Oudste gekleurde pigment gevind
Die oudste kleur in die geologiese rekord – pienk – is deur Australiese kenners in rotse in die Sahara gevind. Kenners van die Australiese Nasionale Universiteit het dié pienk pigment in molekulêre fossiele gevind. Dit is gemaak deur oer-organismes wat in 'n oseaan geleef het wat lankal nie meer bestaan nie. Dié navorsing is in die vakjoernaal PNAS gepubliseer. Die pigment, wat helderpienk is, is gemaak deur organismes wat toe reeds op fotosintese staatgemaak het. Die fossiele is gevind in die Taoudenni-kom in Mauritanië in Wes-Afrika. Die betrokke oseaan het tussen 1,8 miljard en 800 miljoen jaar gelede daar voorgekom. Die molekulêre fossiele is sowat 1,1 miljard jaar oud en die kenners het dit fyngemaak sodat die organismes daarin bestudeer kon word. Dit het gewys die klein sianobakterieë was dominant in dié oseaan. Alge, wat ook klein is, is baie groter in volume en is 'n ryker voedselsoort. Die sianobakterieë het teen 650 miljoen jaar gelede begin verdwyn en die alge het oorgeneem. Dr. Janet Hope van die Australiese Nasionale Universiteit se skool vir aardwetenskappe hou die flessie vas met die oudste gekleurde pigment (van 1,1 miljard jaar gelede) daarin. Foto Netwerk24/ANU
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie