Oues kuier in Katutura
"Ons wil net bietjie van ons huise af wegkom, bietjie weghardloop van die stres van kinders af."
Maria Eiseb - Dinsdag is kuierdag vir Katutura se bejaardes.
Me. Uamunovandu Zemburuka (57) se huis in die Herero-woonbuurt is waar dié groep oues bymekaarkom, kuier en ontspan.
Volgens Zemburuka het sy sowat 10 jaar gelede besef daar is sekere bejaardes na wie niemand omsien nie.
Sy het besluit om ’n kuiergroep op die been te bring om hulle te help.
Zemburuka sê sy het van huis tot huis in Katutura geloop om uit te vind onder watter omstandighede die oumense leef.
Van hulle het gekla hul kinders versorg hulle nie en Zemburuka het besluit dit is haar plig om hierdie mense na haar huis te nooi om dit wat sy het met hulle te deel, en om hulle die geleentheid te gee om bietjie van die huis af weg te kom.
“Ek het aan die arme oumense gedink wat nie in ouetehuise bly en deur iemand versorg word nie," het sy gesê.
Zemburuka het gesê sy het op ’n dag ’n redelike groepie gryskoppe bymekaargemaak, hoendervelle gaan koop en vir hulle voorgesit.
Sy het drankmisbruik met hulle bespreek en ook hoe hul kinders hulle behandel.
Die bejaardes het ywerig aan die gesprek deelgeneem en hul omstandighede met haar gedeel, het Zemburuka gesê.
“Wat my die hartseerste maak, is dat mense nie vir mekaar omgee terwyl hulle nog leef nie, maar eers as die persoon gesterf het emmers vol trane huil en dan wil wys hoe hulle kamma oor die persoon gevoel het.
"Daar word partytjies ná die begrafnis gehou, maar julle het nie in die lewe vir mekaar omgegee nie,” het sy gesê.
Met verloop van tyd het die oumas en oupas al meer belangstelling in Zemburuka se kuiergroepie getoon en daar is besluit om elke Dinsdag by haar huis bymekaar te kom.
“Hulle kom, dan gesels ons. Ons deel die bietjie wat ek het. Hulle kla steeds oor hul kinders en soms gaan praat ek met die kinders oor die manier waarop hulle hul ouers behandel," het sy bygevoeg.
Ouma Phillipine Nguvauva (67), wat die kuierplek daagliks besoek en ook ’n wag daar is, het gesê die bejaardes hou daarvan om ’n bietjie te ontsnap van die stres by die huis af. Dis ook ’n geleentheid om saam met die ander oumense te kuier.
"Ons kom soek ’n bietjie vars lug," het Nguvauva gesê.
Zemburuka het gesê sy help die bejaardes graag met klein jakkalsies soos munisipale rekeninge, identiteitsdokumente ensovoorts.
Maatskaplike werkers kom lê ook soms by die bejaardes besoek af op Dinsdae “vir ’n lekker geselsie”, het sy gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie