputting van hul ondergrondse water.

“Ons wil weet of die stuk grond wat deur die munisipaliteit aan Fu Hai Trading toegeken is eers vir Namibiërs aangebied is. Is die beskikbaarheid hiervan geadverteer?" lui die brief.

Lede van OCC is deur die gemeen­skap verkies en sluit in mnre. Lucky Nangombe, Philimon Sheya, Jaco Muller, Corrie Smith, Steven Maseka en mee. Maria Diekmann en Lindie Prinsloo.

Kootz tree as woordvoerder tussen die OCC en die munisipaliteit op. 'n Raadsvergadering sal op 27 Maart plaasvind waartydens die publiek se besware bespreek sal word.

“Die stuk grond wat skoongemaak word, is nie spesifiek vir die donkieslagpale nie. Dit is deel van sowat 35 erwe wat vir nywerheidsuitbreiding en -ontwikkeling skoongemaak word. Ons moet nog 'n konsultant aanstel om 'n omgewingsimpakstudie vir die hele gebied te doen. Dit sluit die donkieslagpale in,” het mnr. Joseph Urib, hoof uitvoerende beampte van die Outjo-munisipaliteit, gesê.

“Daar sal nie 'n besluit oor die donkieslagpale geneem word, alvorens die maatskappy wat die aansoek ingedien het, nie die goedkeuring van die ministerie van landbou, water en bosbou gekry het nie. Die ministerie moet goedkeuring gee omdat daar internasionale vereistes vir die uitvoer van donkievleis is,” het Urib gesê.

Die gelatien van die donkie se vel word gebruik om “ejiao” te maak. Ejiao is 'n harde jellie wat in warm water of alkohol opgelos word. Dit word in kos, water of kosmetiese produkte soos gesigroom gebruik. Dit verbeter glo bloedsirkulasie, bloedarmoede, lae bloedseltellings en reproduksie. China het tans nie meer genoeg donkies om ejiao te vervaardig nie, daarom wend vervaardigers hulle na Afrika, waar die donkiebevolking nog gesond en groot is.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!